Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Annuïteite: ‘Dink mooi voor jy dié vrypas benut’

Wees baie versigtig as jy verander aan die persentasie aftreekapitaal wat jy van jou lewende annuïteit onttrek, waarsku kenners ná die tesourie se vier maande lange vergunning waarin pensioentrekkers juis dit mag doen.

Earl van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Allan Gray, wys daarop dat ’n verhoging in jou inkomste dalk tydelik kan help, maar die langtermynvolhoubaarheid van jou inkomste ’n groot knou kan gee. Aan die ander kant gaan dit nie ’n groot verskil op lang termyn maak as jy jou inkomste nou verlaag nie.

   

Wat behels die vergunning?

Die tesourie se vergunning het op 1 Junie van krag geword en stel afgetredenes met lewende annuïteite in staat om meer of minder van hul aftreekapitaal te onttrek.

Oppas om nou jou inkomste uit jou lewende annuïteit te verhoog - veral as jy nog relatief jonk en gesond is in jou aftrede.

Vir die komende vier maande, tot einde September, mag mense die persentasie wat hulle onttrek, verander. Plaas van die band van 2,5% tot 17,5%, sal mense nou 0,5% tot 20% mag onttrek. (Die toegelate onttrekkingskoers vir ouer polisse, wat voor 21 Februarie 2007 uitgeneem is, is 5% tot 20%. Dié mense sal dus nou so min as 0,5% kan onttrek.)

Die vergunning geld ongeag op watter datum hul annuïteit gewoonlik verjaar. Gewoonlik mag die onttrekkingskoers net een keer per jaar verander word op die datum waarop die polis uitgeneem is.

Die batewaarde soos op die laaste verjaardag van die polis word gebruik om die som te maak oor wat die nuwe inkomste moet wees indien mense nou ’n tydelike verandering aanbring.

Hulle mag in die vier maande verskeie kere die onttrekkingskoers verander.

Op 1 Oktober keer onttrekkingskoerse outomaties terug na waar dit was op die polis se laaste verjaardag. Mense wat nuwe polisse uitneem of wie se polis in die drie maande verjaar en wat ’n onttrekkingskoers kies wat buite die 2,5% tot 17,5% lê, moet ook aandui tot watter vlak binne dié band hulle wil hê die koers moet op 1 Oktober terugkeer.

Nog ’n verandering – een wat permanent is en nie op 30 September verval nie – is dat mense met minder as R125 000 in hul annuïteit die volle bedrag as ’n enkelbedrag mag onttrek. Voorheen was dit R50 000.

Die tesourie se doelwit is tweeledig:

  • Bejaardes wat inkomste verloor het of bykomende uitgawes het weens die Covid-19-krisis kan nou hul inkomste verhoog.
  • Dié wat bekommerd is oor die impak wat die krisis op beleggingsopbrengste gehad het, kan nou tydelik minder geld onttrek sodat hulle nie vinniger hul kapitaal opgebruik nie.

  

Is dit goeie nuus?

Rosemary Lightbody, senior beleidsadviseur van die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa), die bedryfsliggaam vir batebestuursmaatskappye en lewensversekeraars, beskou die tesourie se verslapping van die regulasies as ’n “toepaslike en empatiese gebaar”.

Polishouers met hoë blootstelling aan aandele sal baie wys wees as hulle hul onttrekkingskoers tydelik verlaag om te keer dat hul kapitaal weggevreet word, sê Lightbody. Die Covid-19-pandemie het uiterste wisselvalligheid op aandelebeurse veroorsaak – die JSE se indeks van alle aandele het in die eerste kwartaal 21% verloor, hoewel dit sedertdien weer heelwat gestyg het.

Ons is egter bekommerd oor beleggers wat kies om hul onttrekkingskoers te verhoog, aangesien dit waarskynlik kapitaal sal wegkalwe wat reeds onder ernstige druk is weens markwisselvalligheid.
Rosemary Lightbody van Asisa

“Ons is egter bekommerd oor beleggers wat kies om hul onttrekkingskoers te verhoog, aangesien dit waarskynlik kapitaal sal wegkalwe wat reeds onder ernstige druk is weens markwisselvalligheid.

