Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Dís waarom Absa-pensioen nie vanjaar styg
A new corporate logo sits on the branded hi-vis ja
Absa se nuwe logo wat in 2018 bekend gestel is. Foto: Getty Images

Pensioentrekkers van die Absa-pensioenfonds is diep ontevrede omdat hulle nie soos gebruiklik in April ’n verhoging ontvang het nie.

Die fonds skryf dit toe aan swak beleggingsopbrengste en sê die pensioenfonds is nie die enigste een wat nie verhogings toegeken het vanjaar nie.

Daar is steeds die moontlikheid van ’n verhoging vanjaar, hoewel dit skraal is. “Dit is ongelukkig te betwyfel of die finale posisie wesenlik sal verskil van wat tans geprojekteer word,” sê Charles Erasmus, voorsitter van die fonds, in ’n brief aan pensioentrekkers wat Netwerk24 onder oë gehad het.

Die besluit oor die verhoging is uitgestel tot “wanneer ’n omvattende aktuariële waardasie van die fonds afgehandel sal wees”, wat naby Oktober verwag word.

Ondanks die besluit om geen verhoging toe te ken nie, verseker Elrina Wessels, hoofbeampte van die fonds, dat die fonds finansieel gesond is.

Sy sê hulle is baie “sensitief vir die probleme wat pensioentrekkers moet trotseer, gegewe die huidige ekonomiese klimaat”, maar die fonds het in 2018 ’n opbrengs van 0% opgelewer.

Volgens Wessels word die opbrengs deur ’n aktuaris gelyk gestryk om korttermyn-wisselvalligheid in die mark uit te skakel, maar selfs ná dié proses was die opbrengs 0%.

“Die eerste en belangrikste verantwoordelikheid van die trustees is om die voortgesette finansiële gesondheid van die fonds te monitor, en dit kan kategories gestel word dat die fonds steeds in ’n finansieel gesonde posisie is en al sy verpligtinge aan lede, sowel as aan pensioentrekkers, kan nakom.

“Dié posisie moet beskerm word, en die trustees wil onder die huidige omstandighede seker wees van die algehele finansiële toestand van die fonds voordat enige pensioenstygings oorweeg kan word.”

Die pensioenfonds bestaan uit nagenoeg 30 000 Absa-werknemers wat nog daartoe bydra, sowel as nagenoeg 9 000 pensioentrekkers.

Met aftrede kan pensioentrekkers verskeie keuses uitoefen. Een daarvan is om ’n lewensannuïteit – dus ’n gewaarborgde pensioen – te kies. Dié annuïteit is ’n met-wins-annuïteit.

’n Met-wins-annuïteit beteken pensioentrekkers ontvang jaarliks ’n verhoging wat grootliks deur die beleggingsopbrengs van die fonds bepaal word. (Dit is dus anders as ’n inflasie-gekoppelde annuïteit, wat verhogings van die inflasiekoers waarborg, maar beteken ook pensioentrekkers kan groter verhogings kry in jare waarin die beleggingsopbrengs hoër is as die inflasiekoers.)

Pensioentrekkers se pensioen mag nooit verminder word indien die Absa-fonds ’n negatiewe opbrengs oplewer nie, maar ’n verhoging word nie gewaarborg nie.

Wessels sê die Absa-pensioenfonds het die afgelope paar jaar konsekwent verhogings van meer as die inflasiekoers toegestaan.

Erasmus skryf: “Die gevolg hiervan is dat selfs ’n nul-verhoging vir die meeste pensioentrekkers in effek steeds sal beteken dat die koopkrag van hul pensioene sedert aftrede kumulatief steeds volgehou kon word.”

Erasmus skryf die fonds belê ’n groot deel van sy bates in aandele “omdat daar steeds verwag word dat dit op lang termyn die hoogste opbrengs vir die fonds sal lewer”.

“Die huidige stand van die Suid-Afrikaanse ekonomie is nie gesond nie, soos getuig uit die feit dat die aandelebeurs in 2018 ’n negatiewe opbrengs van 10% opgelewer het,” sê Wessels.

“Dit is vererger deur die swak opbrengs van 2016 en 2017. Die gemiddelde jaarlikse opbrengs op die Suid-Afrikaanse aandelebeurs die afgelope drie jaar was nagenoeg 3%.

Die huidige stand van die Suid-Afrikaanse ekonomie is nie gesond nie, soos getuig uit die feit dat die aandelebeurs in 2018 ’n negatiewe opbrengs van 10% opgelewer het.
Elrina Wessels

“Vantevore het ons in sulke gevalle voordeel getrek uit ’n swakker rand, wat hoër groei vir die fonds van sy buitelandse aandele-beleggings opgelewer het en in ’n mate die negatiewe uitwerking van lae aandelegroei teengewerk het. Dit was nie in 2018 of die voorafgaande twee jaar die geval nie.”

Erasmus skryf heelwat ander pensioenfondse bevind hulle in dieselfde bootjie. “Hoewel daar sommige fondse is wat wel pensioenverhogings toegestaan het, is dié verhogings meestal toegestaan vanaf Januarie 2019, wat beteken dat dit goedgekeur sou moes gewees het voordat die negatiewe opbrengste wat gedurende die laaste kwartaal van 2018 ondervind is, ten volle in ag geneem kon word.”

Maria Ramos

’n Pensioentrekker wat 24 jaar lank vir Absa gewerk het voordat hy twee jaar gelede afgetree het, sê hy dink nie dis billik dat Maria Ramos, voormalige uitvoerende hoof, in 2018 ’n vergoedingspakket van nagenoeg R30 miljoen gekry het, maar mense wat “ons hele lewe opgeoffer het vir hulle” geen verhoging kan kry nie.

Hierop antwoord Wessels die Absa-pensioenfonds is ’n afsonderlike regsentiteit en onafhanklik van die Absa-groep. Dit word heeltemal onafhanklik deur ’n raad van trustees bestuur, in pas met die geregistreerde reëls van die fonds. Die rol van trustees word uitgestippel in die Pensioenfondswet.

“Die Absa-pensioenfonds is daarom nie in ’n posisie om kommentaar te lewer op die salaris van Ramos of enige ander werknemer nie, aangesien dit gegrond is op ’n ooreenkoms tussen Absa en die spesifieke persoon.”

Meer oor:  Absa  |  Maria Ramos  |  Geldsake  |  Aftrede  |  Verhoging  |  Pensioen  |  Pensioenfonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.