Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
GEPF se lenings lei tot gat in sy boeke
Musa Mabesa, nuwe uitvoerende hoof van die Staatspensioenfonds (GEPF). Foto: William Horne

Nie net belê die Staatspensioenfonds (GEPF) nog honderdmiljarde rand in staatsondernemings nie, hy is steeds besig om lenings veels te vinnig “af te skryf”.

Dié swak skuld is deel van ’n patroon wat al deur die Mpati-kommissie uitgelig is as kommerwekkend.

Die GEPF het Donderdag sy jaarverslag op ’n geleentheid in Melrose Arch, Johannesburg, uitgereik waar die media Musa Mabesa, sy nuwe uitvoerende hoof, kon ontmoet.

Mabesa is gepeper met moeilike vrae.

Die GEPF het deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) al R42,343 miljard se direkte lenings aan ondernemings toegestaan. Dis ’n styging van 1,1% in ’n jaar.

Maar ’n enorme 28,2% van die lenings is al as verswakte lenings aangeteken in die boeke van die GEPF, dus as swak skuld.

Mabesa sê dis omdat die probleme met direkte lenings “erfenisprobleme” van die vorige administrasie is wat juis deur die Mpati-kommissie uitgewys is as problematies.

Baie van die direkte lenings is egter betreklik nuut.

Dié “gratis geld” blyk deel van ’n patroon by die GEPF te wees waarop Mabesa nie ten volle kon antwoord nie.

Volgens hom is baie lenings wat in die afgelope jaar toegeken is, as verswak aangeteken op die boeke omdat die Covid-19-pandemie ondernemings swaar getref het.

Die tweede en derde grootste waardedalings op die GEPF se boeke is lenings wat in die laaste jaar toegeken is.

Die tweede grootste is ’n lening van R2,334 miljard aan ene Belelani Capital, ’n breë basis swart ekonomiese bemagtigingsmaatskappy. Die lening is egter nog nie heeltemal afgeskryf nie, sê Mabesa, net as ’n waardedaling aangeteken.

Waardedalings het egter in een jaar met 36,3% toegeneem soos die GEPF aanhou lenings toestaan aan ondernemings wat dit waarskynlik nie gaan terug betaal nie.

Intussen beloop die hoeveelheid geld wat die GEPF al belê het in Suid-Afrika se staatsondernemings steeds in die honderdmiljarde rande.

Sy totale blootstelling aan staatsondernemings se effekte is R131,4 miljard. Dit is 8,16% van sy totale beleggingsportefeulje van R1 610 miljard.

Mabesa sê op die tydstip toe die effekte gekoop is, was die graderings van die staatsondernemings nog beleggingsgraad gewees.

Dit is egter nie duidelik of dit waar is nie, aangesien die graderings alreeds teen einde Maart onder beleggingsgraad was en die resultate vir die jaar tot einde Maart is.

Eskom, byvoorbeeld, is al jare lank onder beleggingsgraad gegradeer, maar die GEPF besit R73 miljard van sy effekte.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.