“Om ’n groter deel van jou aftreekapitaal te onttrek, behoort dit absoluut die heel laaste uitweg te wees wat in werking gestel word, en slegs nadat jy ’n volledige ontleding saam met jou finansiële adviseur gedoen het om die langtermynimpak daarvan op jou aftreekapitaal te bereken.”

’n Verhoging van jou inkomste nou kan beteken jy moet later jou gordel baie stywer trek wanneer jou kapitaal begin min raak.

Van Zyl sê in die algemeen is hoeveel inkomste jy uit jou annuïteit onttrek, een van die belangrikste faktore wat bepaal of jou aftreekapitaal lank genoeg gaan hou. Hoe laer die onttrekkingskoers, hoe volhoubaarder is dit op lang termyn, al moet jy dan op ’n kleiner inkomste oorleef.

Hy sê om jou inkomste vir die grasietydperk te verhoog, kan jou dalk nou help, maar jy moet dit so gou as moontlik weer verlaag. “Oënskynlik klein aanpassings aan jou onttrekkingskoers kan ’n groot verskil maak aan die volhoubaarheid van jou annuïteit.”

Hy sê daar is baie min pensioentrekkers wat hul onttrekkingskoers van 2,5% tot 0,5% sal kan verlaag – dit beteken in randwaarde hul inkomste daal met tot 80%. “As jy kan bekostig om jou inkomste te verminder, kan jy dit vermy om verliese in te sluit wat plaasvind as jy ’n hoër inkomste onttrek wanneer markte val. Jy kan meer kapitaal beskikbaar laat wat voordeel kan trek uit potensieel hoër opbrengste in die toekoms.”

Omdat die vermindering egter net vier maande lank geld, gaan ’n verlaging egter op lang termyn nie ’n groot verskil maak nie. Hy bereken dat dit ’n verskil van 0,3% per R1 miljoen aftreekapitaal sal maak.

Wat is ’n lewende annuïteit?

Wanneer mense met ’n aftreefonds aftree, moet hulle minstens tweederdes daarvan gebruik om ’n pensioen te koop. Hulle kan twee soorte annuïteit, of ’n kombinasie van die twee, daarmee koop wat aan hulle ’n inkomste verskaf in hul aftrede.

Met ’n gewaarborgde annuïteit, oftewel lewensannuïteit, word ’n bepaalde inkomste (met of sonder inflasieverwante verhogings) tot beleggers se dood (of die dood van ’n lewensmaat, indien so ’n opsie gekies word) gewaarborg. Die batebestuursmaatskappy of lewensversekeraar dra die beleggingsrisiko.

Met ’n lewende oftewel beleggingsgekoppelde annuïteit besluit beleggers self waar hulle die geld belê en hoeveel jaarliks onttrek word. Beleggers moet dan self hul beleggingspbrengs monitor om te probeer verseker dat hul kapitaal nie opraak voordat hulle, of hul lewensmaat, sterf nie.

Drie faktore bepaal of mense langer gaan leef as hul aftreekapitaal:

  • Watter inkomste hulle onttrek;
  • Hul beleggingsopbrengs ná koste (wat deels deur hul bateklastoewysing bepaal word en deels deur die prestasie van daardie bateklasse in ’n gegewe jaar); en
  • Hoe lank hulle leef.

  

Só lyk die somme

Jenny Gordon, Alexander Forbes se hoof van tegniese beleggingsadvies, gee ’n voorbeeld van hoe dit werk as iemand met aftreekapitaal van R2 miljoen sy onttrekkingskoers tydelik verander.

