Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
GEPF paai oor omstrede grond by Klerksdorp

Die staatspensioenfonds (GEPF) het die koop van grond teen skynbaar buitensporige pryse verlede jaar by Klerksdorp verdedig.

Abel Sithole, hoofbeampte van die GEPF.

Abel Sithole, uitvoerende hoof van die GEPF, het Woensdag aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê dis niks nuut of ongewoon dat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) namens die GEPF grond koop in afwagting van toekomstige ontwikkeling nie.

Dit is ’n verwysing na twee plase langs die N12 tussen Klerksdorp en Stilfontein wat die OBK verlede jaar teen meer as R500 000 per hektaar van ’n plaaslike eiendomsontwikkelaar gekoop het. Dít terwyl landbougrond in die omgewing nie meer as R20 000 per hektaar haal nie, en selfs stedelike ontwikkelingsgrond op heelwat minder as R500 000 per hektaar gewaardeer word.

Volgens Sithole is dié grond tegnies nie meer landbougrond nie want dit word hersoneer vir stedelike ontwikkeling.

GEPF in syfers:
  • 1 265 421 lede;
  • 464 138 pensioentrekkers en begunstigdes;
  • R1 820 miljard se bates onder bestuur;
  • Byna 36 000 lede het in die afgelope boekjaar afgetree en R45,6 miljard se annuïteite en R16 miljard se gratifikasie is uitbetaal;
  • 23 362 lede het in die afgelope boekjaar bedank en R25,2 miljard is aan hulle uitbetaal;
  • R4,8 miljard se sterftevoordele is uitbetaal; en
  • Begrafnisvoordele van R338 miljoen is via 24 852 eise uitbetaal.

Die OBK het vroeër die transaksie verdedig en gesê ’n onafhanklike waardeerder het gemeen die koopprys is billik. ’n Groot stedelike ontwikkeling word op die grond beplan.

Dr. Renosi Mokate, voorsitter van die GEPF, sê die fonds het die OBK vir ’n volledige verslag gevra oor die transaksie. Dit sal op die beleggingskomitee se vergadering in Maart bespreek word.

Sithole het herhaal die GEPF is nie genader oor enige plan om pensioengeld te gebruik om in Eskom te belê nie.

Hy het bevestig die GEPF het R84 miljard se Eskom-effekte as deel van sy beleggingsportefeulje.

Die GEPF kan egter nie kategories sê hy sal weier om nog geld in Eskom te belê nie.

“As ons genader word met ’n voorstel wat perfek sin maak vir die GEPF en wat ’n goeie belegging is, sal ons dit oorweeg.”

Joe Maswanganyi, voorsitter van die komitee, sê Cosatu se plan om meer as R250 miljard van die OBK se bates te gebruik om Eskom te red, is in die openbare domein en moet bespreek word. Volgens Maswanganyi sal hy die vakbonde, asook die OBK en die GEPF nooi om binne die volgende twee weke die komitee toe te spreek oor dié plan.

Oor die impak van ’n moontlike afgradering deur Moody’s in Maart op die GEPF se effektebeleggings, sê Sithole die huidige effektepryse weerspieël waarskynlik reeds die impak van ’n potensiële afgradering.

Beleggingsgroei

Die GEPF se bates het sedert 2009 tot verlede jaar teen ’n gemiddelde koers van 11,2% per jaar gegroei, sê Sithole.

Volgens hom is die fonds se bates meer as genoeg om die verpligtinge van die fonds aan lede en begunstigdes te dek.

Hoewel verlede jaar ’n baie moeilike jaar was, het die fonds wel daarin geslaag om sy beleggingsportefeulje met R17 miljard te laat groei vergeleke met die vorige jaar.

Die meeste van die fonds se geld word in genoteerde aandele belê, sê Sithole.

Die genoteerde beleggings se waarde het wel verlede jaar met 1% gekrimp weens die swak prestasie van die JSE.

Die gemiddelde beleggingsopbrengs was verlede jaar 2,6%, gegrond op netto beleggingsinkomste van R47 miljard.

Relatief tot die ekonomie se groeisyfer van verlede jaar, meen Sithole die 2,6% is steeds goed, al is dit die slegste sedert die internasionale resessie in 2009.

Die fonds het in die afgelope jaar bydraes van R75,1 miljard gekry, wat 7,1% meer is as die vorige jaar, en is grootliks danksy salarisverhogings.

Die voordele wat uitbetaal is, is egter ook hoër op R103 miljard, teenoor die vorige jaar se R95 miljard.

Maar die fonds is steeds kontantpositief en hoef nie beleggings te verkoop om voordeleverpligtinge te dek nie, sê Sithole.

Meer oor:  Staatspensioenfonds  |  Cosatu  |  Gepf  |  Abel Sithole  |  Eiendom  |  Grond  |  Parlement  |  Pensioenfonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.