Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
‘Breek OBK se greep op staats se pensioene’

’n Burgerlike groep wat gestig is om sy lede se pensioenbelange teen wanbestuur en politieke gryplus te beskerm, vra die Mededingingskommissie om die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se ystergreep op staatspensioene te verbreek.

Die OBK se hoofkantoor in Menlyn Maine, Pretoria. Foto: Elvira Wood

Die organisasie, genaamd Pensioenbeskermer, vra dat die meer as R2 duisend miljard wat die OBK tans bestuur, tussen minstens tien fonds- en beleggings­bestuurders verdeel word.

Adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementslid wat nou gemoeid was met die stryd van 52 000 lede van verskillende Transnet-pensioenfondse om billike uitbetalings te kry, is een van die stigterslede en voorsitter van Pensioenbeskermer. Die stryd, wat jare geduur het, is verlede jaar geskik met verskeie addisionele uitbetalings aan lede.

Adv. Ig Bredenkamp, uitvoerende direkteur van Pensioenbeskermer, sê die Transnet-geval en politieke gedienstigheid van die OBK is klassieke voorbeelde van “wanbestuur, batestroping deur werkgewers, misdadigheid en swak beleggingsbesluite” wat pensioenfondswaardes vernietig. Die doel van pensioene is juis om pensioentrekkers tydens aftrede van sekuriteit en ’n billike en regverdige pensioeninkomste te voorsien, sê hy. Volgens hom is pensioene onder beleg.

Pensioenbeskermer het die afgelope week ’n klag by die Mededingingskommissie ingedien wat daarop gemik is om ontslae te raak van die monopolie wat die OBK het om die beleggingsportefeuljes van die Staatsdienspensioenfonds (GEPF), Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) en verskeie ander fondse, hoofsaaklik in die openbare sektor, te bestuur.

Die OBK is die grootste fondsbestuurder op die vasteland en beheer daardeur meer as 10% van die aandelebelange wat op die JSE genoteer is.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Maart verlede jaar ’n verslag van meer as 1 000 bladsye bekend gemaak waarin regter Lex Mpati bevind het daar was grootskaalse gekonkel met beleggingsbesluite by die OBK. Sy bevindings is gegrond op ’n ondersoek wat meer as ’n jaar geduur het.

Die OBK het in Desember verlede jaar gesê hy het reeds twee derdes van die Mpati-kommissie se aanbevelings uitgevoer, maar openbare vertroue in die fondsbestuurder is steeds erg geknou.

Pensioentrekkers is veral bekommerd oor sprake dat die OBK hul pensioengeld kan gebruik om Eskom uit sy finansiële verknorsing te red.

In ’n beëdigde verklaring ter ondersteuning van Pensioenbeskermer se klag sê Piet Smit, ’n rekenmeester en direkteur van die organisasie, die OBK het sedert sy inkorporasie in 2005 alleen die fondse van die GEPF en verskeie ander staatsfondse bestuur.

Dít is volgens Smit ’n ontoelaatbare monopolie wat strydig is met die doel van die Mededingingswet, naamlik ekonomiese ontwikkeling, mededingende pryse en keuses vir verbruikers en gelyke toegang tot markte vir klein ondernemings.

Hy beklemtoon veral kleiner beleggings- en fondsbestuurders word uitgesluit weens die OBK se oorheersing.

Hy vra dat die werk verdeel word onder minstens tien verskillende fonds- en beleggingsbestuurders, elk met minstens tien jaar ervaring, en dat hul aanstellings op ’n wettige en deursigtige wyse moet geskied.

Prof. Willem Boshoff, mede­direkteur van die Universiteit Stellenbosch se sentrum vir mededingingsreg en ekonomie, sê: “Intuïtief en ekonomies” wil ’n mens vra: Hoekom nie die mark oopstel vir meer fonds- en beleggingsbestuurders nie?

Die kommissie sal volgens hom eers moet bepaal of die OBK en sy kliënte onderhewig is aan die Mededingingswet en daarna die bepaalde mark definieer.

Selfs al is die OBK nie die enigste verskaffer nie, is dit hoogs waarskynlik dat die kommissie sal bevind hy is wel dominant in die mark, sê Boshoff.

Die volgende vraag is of die ooreenkoms tussen die OBK en sy kliënte eksklusief is en mededingers dus onregmatig uitsluit.

Hy sê as die kommissie in die klaers se guns beslis, sal hy sy remedie nie noodwendig in soveel besonderhede klee deur byvoorbeeld ’n spesifieke getal fondsbestuurders voor te skryf nie.

Die kommissie sal eerder beveel dat enige eksklusiwiteitsbepalings verwyder word en dit dan aan die fondse se trustees oorlaat om te besluit oor die fondsbestuurders wat hulle wil gebruik.

Dán, meen hy, kan die lojaliteit van amptenare wat as trustees dien die skaal steeds in die OBK se guns laat swaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.