Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Aftreefondse kán nie gat vir infrastruktuur vul

Die belegging wat deur aftreefondse in infrastruktuur oorweeg word wanneer nuwe wetgewing dit moontlik maak, gaan nie genoeg wees om aan die verwagte tekort aan finansiering te voldoen nie.

Die beplande Msikaba-brug op die nuwe N2-roete aan die Wildekus, wat ons eerste spanbrug sal wees.

Die jaarlikse Sanlam Benchmark-peiling wat onder aftreefondse uitgevoer word, het vanjaar spesifiek die fondse se siening oor infrastruktuurbeleggings gepols.

Die nasionale tesourie het in Februarie konsepwysigings aan regulasie 28 van die Pensioenfondswet gepubliseer ingevolge waarvan fondse ’n bykomende 10% van hul geld in infrastruktuur sal kan belê.

Darryl Moodley, hoof van pasgemaakte beleggings van Sanlam Corporate, sê dit het meer bewustheid oor infrastruktuur as ’n potensiële belegging vir aftreefondse geskep.

“Met die reusepoel geld in aftreefondse van nagenoeg R4 500 miljard is dit waarskynlik iets wat ernstiger oorweeg moet word gegewe die aantreklike opbrengste wat beskikbaar is, asook die maatskaplike doel om ’n beter Suid-Afrika te bou.”

Sanlam sê die pandemie het baie harde realiteite in Suid-Afrika vergroot, soos armoede, die hoë vlakke van ongelykheid en werkloosheid en vinnig verouderende infrastruktuur.

Onvoldoende infrastruktuur in besonder bly ’n groot struikelblok vir die bereiking van die land se ekonomiese groeipotensiaal.

“Die regering het tereg die vraag na sleutel-infrastruktuur as ’n prioriteit en potensiële wondermiddel geïdentifiseer om die breër probleme in die samelewing die hoof te bied.”

Moodley meen dit wil voorkom asof aftreefondse saamstem met die siening dat infrastruktuur ekonomiese groei in Suid-Afrika kan bevorder.

Die peiling toon dat alleenstaande aftreefondse tot 6,6% gemiddeld in infrastruktuur wil belê.

Die deelnemende sambreelfondse het aangedui hulle sal tot 4,7% belê.

Hy sê dit kom neer op amper R300 miljard se beleggings vir die infrastruktuurbedryf.

“Die vraag is of dié vlak genoeg sal wees vir ’n opkomende ekonomie soos Suid-Afrika s’n.”

Daar word beraam dat Suid-Afrika ’n tekort in finansiering van infrastruktuur van R1 700 miljard in die komende tien tot 15 jaar vir inisiatiewe in die water-, vervoer- en energiesektor gaan hê.

“Dit is taamlik baie, maar ongelukkig nog nie genoeg om die R1 700 miljard se finansieringsgaping te oorbrug nie.”

Hy sê ’n rede hoekom daar nie meer belê word nie, is omdat infrastruktuur betreklik kompleks is om as belegging te struktureer.

Dit vereis ook van trustees om ’n goeie begrip van dié soort beleggings te hê.

Hy glo dit gaan opvoeding van trustees benodig.

Volgens hom is daar ook ’n gebrek aan geleenthede.

“Die regering moet meer soorte projekte en meer finansierbare geleenthede beskikbaar stel.”

Die swak groei die afgelope jare het bygedra daartoe dat infrastruktuur nie aandag gekry het nie.

Geld tot 30 jaar vas

Hy sê die illikiditeit van infrastruktuur is waarskynlik die belangrikste rede waarom pensioenfondse lugtig is.

“Wanneer daar in paaie, brûe en waterprojekte belê word, is dit baie illikied. Dis nie soos na die JSE gaan en dit môre verkoop nie. Dit is projekte van tien tot 30 jaar lank en dit maak trustees dikwels huiwerig om in sulke langdurige projekte te belê gegewe hoe moeilik dit is om uit te verkoop.”

Hy meen dit is ’n probleem wat vererger word deur die huidige omgewing met massiewe afleggings en aftreefondse wat lede verloor en omdat daar nou ’n behoefte is om meer likiditeit in fondse te hê.

“As bewaring kan verhoog, behoort dit die vermoë vir meer belegging in infrastruktuur te verbeter.”

Bewaring verwys daarna dat mense nie hul pensioenfondsgeld onttrek wanneer hulle van werk verander nie.

Kanyisa Mkhize, uitvoerende hoof van Sanlam Corporate, sê nog ’n oorweging vir trustees is die koste wat daarmee geassosieer is.

Die koste hou onder meer verband met die kundigheid wat nodig is met sulke projekte.

Moodley sê koste speel ’n groot rol, veral met die tendens in die mark na passiewe beleggings.

Dis moeiliker om infrastruktuurbeleggings in ’n passiewe beleggingsportefeulje in werking te stel gegewe die implikasie vir koste, sê hy.

“Dit is so dat dit die koste van ’n portefeulje verhoog, maar uiteindelik op langer termyn nadat koste afgetrek is, sal ’n mens hoop die opbrengste sal die beleggings die moeite werd maak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.