Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Oppas om té konserwatief te belê in aftrede

Inflasie is die grootste vyand van jou kapitaal ná aftrede, maar afgetredenes is geneig om heeltemal te konserwatief te belê, wat veroorsaak dat hulle nie inflasie klop nie.

Op 65 het jy potensieel nog ’n beleggingshorison van tot 30 jaar. Daarom het jy steeds groeibates soos aandele in jou portefeulje nodig.

Maar omdat mense hul aftreekapitaal te alle koste wil beskerm, belê hulle eerder in iets soos die geldmark en rentedraende produkte wat dikwels ’n opbrengs van minder as die inflasiekoers lewer.

“Suid-Afrikaanse beleggers het die afgelope aantal jare beslis ’n voorkeur vir konserwatiewe beleggingsopsies getoon namate kontantbeleggings vir ’n tydperk beter as meer riskante aandelebeleggings op die plaaslike mark gevaar het,” sê Pieter Hugo, besturende direkteur van Prudential Effektetrusts.

Prudential is een van die deelnemers aan Volksblad, Jenwil BlouSter Finansiële Adviesdienste, Sanlam en Radio Rosestad se Aftreekongres op 16 Augustus in Bloemfontein.

Beleggers hou egter nie rekening daarmee dat dié prestasie net oor ’n kort beleggingsiklus plaasvind nie, waarsku Hugo.

“Die opbrengs op aandele klop kontant keer op keer op langer termyn.”

Oor die afgelope 40 jaar was die gemiddelde opbrengs op aandele 8%. Dit is beter as die opbrengs van inflasie plus 2% tot 3% wat effekte gelewer het – en sommer heelwat hoër as die inflasiekoers plus 1% wat ’n kontantbelegging gebied het.

“Met ’n onttrekkingskoers van byvoorbeeld 5% per jaar en jou belegging hoofsaaklik in vaste-inkomstebates soos kontant en effekte, sal jy waarskynlik opbrengste verdien van hoër as die 5% wat jy onttrek. Gegewe die lae opbrengs op lang termyn is die kans egter ook baie goed dat jou oorblywende kapitaal nie só sal groei dat jy inflasie klop nie en dus stel jy jou toekomstige inkomste aan risiko bloot.”

Maar hoe gemaak as die aandelebeurs dalk op ’n hoogtepunt is of aan die daal is wanneer jy aftree? Kan ’n mens voorspel wanneer die mark gaan draai en dan vinnig jou geld verskuif van meer konserwatiewe beleggingsinstrumente na aandele toe?

Hugo sê gegewe die talle faktore wat wêreldmarkte beïnvloed, kan niemand konsekwent en met ’n groot mate van akkuraatheid voorspel wat die mark op die kort termyn gaan doen nie.

“Dit is waarom beleggers op lang termyn moet bly belê sodat hulle ook voordeel uit die mark se opswaaie trek.”

Hy sê 2017 was ’n goeie voorbeeld van ’n jaar waarin finansiële markte dit reggekry het om goeie opbrengste te lewer, maar dié opbrengste was baie oneweredig versprei.

“Tot Junie 2017 het Suid-Afrikaanse aandele ’n opbrengs van minder as 5% gelewer, maar teen die einde van die jaar het die indeks van alle aandele 21% gelewer.”

Oor dieselfde tydperk het Suid-Afrikaanse staatseffekte ’n opbrengs van 10,2% gelewer en genoteerde eiendom, wat swak weggespring het, het uiteindelik ’n gemiddelde opbrengs van 17,2% vir die jaar gelewer.

Hy waarsku beleggers wat meer riskante bates vermy het omdat hulle oor vorige teleurstellende historiese opbrengste bekommerd was, sou nie voordeel uit dié lopie kon trek nie.

“Terugskouend was 2017 ’n jaar wat geduldige beleggers beloon het wat in geselekteerde fondse belê was. ’n Benadering wat op waarde geskoei was tesame met aktiewe bestuur en diversifikasie sou vrugte afgewerp het.”

Prudential se Prudential Inflation Plus-fonds wat bestuur word om ’n bruto opbrengs van 5% bo inflasie te verkry oor ’n bewegende driejaartydperk, maar ook om kliënte se belegging te beskerm deur nie ’n verlies oor ’n bewegende 12-maande-tydperk te ly nie, het wel voordeel uit die lopie getrek.

“Ons het nie probeer om gebeure te voorspel en die mark se draaipunt te probeer bepaal nie. Ons het bloot ons posisies aktief bestuur terwyl waardasies deur die jaar gedaal of gestyg het.”

Hy beklemtoon dat dit uiters belangrik is vir ’n belegger om ’n finansiële adviseur te raadpleeg om ’n toepaslike beleggingsplan vir lang termyn uit te werk.

“Dan hou ’n mens by so ’n plan wat die regte mengsel van groeibates het om jou langtermyndoelwitte te bereik.”

  • Die aftreekongres word op 16 Augustus om 17:00 by Summerwood Country Estate buite Bloemfontein gehou.

Toegang is gratis, maar besprekings is noodsaaklik. Bel Caren Eigelaar van Jenwil BlouSter by 051 447 0463 of stuur ’n e-pos na office@jenwil.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1121,56 (1291)
  • Top 40 45851,17 (-7786)
  • All Share 52096,04 (-5000)
  • Resource 10 39712,73 (24243)
  • Financial and Industrial 30 68788,28 (-23394)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.