Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
ANC lek weer sy lippe af vir pensioene

Die hoof van ekonomiese transformasie in die ANC het ’n reeks nuwe beleide voorgestel om die ekonomie aan te por en pensioengeld asook die Reserwebank se reserwes is opnuut in die visier.

Enoch Godongwana, hoof van ekonomiese transformasie in die ANC.Foto: Getty Images

Enoch Godongwana se voorstelle aan die ANC kom in ’n tyd waar die regering spartel om ’n ekonomie wat deur die Covid-19-pandemie lamgelê word weer aan die gang te kry.

“Die Covid-19-skok skep ongekende uitdagings – die ekonomiese krisis weens die pandemie is uniek,” sê Godongwana in die dokument van 22 Mei wat Bloomberg gesien het.

“Wêreldwyd is sentrale banke besig om terug te keer na hul oorspronklike rol as banke vir die regering.”

Hoewel die sakesektor en beleggers ’n sterk beroep op die regering doen om die Suid-Afrikaanse ekonomie te ondersteun, kan die dokument die kommer oor staatsinmenging en voorgeskrewe bates verhoog.

In die dokument stel Godongwana voor dat regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse gewysig word om die finansiering van infrastruktuurprojekte deur staatsbeheerde ontwikkelingsinstansies aan te moedig met die gebruik van private kapitaal.

Dit sluit in die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA), waarvan Godongwana voorsitter is.

Suid-Afrika se bates maak hom ‘ryk’

Godongwana stel ook voor dat die Reserwebank help om ontwikkelingsinstansies te finansier deur ’n fonds van R500 miljard te skep. Geld moet ook, volgens Godongwana, vanaf die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) kom, wat R2 130 miljard se aftreegeld van staatsamptenare bestuur.

Godongwana skryf dat die Suid-Afrikaanse finansiëledienstesektor “ons ontluikende land die finansiële ruggraat van ’n ‘ryk plek’ met diep, likiede markte” gee.

Die dokument wyk af van die denke van sommige ANC-leiers dat die staat verantwoordelik moet wees vir ’n groot deel van die belegging in die ekonomie. Dit pleit egter wel vir meer “leiding deur die regering.”

“ ’n Eng en gebrekkige begrip van die ontwikkelingstaat het tot die verkeerde gevolgtrekking gelei dat dit slegs oor openbare beleggings en openbare besit gaan, met ’n gepaardgaande oormaat afhanklikheid van die beperkte fondse van die staat. ’n Ontwikkelingstaat beteken nie noodwendig hoër vlakke van staatseienaarskap nie, maar hoë vlakke van leiding.”

Staatsbank

In ’n onderhoud met die Business Times sê Godongwana die voorstelle kom nie eintlik neer op ’n beroep vir voorgeskrewe bates nie. Die voorstelle beteken eerder net regulasies moet gewysig word sodat pensioenfondse in ontwikkelingsinstansies mág belê as hulle sou wou.

Godongwana het nie oproepe om kommentaar beantwoord nie.

Pule Mabe, woordvoerder vir die ANC, het ook nie op pogings om hom te kontak gereageer nie.

Die dokument stel verder voor dat ’n staatsbank gevorm word. Dié idee is al geruime tyd ’n passie van Tito Mboweni, minister van finansies.

Die dokument soek ook ’n nasionale farmaseutiese maatskappy.

In teenstelling met ander departemente van die regering versoek die dokument egter ’n wegbeweeg van steenkoolkrag en stel eerder voor dat hernubare krag oorneem. Die Sentrale Energiefonds (SEF) moet dus gebruik word om met private beleggers saam te span om in nuwe groenkragprojekte te belê. – Bloomberg, verwerk

Meer oor:  Anc  |  Reserwebank  |  Enoch Godongwana  |  Staatskas  |  Pensioenfondse  |  Voorgeskrewe Bates  |  Staatsbank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.