Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
GEPF-lede ‘sal dan verhogings inboet’

As die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) se beleggings sy negatiewe trajek voortsit, gaan pensioentrekkers nie noodwendig meer hul inflasie-gekoppelde verhogings kry nie.

GEPF
Abel Sithole, hoof van die staatspensioenfonds.

So het Abel Sithole, hoof van die GEPF, die afgelope week gewaarsku op ’n mediakonferensie om die volhoubaarheid van die fonds te bespreek.

Rapport het vroeër berig oor die GEPF se aktuariële waardasie wat ’n afwaartse neiging toon. Die waardasie word gedoen om te bereken hoe goed die GEPF – as ’n vastevoordeelfonds – in die toekoms sy verpligtinge sal kan nakom.

Sithole het beklemtoon dat die fonds volgens hulle nog gesond is. In leketaal kan die fonds vir elke R1 se voordele wat betaalbaar is, R1,08 betaal. Maar die fonds se minimum finansieringsvlak het in Maart 2018 tot 108,3% gedaal vanaf die 115,8% in 2016 en 121,5% in 2014.

Indien dié vlak tot onder 90% daal, sal die trustees drasties moet ingryp.

Sithole sê hoewel die GEPF-lede se voordele gewaarborg is, is hul inflasie-gekoppelde verhogings nie ’n belofte nie.

Die fonds poog wel om 100% of meer van die inflasiekoers as verhogings aan te bied. Sedert 2013 het staatsdienspensioentrekkers jaarliks pensioenverhogings gelykstaande aan of bo inflasie gekry. Die afgelope vier verhogings lyk as volg:

  • In 2016 was die inflasiekoers 4,8%, maar verhogings 5,3%.
  • In 2017 is ’n verhoging van 6,6% toegestaan, gelykstaande aan inflasie.
  • In 2018 het hulle ’n 5,5%-verhoging gekry, terwyl inflasie 4,6% was.
  • Vanjaar is die verhoging gelykstaande aan inflasie van 5,3%.

Volgens Sithole het die trustees nog nie slapelose nagte nie. Hy benadruk ook dat die GEPF kragtens wetgewing nooit pensioenbetalings sal verminder soos wat in sekere Europese lande gebeur het nie.

Die GEPF besit ongeveer 11% van die hele JSE se markkapitalisasie.

Die grootste “ingryping” wat die trustees beplan, is ’n wysiging in die strategiese batetoewysing van die fonds se bates van R1 800 miljard.

In September 2018 het Sithole gesê die fonds praat met die tesourie om meer geld in die buiteland te belê omdat hulle bekommerd is oor swak plaaslike opbrengste. Ingevolge die GEPF-wet móét die fonds se trustees die minister van finansies raadpleeg voordat veranderinge aan die batetoewysing gedoen kan word.

Die GEPF – anders as private pensioenfondse wat kragtens wetgewing 30% van hul bates in die buiteland kan belê – kan tot 5% in buitelandse aandele belê, tot 4% in buitelandse effekte en tot 5% in die res van die Afrika. Die ware persentasie hiervoor is onderskeidelik 5%, 1% en 2%, blyk uit die 2017-’18-jaarverslag.

Sithole sê die GEPF sal mettertyd ook 30% in die buiteland wil belê, maar maande ná die versoek vir toestemming het daar nog dadels van gekom. Sithole het aan Rapport gesê hy sou “gister” al ’n antwoord wou hê.

Die tesourie het by navraag gesê hulle het bykomende inligting van die GEPF versoek om die besluit te oorweeg.

Weens die enorme grootte van die GEPF kan ’n skuif van plaaslike bates na die buiteland die hele ekonomie raak.

Die GEPF besit ongeveer 11% van die hele JSE se markkapitalisasie.

Sithole sê plaaslike beleggings was die afgelope 20 jaar goed vir die GEPF, maar het in onlangse jare teleurgestel. Hy wil daarom ook meer ongenoteerde beleggings doen. Dié beleggings is in die laaste jaar omstrede en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat geld namens die GEPF bestuur, ondersoek verskeie van dié multimiljardrand-beleggings.

Sithole sê egter selfs méér ongenoteerde beleggings is noodsaaklik vir diversifikasie. “Dit sal ook goed wees vir die ekonomie. Dit is nie omdat iemand ons opdrag gee nie, maar dit kan ons beleg­gingsopbrengs vir die langtermyn-finansieringsvlak help.”

Meer oor:  Abel Sithole  |  Staatsamptenare  |  Obk-Ondersoek  |  Gepf  |  Pensioenfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2185,94 (918)
  • Top 40 50077,78 (-5644)
  • All Share 56123,83 (-9658)
  • Resource 10 43758,63 (-5410)
  • Financial and Industrial 30 76079,11 (-10135)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.