Polisse wat nié in die grasietydperk verjaar nie

  • Onttrekkingskoers verhoog van 17,5% tot 20%

Iemand wie se onttrekkingskoers op die gewone maksimum, 17,5%, was, het vanjaar R350 000 gekry as ’n jaarbetaling of R29 166 per maand oor 12 maande.

As dit tydelik tot 20% verhoog word, is die totale waarde van die onttrekking R400 000 en sal die persoon dus ’n uitbetaling van R50 000 kry vir dié wat hul geld jaarliks ontvang.

Mense wat hul geld maandeliks ontvang, sal vier maande lank R33 333 ontvang, waarna die bedrag tot R29 166 sal terugkeer. Altesame kry hulle dus nagenoeg R16 669 meer.

  • Onttrekkingskoers verlaag van 2,5% tot 0,5%

Iemand wie se onttrekkingskoers op die gewone minimum, 2,5%, was, het vanjaar R50 000 gekry. Vir iemand wat die geld jaarliks ontvang en waarvan die polis reeds verjaar het, sou dit nie sin maak om die koers te verlaag nie omdat die geld reeds uitbetaal is.

Iemand wie se geld maandeliks uitbetaal word, se pensioen sal verminder van R4 166 tot R833. Dit sal op 1 Oktober weer verhoog tot R4 166.

Dieselfde beginsel is van toepassing op annuïteite wat twee keer per jaar of vier keer per jaar uitbetaal.

Polisse wat in die grasietydperk gekoop word of verjaar (dus tussen 1 Junie en 30 September)

Beleggers mag ’n onttrekkingskoers van 0,5% tot 20% kies, maar moet ook die koers kies wat op 1 Oktober sal geld. Dis veral van toepassing op mense wat hul geld maandeliks, kwartaalliks of twee keer per jaar ontvang.

Mense wat ’n onttrekkingskoers van laer as die gewone minimum van 2,5% kies en hul geld jaarliks ontvang, sal nie in Oktober nog geld kry nie. Hulle sal dan eers met die volgende verjaardag, in 2021, weer hul onttrekkingskoers kan aanpas en dus ’n uitbetaling ontvang.

Mense wat hul geld maandeliks, kwartaalliks of twee keer per jaar ontvang, sal ’n kleiner of groter paaiement vir die grasietydperk ontvang, na gelang van hul gekose onttrekkingskoers, waarna dit sal terugkeer na die bedrag vir die koers wat vir 1 Oktober gekies is.

  

Moet jy jou geld skuif?

Van Zyl waarsku daarteen dat pensioentrekkers na minder riskante bateklasse moet skuif terwyl die mark swak is.

Die probleem is dat dit haas onmoontlik is om ’n skuif terug op die regte tydstip te doen om weer voordeel te trek uit markstygings.

Pynlik soos dit is, sal beleggers meer waarskynlik hul langtermyndoelwitte bereik as hulle hou by hul vereiste batetoewysing regdeur hoogs wisselvallige markte.
Earl van Zyl van Allan Gray

Hy gebruik as voorbeeld iemand wat in April 2009 ná die groot markdaling van Maart 2009 geld uit Allan Gray se Balanced Fund na die Bond Fund skuif, en dit weer in Januarie 2010 terug na die Balanced Fund skuif toe dié fonds weer op dieselfde vlak as voor die markdaling was. Teen April 2020 – tien jaar ná die markkrisis – sou beleggers wat geskuif het, 23% minder aftreekapitaal hê. “Pynlik soos dit is, sal beleggers meer waarskynlik hul langtermyndoelwitte bereik as hulle hou by hul vereiste batetoewysing regdeur hoogs wisselvallige markte.”

Van Zyl sê hoewel die opbrengs op aandele die afgelope vier jaar skaars inflasie geklop het, bly hulle optimisties oor die langtermynpotensiaal van aandele, selfs te midde van al die risiko’s. “Die pryse vandag op die mark vir baie sterk ondernemings wat die ekonomiese krisis behoort te oorleef, dui daarop dat daar aanloklike beleggingsgeleenthede is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.