Die trustees van aftreefondse moet konstant waak teen wanbestuur, korrupsie en die plundering van die swaarverdiende geld van werkers en pensioenarisse, het Ebrahim Patel, nuwe minister van handel en nywerheid, gesê.

Ebrahim Patel, nuwe minister van handel en nywerheid. Foto: Verskaf
Hy het verwys na die totale bates van pensioenfondse in Suid-Afrika, wat R4 200 miljard (in Engels is dit R4,2trillion) beloop. Die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) verteenwoordig omtrent 40% van die totaal.
“Die omvang van aftreefondse se belange beteken hulle besluite het ’n reuse-impak op die nasionale ekonomie.”
Hy was Maandag die hoofspreker op ’n konferensie wat deur Batseta, die bedryfsliggaam vir aftreefondse, gereël is.
Patel het ’n beroep op pensioenfondse se trustees gedoen om goeie korporatiewe bestuur te verseker.
“Julle het ’n fidusiêre plig om te verseker dat die korporatiewe bestuur sterk is, dat fondsbestuurders aanspreeklik gehou word en om te verseker dat daar nie wanbestuur, korrupsie en plundering van die swaarverdiende geld van werkers en pensioenarisse plaasvind nie.
“Dié verantwoordelikheid vereis deurlopende opleiding van trustees oor beste praktyk, asook konstante waaksaamheid. Die ekonomie kan nie dit bekostig om aan te hou die groot prys betaal vir gebreke in korporatiewe bestuur by openbare entiteite soos Eskom of private entiteite soos Steinhoff nie.”
Die ekonomie kan nie dit bekostig om aan te hou die groot prys betaal vir gebreke in korporatiewe bestuur by openbare entiteite soos Eskom of private entiteite soos Steinhoff nie.
Ebrahim Patel
Belê meer in die ekonomie
Patel het ook ’n beroep op trustees gedoen om die private sektor se belegging in die ekonomie te verhoog.
“’n Vennootskap met aftreefondse kan help om BBP-groei én die opbrengs van pensioenarisse ’n hupstoot te gee.”
Die konferensie duur Dinsdag in Johannesburg voort en die tema is “Vennootskappe vir groei – die belofte van pensioenfondse”.
“Die regering se beleggingsveldtog kyk nie net na buitelandse direkte investering nie, maar ook baie sterk na plaaslike belegging om ekonomiese groei te stimuleer.”
’n Trae ekonomie het ’n regstreekse impak op die vertoning van jou algehele portefeulje.
Patel het gesê trustees het ’n “verantwoordelikheid teenoor hul lede om die langtermyn-groeikoers van die ekonomie te help lig”. Dit is volgens hom ’n belangrike “manier om die belofte van pensioenfondse te verwesenlik”.
“Pensioenfondse se beleggings, omdat dit so groot is, hou normaalweg tred met die vertoning van die ekonomie wat jul beleggingswêreld is.”
“ ’n Trae ekonomie het ’n regstreekse impak op die vertoning van jou algehele portefeulje. ’n Groeiende ekonomie lig die hele portefeulje, en help om die waarde en die jaarlikse opbrengs van die portefeulje te verhoog, tot voordeel van die aftreefondslede.”
Hy het ook ’n beroep op fondsbestuurders gedoen om ’n “’n langertermyn-perspektief op opbrengste te neem”.
Volgens hom het Batseta ’n rol om te speel in die ontwikkeling van doeltreffende en duidelik riglyne wat trustees kan gebruik om te bepaal hoe fondsbestuurders dié mandaat uitvoer en om die vertoning oor fondse heen te meet.
“Maak seker julle het sterk stelsels sodat die kaping (van aftreefondsgeld) deur sekere belang vermy kan word, asook vatbaarheid vir steun wat gewerf word vir projekte wat geen intrinsieke meriete het nie.”
Patel se toespraak is opgesom in ’n verklaring wat die departement van handel en nywerheid uitgestuur het.
Patel was voorheen minister van ekonomiese ontwikkeling, ’n departement wat ook nou onder handel en nywerheid val.