Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Al hoe meer mense wil aftreegeld onttrek

Die afgelope ruk was daar ’n skerp styging in die getal lede van aftreefondse wat hul geld wou onttrek, bydraes opgeskort het en navraag gedoen het oor die beleggingsprestasie van fondse.

Die Covid-19-krisis het baie mense se inkomste laat daal. Die meeste aftreefondse het mense toegelaat om bydraes te verminder of vir ’n paar maande op te skort. Foto: Pixabay

Sanlam se Benchmark-verslag vir 2020, wat die stand van die aftreebedryf ontleed, toon vanjaar grootliks die invloed van die Covid-19-pandemie en gepaardgaande staat van inperking, wat baie mense hul inkomste of ’n deel daarvan laat verloor het. Dit bring mee dat hulle hul aftreegeld onttrek of nie meer tot hul fonds kan bydra nie.

Die pandemie het ook enorme ineenstortings van aandelebeurse en eiendomsmarkte meegebring en het tot die verlaging van rentekoerse wêreldwyd gelei – in Suid-Afrika is die rentekoers sedert Januarie met 2,75 persentasiepunte verlaag – wat die waarde van aftreefondse erg geraak het.

Onder die syfers oor fondse wat Sanlam bestuur, is:

  • 25% van aftreefondse het lede wat navraag gedoen of gekla het oor die beleggingsprestasie of die waarde van hul portefeulje.
  • 16% van fondse het lede wat toegang tot hul aftreegeld wou kry.
  • 8% van fondse het lede wat finansiële advies gevra het.
  • 5% het lede wat hul beleggings wou verander.

Viresh Maharaj, besturende hoof van korporatiewe verspreiding by Sanlam, sê vanjaar het hulle fondse en aftreekonsultante gevra watter rol hulle dink hulle kan speel om die onmiddellike kontantvloeiprobleme van lede op te los. “Die gewildste siening was dat die beste maatreël is om bydraes tot aftreefondse tydelik op te skort.

26% van werkgewers of fondse het bydraes wel opgeskort. 91% van konsultante het kliënte wat bydraes opgeskort het. “Ons verwag dat dié syfers sou gestyg het sedert die peiling gedoen is,” sê Maharaj.

Die gewildste tydperk was ’n opskorting van drie maande, gevolg deur ses maande. Sommige fondse het bydraes onbepaald opgeskort, wat ’n aanduiding is van die onsekerheid wat heers oor wanneer mense se inkomste gaan stabiliseer.

Die opskortings het gemiddeld R1 500 per maand in lede se sak teruggeplaas.

Volgens Sanlam se berekeninge gaan die opskortings nie ’n langtermyninvloed op aftreefondse se waardes hê nie. ’n Opskorting van ses maande kan die waardes op lang termyn met tussen 1% en 3% verminder. Dis volgens Maharaj ’n klein prys om te betaal in ruil vir die onmiddellike verligting van nood.

Invloed op groeplewensversekering

Min fondse het bydraes vir groeplewensversekering of -ongeskiktheidsdekking opgeskort. Dit weerspieël volgens Maharaj die besef van hoe belangrik dié dekking te midde van ’n gesondheidskrisis is.

Hy waarsku egter dat premies vir lewens- en ongeskiktheidsdekking noodgedwonge ’n paar jaar lank skerp sal moet styg. Verskeie versekeraars het die afgelope paar jaar gesê veral ongeskiktheidseise het baie toegeneem. Ongeskiktheidseise en selfs lewenseise styg in ’n swak ekonomiese klimaat omdat mense se gesondheid, ook hul geestesgesondheid, agteruitgaan as hulle finansiële druk beleef. Nou gaan eise uiteraard weens die Covid-19-pandemie styg.

Maharaj verwag dat voordeelstrukture vir ongeskiktheidseise waarskynlik aangepas gaan word. Die gewildste opsie sal wees om bydraes aan inkomste te koppel, pleks van ’n eenvormige tarief vir alle werknemers.

Beleggingsopbrengs: Wisselvalligheid is die ‘nuwe normaal’

Maharaj sê wisselvalligheid gaan nog lank op finansiële markte voortduur. Aftreefondslede se afkeer in risiko gaan dalk portefeuljes wat beleggingswaarborge of gelykmaking van opbrengste doen, dalk in die nabye toekoms gewilder maak.

13% van aftreekonsultante en 11% van fondse of werkgewers het aangedui hulle sal dit oorweeg om waarborge in te stel vir mense kort voor aftrede.

Gebruik van aftreegeld vir herbou van ekonomie

Sanlam het aftreefondse en -konsultante vanjaar gevra watter hefbome gebruik kan word om die Suid-Afrikaanse ekonomie te herbou. Die gewildste opsie is dat die groot poel onopgeëiste pensioenfondsvoordele gebruik word om arm gemeenskappe te help. Dis die geld van lede of hul naasbestaandes wat nie opgespoor kan word nie.

Daar was steun vir die gebruik van aftreefondse om meer in volhoubare infrastruktuurontwikkeling te belê – juis wat die regering met voorgeskrewe bates wil bereik, hoewel dié opsie baie ongewild was. Impakinvestering – veral beleggings met die grootste moontlike potensiaal om werk te skep en ekonomiese groei aan te help – was ook gewild.

Die Benchmark-verslag word nou reeds sedert 1981 uitgereik.

Meer oor:  Sanlam  |  Aftrede  |  Pensioenfondse  |  Benchmark  |  Aftreebeplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.