Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Brandarm oudag dreig vir al hoe meer mense

Nou meer as ooit tevore moet Suid-Afrikaners wakker skrik of hulle stuur af op ’n brandarm oudag.

Die somme klop nie... Die meerderheid Suid-Afrikaners sal hul leefstyl moet afskaal ten einde in hul aftrede die wolf van die deur te hou.

Dis die gevolgtrekking van 10X Investments se derde jaarlikse Retirement Reality Report, ’n verslag wat vanjaar midde-in die finansiële implikasies van die Covid-19-krisis gedoen is.

Die verslag wys aan die een kant op die enorme onkunde wat oor aftreebeplanning heers.

46% van werkende Suid-Afrikaners dink byvoorbeeld minder as 30 jaar is lank genoeg om vir aftrede te spaar. Dis ondanks die aftreebedryf se herhaalde pogings om die boodskap tuis te bring dat jy eintlik 40 jaar lank minstens 15% van jou inkomste moet spaar (en boonop onderhewig aan ’n goeie opbrengs teen ’n lae koste) om net ’n halwe kans te staan om jou leefstyl in jou goue jare te kan volhou.

k

Nie minder nie as 18% reken hulle het nie ’n aftreeplan nodig nie omdat hulle nooit gaan ophou werk nie. Dis nie ’n verwagting wat tred hou met die realiteit waarin mense onderhewig is aan afleggings of gedwonge aftrede nie – om nie te praat daarvan dat siekte jou kan verhinder om aan te hou werk nie. 37% van afgetredenes wat aan die peiling deelgeneem het, het aangedui hulle is gedwing om af te tree voordat hulle finansieel gereed was daarvoor.

k

Benewens dié soort wensdenkery voer ongeërgdheid die botoon. 29% van werkende Suid-Afrikaners wat nie ’n aftreeplan het nie, reken eenvoudig nie aftreebeplanning is ’n prioriteit nie.

k

’n Ontstellende 60% van mense wat wel ’n aftreefonds by hul werkgewer het, weet min of niks van wat in die fonds aangaan nie. Dit beteken ook hulle het geen benul of hul fonds goed genoeg vaar om vir hulle ’n gerieflike aftrede te verseker nie. 10X sê dis ontstellend dat mense nie persoonlik verantwoordelikheid aanvaar nie, gegewe dat die hedendaagse werkslewe beteken mense verander meer gereeld van werk en dus van aftreefonds.

k

10X sê daar is eintlik geen silwer randjie in die verslag nie. Dit lyk regtig nie asof jare lange pogings om mense in te lig oor die finansiële nood wat hulle ná aftrede in die gesig staar, enigsins vrugte dra nie. Die wetgewing wat aftreefondse dwing om aan mense voorligting te gee oor hul korporatiewe aftreeplan, blyk ook nog nie ’n invloed te hê nie.

Die boodskap dat mense nie al hul aftreegeld moet onttrek wanneer hulle van werk verander nie omdat hulle nooit die verlies aan saamgestelde opbrengs kan inhaal nie, sink ook nog nie in nie. Inteendeel, vanjaar het 62% van mense wat ’n aftreefonds verlaat het, die volle bedrag in kontant onttrek – dis nou nadat hulle ’n baie groot bonus vir Jan Taks gegee het. Dis teenoor 16% in 2019.

Die batebestuursfirma is bekommerd dat 2021 se verslag selfs droewiger gaan wees, want vanjaar se peiling is aan die begin van die Covid-19-pandemie gedoen en weerspieël nog nie almal wat hul werk verloor het en bes moontlik al hul aftreespaargeld onttrek het nie.

Chris Eddy, 10X se beleggingshoof, het dié week in ’n aanlyn voorlegging oor die verslag gesê uiteraard is ’n mens sensitief daarvoor dat mense aftreebeplanning op die lange baan skuif indien hulle werklik finansieel vasgebrand het en nie andersins kos op die tafel kan sit nie.

Dis waarom die maatskappy hoop dat Covid-19 vir baie mense ’n wekroep was – ’n aanduiding van wat jou voorland ná aftrede gaan wees as jy geen spaargeld het om op terug te val nie.

“Covid-19 het regtig uitgelig hoe min kontantreserwes of noodfondse mense het. Toe hul inkomste skielik verminder of heeltemal uitgewis is tydens die inperking, was hul aftreespaargeld hul enigste bron van kontant,” luidens die verslag.

10X sê die feit dat 56% van mense sonder ’n aftreeplan sê hulle kan nie bekostig om vir aftrede te spaar nie, kan nie net aanvaar word nie. Meestal is dit ’n teken dat mense se prioriteite nie reg is nie – in ag genome dat die peiling gedoen is onder huishoudings wat minstens R8 000 per maand verdien, nie onder mense wat net op staatstoelae oorleef nie.

10X waarsku as mense nie nou, terwyl hulle nog werk, hul uitgawes met tussen 5% en 10% verminder sodat hulle daardie geld vir aftrede kan spaar nie, sal hulle wanneer hulle aftree, hul lewenstandaard met tot 90% moet laat val.

