Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Fondse kap gedwonge belegging in Eskom
aftree, aftrede, pensioen,
Is jou sake in orde vir wanneer jy eendag aftree? Foto: Unsplash

Dis glad nie so eenvoudig om van private pensioenfondse te verwag om in Eskom te belê nie.

Dit sal boonop al die positiewe aspekte van Tito Mboweni, minister van finansies, se afgelope begrotingsrede ongedaan maak én sal onvermydelik tot ’n afgradering deur Moody’s lei.

Só meen Leon Campher, uitvoerende hoof van die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa), die liggaam wat batebestuursfirmas en versekeraars in die land verteenwoordig.

Campher is vir kommentaar genader oor Mboweni se opmerking in die nuuskonferensie voor sy begrotingsrede dat Cosatu se plan om Eskom te red deur die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) te vra om in Eskom te belê, “’n goeie idee” is. “As ons die pensioenroete gaan, moet dit almal van ons wees. Dit kan nie net staatsamptenare se pensioene wees nie – dit moet alle pensioene wees.”

Campher sê om in Eskom te belê, is nie so eenvoudig as wat dit klink nie. “Aangesien Eskom nie nog skuld kan aangaan nie, sal bestaande skuld omgeskep moet word in aandele, wat ongenoteer sal wees aangesien Eskom ’n staatsonderneming is.

“Ongenoteerde aandele kom met enorme likiditeitsrisiko, veral in die geval van ’n kontantarm staatsonderneming, wat ’n probleem is vir pensioenfondse wanneer hulle voordele moet uitbetaal wat meer is as bydraes.”

Campher sê pensioenfondse se bates word deur gewone Suid-Afrikaners besit wat trustees aanstel om besluite oor batetoewysings te maak wat in hul beste belang is. Alle pensioenfondse, behalwe die GEPF, se beleggingsmandaat moet aan regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse voldoen.”

Dié regulasie stel perke op hoeveel ’n fonds in ’n spesifieke soort bate of spesifieke maatskappy mag belê.

“Om pensioenfondse te dwing om in staatsondernemings te belê, sal op voorskrywing neerkom en sal die fidusiêre pligte van pensioenfondstrustees in gevaar stel.”

Om pensioenfondse te dwing om in staatsondernemings te belê, sal op voorskrywing neerkom en sal die fidusiêre pligte van pensioenfondstrustees in gevaar stel.

Janina Slawski, Alexander Forbes se hoof van beleggingskonsultasie, sê dié firma is “gekant teen enige vorm van voorskrywing wat beleggers verhinder om te belê in bates wat aan hul risiko- en opbrengsprofiel voldoen”. Dit sal tot “suboptimale beleggingsuitkomste” lei wat nie in beleggers se beste belang is nie.

Slawski sê pensioentrekkers met vastebydrae-aftreefondse maak op beleggingsopbrengste staat om hul aftreespaargeld op te bou en ná aftrede ondersteun opbrengste die styging in hul pensioen.

“Daar was al baie voorstelle, insluitende dié wat Cosatu voorgelê het, oor die ontwikkeling van kreatiewe oplossing vir die Eskom-skuldprobleem, insluitende die skep van ’n spesialedoel-maatskappy om ’n deel van Eskom se skuld oor te neem.

“In die mate waarin dié voorstelle tot lewensvatbare geleenthede met aanloklike risiko- en opbrengseienskappe lei, sal daar geen nodigheid wees om beleggings daarin voor te skryf nie.”

Sy sê daar is heelwat bestaande en potensiële geleenthede vir “impak-investering” waarin beleggers, insluitende aftreefondse, graag sou wou belê. “Dis nie ’n gebrek aan kapitaal wat geleenthede soek nie, maar ’n gebrek aan lewensvatbare geleenthede.”

“Alexander Forbes ondersteun Mboweni se sentiment dat ’n wye spektrum lewensvatbare beleggingsgeleenthede ontwikkel moet word om ’n wyer basis beleggers te lok. Ons ondersteun egter nie enige konsep dat dié investering deur voorskrywing opgedwing moet word nie.”

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Vrydag in ’n verklaring gesê pensioenfondsgeld is “heilige geld – dit is ’n leeftyd se spaargeld. As jy hierdie geld plunder, steel jy iemand se oudag. Dit is moreel verkeerd en ons sal dit met alles in ons beveg.”

Hy het Mboweni se opmerking as “roekeloos” beskryf: “Dit veroorsaak paniek onder alle werkers wat nie gaan toekyk hoe hulle spaargeld in wanbestuurde staatsinstellings gegooi word nie. Daar is geen verantwoordbaarheid nie en die maklike opsie is nou pensioene.”

Volgens Solidariteit is die idee om privaat pensioene in te sluit, niks anders as voorgeskrewe bates “soos destyds deur die apartheidsregering toegepas” is nie.

“Ons kan nie toelaat dat die ANC ons toekoms steel om vir hul verlede te betaal nie.”

Meer oor:  Solidariteit  |  Alexander Forbes  |  Eskom  |  Geldsake  |  Vakbonde  |  Pensioenfondse  |  Pensioen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.