Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Staatsrede: ‘Pensioene nog glad nie veilig nie’

Daar is steeds geen waarborg dat Suid-Afrikaners se pensioengeld veilig is nie, ongeag wat pres. Cyril Ramaphosa daaroor in sy staatsrede gesê het.

Dit is die waarskuwing van die vereniging vir die monitering en voorspraak van staatsdienspensioene (AMAGP).

Die OBK se hoofkantoor in Menlyn Maine, Pretoria.Foto: Elvira Wood

Adamus Stemmet, woordvoerder van AMAGP, het Sondagaand in ’n verklaring gesê Ramaphosa se woordkeuse in die staatsrede wys dat die regering nog glad nie afgesien het van die vakverbond Cosatu se voorstel nie.

Cosatu het aan die begin van Februarie voorgestel dat die regering, die Openbare Beleggingskorporasie, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa) en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) ’n finansieringsentiteit met die spesiale doel vorm om Eskom se skuld van meer as R450 miljard met sowat R250 miljard te verminder.

Die OBK bestuur die staat se pensioenfonds (GEPF).

“Die president se keuse van woorde en die konteks waarin dit tydens sy toespraak gekommunikeer is, is dubbelsinnig,” waarsku Stemmet.

Hy wys daarop dat Ramaphosa gesê het “die maatskaplike vennote – vakbonde, sake, die gemeenskap en die regering – is daartoe verbind om geld te mobiliseer om die finansiële krisis van Eskom op ’n finansieel volhoubare wyse aan te pak”.

“Hulle wil dit doen op ’n manier wat nie die pensioengeld van werknemers in gevaar stel óf die integriteit van die finansiële stelsel in gevaar stel nie.”

Stemmet wys daarop dat Ramaphosa nooit gesê het dat pensioengeld nié gebruik gaan word nie.

“ ’n Mens kan nooit te versigtig wees nie. Wat ’n politikus sê en bedoel is nié noodwendig dieselfde nie. Al wat hy gesê het is dat hulle dit nie wil doen op ’n manier wat werkers se pensioen in gevaar stel nie.”

Stemmet sê AmaGP stem saam dat daar gekeer moet word dat Eskom in duie stort, maar hulle is heeltemal gekant daarteen dat GEPF-geld daarvoor gebruik word.

Hy sê dit is een ding om – soos in die verlede – ’n verlies van R2 miljard of selfs R3 miljard af te skryf. ’n “Lening” van R200 miljard is egter iets heeltemal anders.

’n Mens kan nooit te versigtig wees nie. Wat ’n politikus sê en bedoel is nié noodwendig dieselfde nie. Al wat hy gesê het is dat hulle dit nie wil doen op ’n manier wat werkers se pensioen in gevaar stel nie.
Adamus Stemmet, AmaGP

Hy wys daarop dat selfs Tito Mboweni, minister van finansies, in sy mediumtermynbegrotingsrede in Oktober gesê het dat om geld regstreeks in Eskom te stort, “is soos om water in ’n sif te gooi”.

“Ek wil dit duidelik stel: die regering gaan nié Eskom se skuld oorneem nie,” was Mboweni se woorde.

Stemmet sê nou, vier maande later, word daar voorgestel dat die GEPF se geld in hierdie sif gegooi moet word.

Hy wonder hoe daar beplan word om die lening terug te betaal, sou die regering wel die voorstel deurvoer.

“Gaan belasting verhoog word om dit te doen?” vra hy.

Stemmet sê AMAGP wonder verder hoe lank dit gaan neem voordat nog pensioengeld gebruik gaan word om ander sukkelende staatsondernemings te red, as hierdie plan eers deurgevoer sou wees.

“Dit is ook interessant dat Cosatu op 12 Februarie erken het sommige van sy eie lede is bekommerd oor die voorstel dat hul pensioengeld op só ’n wyse gebruik gaan word.”

Die vakbond Solidariteit stem saam met AMAGP dat as pensioengeld eers een keer gebruik word om staatsondernemings se skuld te betaal, dit weer kan gebeur.

Dié vakbond waarsku ook dat hy daaroor bekommerd is dat die staat nie net by die pensioenfonds van sy eie werknemers gaan bly nie. Hy waarsku dat die kans bestaan dat die regering in die toekoms ook private fondse kan dwing om geld aan staatsondernemings te leen.

Dr. Dirk Hermann, bedryfshoof van Solidariteit, het bevestig dat hy reeds ’n brief aan die OBK gestuur het waarin hy hom waarsku dat sou pensioengeld vir Eskom geleen word, hy onmiddellik met regsoptrede sal begin.

Die OBK het reeds twee keer in verklarings gesê dat hy nog geen memorandum ontvang het wat bevestig dat die staat wél Cosatu se voorstel oorweeg nie.

Meer oor:  Solidariteit  |  Gepf  |  Obk  |  Eskom  |  Cyril Ramaphosa  |  Adamus Stemmet  |  Staatspensioenfonds  |  Pensioengeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.