Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
GEPF betaal R6,8 mjd. aan rente vir laat betalings

Die staatspensioenfonds (GEPF) moes verlede jaar R6,8 miljard aan rente op laat betalings van pensioenvoordele bestee.

Die liggaam wat die administrasie van staatspensioene moet doen, sloer met uitbetalings. Foto: Bloomberg

Dit is ’n skerp styging van die R2,2 miljard in 2018 hiervoor, blyk dit uit ’n ontleding wat die Vereniging vir die Monitering van Staatspensioene (Amagp) gedoen het.

“Daar is letterlik honderde mense wat in sommige gevalle al langer as ’n jaar vir hul pensioen wag,” sê Albert van Driel, ondervoorsitter van Amagp. “En Covid-19 is nie ’n verskoning nie, want daar is aansoeke vir pensioenuitbetaling wat al in Oktober en November verlede jaar ingedien is en nou nog nie verwerk is nie,” sê hy.

Net om erkenning van ontvangs te kry van die staatspensioen-administrasieagentskap (GPAA) is bykans ’n saak van onmoontlikheid en hul telefone lui net, sê Van Driel.

Die GEPF se reël is dat pensioenuitbetaling binne 60 dae gedoen moet word, maar in 2018 het 29% van die aansoekers nie binne 60 dae hul pensioengeld ontvang nie, en in 2019 was dit 20%, volgens Van Driel se inligting.

Dit kan die lewe baie moeilik maak vir mense van die middelklas tot laer middelklas wat uit die staatsdiens aftree en nie 12 maande of langer se spaargeld opgegaar het om van te oorleef terwyl hulle op hul pensioenvoordele wag nie, sê Van Driel.

Die feit dat daar so baie laat betalings is waarop die GEPF rente moet betaal, is boonop tot nadeel van die pensioenfonds, want dit verteenwoordig ekstra koste en is geld wat tot voordeel van die lede belê kon gewees het.

Van Driel waarsku dat as die rente wat die fonds moes betaal, binne een jaar van R2,2 miljard tot R6,8 miljard opgeskiet het, dit niks goeds vir die lopende boekjaar voorspel nie.

Hy meen die GPAA se administrasie was in die verlede gewoonlik redelik skerp, maar dit is asof dit die afgelope drie jaar nie behoorlik funksioneer nie.

Dokumente nie ingedien

Mack Lewele, senior kommunikasiebestuurder by die GPAA, het in reaksie verduidelik daar is verskeie redes waarom pensioenuitbetalings vertraag kan wees. Benewens die impak van die Covid-19-inperkings kan vertragings ook ontstaan deurdat die GEPF nog nie die aansoeker se eisdokumentasie ontvang het nie omdat die betrokke werkgewer se mensehulpbronne-afdelings dit nog nie aangestuur het nie.

Soms is die dokumentasie verkeerd of onvolledig, wat dan beteken dit word teruggestuur na die betrokke staatsdepartement om eers reggestel te word.

Dit gebeur ook dat verkeerde bankrekeningbesonderhede verskaf word of daar is begunstigdes waarvan die GEPF nie voorheen geweet het nie, sê Lewele.

Soms is die vertraging veroorsaak deur belastinginstruksies van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) waarvoor gewag word voordat die uitbetalings gemaak kan word. Pensioenfondslede wie se belastingsake nie in orde is nie, moet dit dan ook eers met die SAID uitklaar.

Volgens Lewele skakel die GPAA en die GEPF met staatsdepartemente om hulle in te lig oor wat van hulle verwag word wanneer staatsamptenare aftree of bedank, en veldtogte onder werknemers fokus ook op die opvoeding van lede voordat hulle aftree en oor alles wat nodig is, soos om diensdatums te bevestig, begunstigdes te nomineer en hul belastingsake in orde te kry.

Die GPAA het ook intern maatreëls ingestel sedert die inperking begin het om ekstra tegnologie en mobiele toestelle beskikbaar te stel sodat personeel beter van die huis af kan werk. Daar is ’n kombinasie van personeel wat tuis werk en wat inkom kantoor toe, en prosesse word waar moontlik geoutomatiseer.

Op die vraag of daar ’n toename is in staatsamptenare wat sedert einde Maart bedank het weens moontlike gelddruk op hul huishoudings sodat hulle toegang tot hul aftreegeld kan kry, sê Lewele daar is nie ’n merkbare toename in eise weens bedankings nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.