Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Kritiek op korrupsie laat geld instroom by Sygnia

Die batebestuursgroep Sygnia se bates onder bestuur en administrasie het van einde Maart ’n jaar gelede skerp met 26% of sowat R48 miljard tot R228,1 miljard gestyg.

Wierzycka
Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van Sygnia.

Die direksie skryf dit toe aan “die positiewe publisiteit wat die sterk, aktivistiese standpunt teen korrupsie vir die Sygnia-handelsnaam meegebring het” asook die deursigtige gelde wat hy op sy beleggingsprodukte hef.

“Sygnia se kostedoeltreffende digitale bemarkingsveldtog en sy openbare standpunt teen korrupsie wat ingeneem is in ’n tyd waar ander maatskappye stilgebly het, het tot die verhoging in bewustheid oor die handelsnaam gelei,” sê Magda Wierzycka, uitvoerende hoof, en die direksie in ’n verklaring.

Wierzycka is gereeld in die nuus met haar kritiek op die hoë gelde wat aftreefondse en beleggingsprodukte hef, asook vir haar sterk standpunt teen korrupsie.

Die grootste deel van Sygnia se bates onder bestuur en administrasie is van instellings of aftreefondse afkomstig en het met bykans 25% tot R200 miljard gestyg.

Die bates onder bestuur aan die kleinhandelkant in indeksfondse waarin gewone beleggers belê, het met 16% tot R28 miljard gestyg.

Strenger reëls bring voordele

Sygnia voorsien voordele vir sy bedrywighede weens die strenger reëls in die aftree- en batebestuursbedryf.

Dit sluit in die voortgesette daling in alleenstaande aftreefondse weens die verskuiwing na sambreelfondse as gevolg van wetgewing en strenger vereistes oor korporatiewe bestuur wat die lewe moeiliker maak vir die trustees van aftreefondse.

“Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) blyk vasbeslote te wees om die konsolidering aan te moedig om die 1 560 aftreefondse tot 200 te verminder.”

Boonop het ’n nuwe reël van die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa) begin Maart in werking getree “wat vir die eerste keer in ’n bedryf wat benadeel is deur ondeursigtigheid”, streng openbaarmaking vereis oor gelde wat gehef word.

“Die reël oor openbaarmaking raak batebestuurders én sambreelfondse en het daartoe gelei dat talle trustees en werkgewers hul aftreefondsreëlings heroorweeg.”

’n Paar inisiatiewe wat Sygnia die afgelope vyf jaar mee begin het, begin nou vrugte afwerp. Dit sluit in die toetrede tot die sambreelfondsbedryf in 2016. Die Sygnia Umbrella Retirement Fund (SURF) se bates onder bestuur het van R3,2 miljard ’n jaar gelede tot R5 miljard gestyg. Dit is die sewende grootste sambreelfonds in Suid-Afrika.

“Die kernfokus op deursigtige gelde sedert sy ontstaan, het tot gevolg dat Sygnia die reël oor openbaarmaking verwelkom, terwyl sy mededingers sukkel om by die nuwe regime aan te pas.

“As ’n verskaffer van laekoste beleggings- en spaarprodukte is Sygnia goed geplaas om die huidige winde van voor in die mark die hoof te bied terwyl die maatskappy nie die druk ervaar om gelde te verlaag wat die bedryf in die algemeen nou ervaar nie.”

So styg inkomste, wins

Sygnia se inkomste wat uit bestuurs-, administrasie-, en makelaarsgelde verdien is, het in die afgelope halfjaar tot einde Maart met bykans 11% tot R229 miljoen gestyg.

Die grootste deel van Sygnia se inkomste is uit bestuursgelde, naamlik R155 miljoen. Dit het met 3% gedaal en is toegeskryf aan die beleggingsfondse wat in verskansingsfondse belê, wat gesluit is.

Dit is gedoen omdat dié fondse baie duur is en Sygnia hom beywer vir laer beleggingskoste in die bedryf.

Ook sy administrasiegelde het effens gedaal.

Die styging in inkomste is danksy nuwe inisiatiewe ingesluit die uitleen van aandeelsertifikate en valutatransaksies.

Uitgawes het skerp met 20% tot R165,4 miljoen gestyg weens hoër personeelkoste wat verband hou met die toename in sake en eenmalige koste van die toetrede tot die Britse mark, ’n afskrywing van sy projek om ’n bitcoin-beurs te begin, en ’n verdere belegging in sy stelsels.

Dit het die maatskappy se wins uit bedrywighede verlaag.

Die wins ná belasting het egter met 19% tot R44,2 miljoen gestyg. Dit is toegeskryf aan die verlies op kapitaal wat belê is, wat kleiner is.

Nuwe regulasies oor verstek-opsies wat alle aftreefondse dwing om kostedoeltreffende verstek-opsies, bewaring- en aftreeprodukte aan sy lede te bied, het ook begin Maart in werking getree. Die regulasies gaan die kleinhandelmark beïnvloed en geleenthede word daar gesien omdat passiewe fondse daarvoor oorweeg word.

Nog ’n inisiatief wat nou vrugte afwerp, is die verkryging in 2017 van die dbX-trackers-onderneming van Deutsche Bank (hernoem na Sygnia Itrix) omdat dit Sygnia die grootste verskaffer van beursverhandelde fondse (ITF’s) op die JSE gemaak het in die tyd wat dié fondse al hoe gewilder raak onder aftreefondse en welvaartbestuurders.

Volgens Wierzycka word Sygnia nou as een van die twee grootste batebestuurders van passiewe beleggingsprodukte in Suid-Afrika gereken.

Die bates onder bestuur in die Sygnia Itrix- beursverhandelde fondse het van R15,8 miljard ’n jaar gelede einde Maart tot R19 miljard gestyg. In geheel het passief bestuurde bates van R32,6 miljard tot R38,6 miljard toegeneem.

Wierzycka sê Sygnia se laekoste spaar- en beleggingsprodukte lok steeds beleggers. Dit het Sygnia se groei in bates onder bestuur in kleinhandelprodukte van R24,1 miljard tot R28 miljard verhoog.

Die aantal individuele rekeninge wat van Sygnia se beleggingsplatform (Lisp) gebruik maak, het met 30% tot 16 166 gestyg.

Dit is toegeskryf aan die “kostedoeltreffende digitale bemarkingsveldtog en Sygnia se openbare standpunt teen korrupsie terwyl ander maatskappye stilgebly het”.

“Die fokus op passiewe belegging, deursigtigheid oor gelde en tegnologie-gedrewe oplossings het tot die groei in bates en beleggers gelei, en die positiewe publisiteit wat geassosieer word met die sterk, aktivistiese standpunt teen korrupsie vir die Sygnia-handelsnaam.”

Meer oor:  Sygnia  |  Magda Wierzycka  |  Batebestuur  |  Pensioenfonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.