Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
DA beplan regstappe om pensioene te beskerm

Die DA raadpleeg sy regsadviseurs oor watter regstappe hy kan doen om ’n stokkie te steek voor die regering se planne om pensioengeld as reddingsboeie vir sukkelende staatsondernemings te gebruik.

Natasha Mazzone, DA-LP Foto: Getty Images

Die DA sê Woensdag in ’n verklaring hy gaan “alles in sy vermoë doen” om te verseker dat pensioenfondse nie gedwing word om in staatsondernemings te “belê” nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag die sterkste aanduiding tot nog toe gegee dat pensioenfondse wel ingespan

gaan word om reddingsboeie na onder meer Eskom te gooi. Hy het met die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) in Kaapstad gepraat en gesê hy verstaan hoekom baie mense bekommerd is oor die idee dat hul pensioengeld gebruik kan word om in ’n staatsonderneming te belê wat ’n verlies ly. Volgens Ramaphosa is Eskom egter midde-in ’n omkeerplan en sal die pensioengeld in ’n “hernude, hervormde, niekorrupte” Eskom belê word.

Natasha Mazzone, DA-LP, dink dié idee is bog.

“Eskom is ’n groot swart gat wat nie in staat is om betroubare krag aan Suid-Afrikaners te verskaf nie,” het sy Dinsdag in ’n verklaring gesê.

“Dit is gewetenloos van pres. Ramaphosa om so te probeer om die vakbonde te behaag oor hul idee om pensioengeld in ’n eindelose gat van skuld te gooi.”

Volgens Mazzone is dit immoreel en irrasioneel om “honderdduisende Suid-Afrikaners tot armoede te verdoem” deur hul pensioengeld aan die “sinkende skip” wat Eskom is bloot te stel.

Die DA berei hom nou voor om selfs tot in die konstitusionele hof dié plan te beveg.

Ghaleb Cachalia, DA-LP, sê in ’n aparte verklaring Dinsdag die president moet ook ophou leë beloftes maak.

Cachalia verwys na Ramaphosa se verdere onverwagse U-draai Maandag op die Sanef-byeenkoms dat hy dit wel sou oorweeg dat Eskom van sy kragstasies verkoop. Dié idee is reeds in 2019 geopper, maar is toe summier deur Ramaphosa verwerp. Nou skielik wil die president dit skynbaar oorweeg, sê hy.

Cachalia dink dié soort privatisering van Eskom se opwekkingseenhede is een van die min dinge wat nog die kragreus kan red en die kragkrisis kan help oplos.

“Energiesekerheid ís haalbaar as Eskom se monopolie verbreek word,” sê Cachalia. “Dit is tyd om krag aan die mense te gee en Eskom se kragstasies te verkoop.”

Die DA sê egter hy sal sy opgewondenheid hieroor in toom hou en eers kyk of Ramaphosa daad by woord sit en of dit net nog leë beloftes is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.