“Mense kan regtig nie bekostig om nié vir aftrede te spaar nie. Om spaar vir aftrede te sien as ’n luukse eerder as ’n noodsaaklikheid is uiters problematies. Mense se oorlewing wanneer hulle oud is, moet ’n noodsaaklike oorweging wees, nie iets met ’n lae prioriteit nie.”

Het mense ’n aftreeplan?

Net 6% van Suid-Afrikaners het ’n weldeurdagte aftreeplan wat hulle uitvoer, ’n persentasie wat onveranderd is sedert 2019. Dit stem dus ooreen met die 6% van afgetredenes wat hul leefstyl in aftrede sal kan handhaaf, volgens ’n syfer uit ’n 2013-verslag deur die nasionale tesourie wat gereeld aangehaal word.

k

Nog 24% het darem ’n goeie idee wat hulle doen en 20% het ’n vae plan.

49% van Suid-Afrikaners het geen aftreeplan nie. Dis teenoor die 46% in 2019, met ander woorde mense se aftreebeplanning verswak, eerder as verbeter.

Is ’n plan genoeg?

Uit die mense wat sê hulle het inderdaad ’n aftreeplan, is 75% nietemin bekommerd of hul geld genoeg gaan wees wanneer hulle aftree. In 2019 was dit 72%.

Die kommer was nie net beperk tot mense met ’n lae inkomste nie – 76% van mense met ’n huishoudelike inkomste van tot R50 000 voel so en ook 72% van mense wat meer as R50 000 per maand verdien.

k

Ondanks dié kommer, meen 68% van mense hulle sal hul lewenspeil in hul aftrede kan volhou.

k

“Dié teenstrydigheid dui op die algemene verwarring oor wat vereis word om mens se leefstyl ná aftrede te kan volhou… Dit lyk nie asof mense die kolletjies verbind tussen nou belê en die handhawing van hul leefstyl in aftrede nie.”

Gemiddeld glo 77% hulle sal ná aftrede moet aanhou om geld te verdien. Dis ook verspreid onder alle inkomstegroepe: 79% van mense in huishoudings wat minder as R20 000 per maand verdien, glo hulle sal moet aanhou werk, maar ook 74% van mense wat meer as R50 000 per maand verdien.

10X sê daar is druk op ouer mense om af te tree weens hoë werkloosheid en Suid-Afrika se jong bevolking, wat die verwagting dat hulle net sal kan aanhou werk, onrealisties maak. 37% van afgetredenes het inderdaad aangedui hulle moes aftree voordat hulle emosioneel of finansieel gereed was daarvoor.

10X sê dié antwoorde wys dat dit nie genoeg is om ’n plan te hê nie – dit moet ook “doeltreffend en realisties wees, en dit moet uitgevoer word. ’n Werkbare plan vereis ’n spesifieke doelwit en ’n strategie om dit te bereik.”

k

Die maatskappy sê daar is geen verskoning vir Suid-Afrikaners se onkunde oor hoeveel hulle vir aftrede moet spaar en hoe hulle dit kan bereik nie – aanlyn gereedskap is geredelik beskikbaar wat vir mense kan bereken hoeveel geld hulle nodig het en hoeveel hulle elke maand moet spaar om dit te behaal.

Hoeveel moet jy vir aftrede spaar?

Heelwat uitgawes val met aftrede weg. Dit sluit in die koste van vervoer, werkklere en maaltye in kantiens of koffiehuise.

Ideaal gesproke onderhou jy ook nie meer jou kinders nie en is jou huis afbetaal.

Jy het ook ’n laer belastingkoers en hoër belastingkortings as jy 65 jaar oud word en dan weer as jy 75 jaar oud word.

Jou uitgawe om vir aftrede te spaar, val ook weg.

Ander uitgawes, soos gesondheidsorg en vermaak, kan dalk styg, maar in die algemeen daal mense se uitgawes.

10X reken dat mense moet mik om minstens 60% van hul finale salaris te kan vervang met hul aftreegeld. Dit sal egter wissel na gelang van mense se individuele omstandighede en ook hul verwagtinge oor hoe hul aftrede gaan lyk.

Vroue en aftrede

Meer vroue as mans het nie ’n aftreeplan nie. 53% van vroue het geen plan nie en net 5% het ’n deurdagte plan. Dis teenoor die gemiddeld vir almal van 49% en 6%.

Maar ’n plan op sigself is ook hier geen waarborg nie. Volgens 10X se verslag belê vroue oënskynlik baie konserwatiewer.

As mense gevra word watter soort belegger hulle is, kies 32% van vroue die opsie dat hulle net kontant spaar (teenoor 28% van mans). Net 13% van vroue sê hulle belê in ’n verskeidenheid beleggings ten einde groei te verseker – teenoor 22% van mans wat dié opsie kies.

Vir albei geslagte is die grootste persentasie steeds mense wat glad nie spaar of belê nie, maar dis hoër vir vroue (44%) as vir mans (37%).


Meer oor:  Aftrede  |  Aftreebeplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.