Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
GEPF-waarde: R1 900 mjd.
Musa Mabesa, nuwe hoof van die staatspensioenfonds.

Die staat se pensioenfonds, die GEPF, sê al het sy bates die 2019-’20-boekjaar einde Maart 11,4% laer – op R1 640 miljard – afgesluit vergeleke met die vorige jaar, is die ongeouditeerde waarde nou terug op sowat R1 900 miljard.

Musa Mabesa, GEPF-hoof, sê in ’n verklaring met die bekendmaking van die jaarverslag die week die fonds kon die verliese sedert einde Maart uitwis danksy sy veerkragtige beleggingstrategie.

Die GEPF se bates het erg slae gekry nadat Covid-19 tot ’n wêreldwye pandemie verklaar is, swak ekonomiese groei en Suid-Afrika se kredietafgradering tot sub-beleggingsgraad.

Die belangrikste aandelebeurse wêreldwyd het swaargekry, met die MSCI-wêreldindeks en die JSE se indeks van alle aandele wat albei in die eerste kwartaal met sowat 21% gedaal het. Volgens Mabesa wys die 2019-’20-resultate hoe afhanklik die fonds is van die prestasie van die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Dié tendens is nie uniek aan die GEPF nie.

Kenners van Alexander Forbes sê die mediaan van ’n opname wat die firma onder institusionele fondsbestuurders in Suid-Afrika doen, toon ’n soortgelyke daling van 11,6% in fondswaardes in die boekjaar tot einde Maart.

Volgens die kenners gee dit ’n taamlik goeie aanduiding van hoe die gemiddelde pensioenfonds gevaar het.

Die Alexander Forbes Investments Spectrum-portefeulje wat gelyke hoeveelhede belê in die tien grootste batebestuurders, het ’n negatiewe opbrengs van 9,8% vir die jaar tot einde Maart gelewer, terwyl Alexander Forbes se vlagskip-portefeulje, Performer, 6,9% se waarde ingeboet het. Sedertdien het opbrengste verbeter en in die ses maande tot einde September het bruto opbrengste in die omgewing van 15% gestyg, sê die kenners.

Alexander Forbes benadruk die vertoning van dié soort portefeuljes behoort nie op grond van korttermyn-opbrengste beoordeel te word nie.

Volgens die GEPF was 47% van sy bates in plaaslik genoteerde aandele belê, en 36% in plaaslike effekte.

Kragtens wetlike riglyne oor die persentasie wat die GEPF in verskillende bateklasse mag hou, kan tussen 40% en 55% in plaaslike aandele wees, en 26%

gepf

tot 36% in plaaslike effekte. Buitelandse blootstelling aan aandele in Afrika mag tot 5% beloop (tans 2%); aan buitelandse effekte tot 4% (tans 2%) en ander buitelandse aandele mag 1% tot 5% (tans 6%) wees.

Die GEPF meen groter buitelandse blootstelling kan ’n belangrike strategie wees om die fonds te verskans teen die swak Suid-Afrikaanse ekonomie.

Die GEPF is reeds die afgelope sowat twee jaar in gesprek met die minister van finansies oor moontlike groter buitelandse blootstelling. Veral post-Covid-19 is innoverende oplossings en ’n vars benadering nodig om te verseker dat die GEPF steeds die beste opbrengs vir sy lede verseker, sê Mabesa.

Vir die jaar tot 31 Maart het die GEPF sowat 1,269 miljoen aktiewe lede gehad, en 480 615 pensioentrekkers en begunstigdes (gades, kinders en weeskinders).

Die vorige jaar was dit 1,265 miljoen en sowat 464 000 pensioentrekkers en begunstigdes.

R111 miljard se voordele is betaal aan lede wat bedank het, aftree- of sterftevoordele. Dit is R8,4 miljard meer as die vorige jaar. Dit is grootliks weens ’n styging in pensioenbetalings en die totale pensioenbetalings maak 62% uit van die totale voordele wat betaal is. Pensioentrekkers het ’n maandelikse verhoging van 5,2% ontvang.

Volgens die GEPF oorskry die voordele aan begunstigdes sedert 2013-’14 die bydraes wat ontvang word. “Dit is nie net weens ’n toename in bedankings en aftrede nie, maar onder meer vanweë pensioenverhogings gelykstaande aan verbruikersinflasie, beter begrafnisvoordele en pensioene aan kinders in sekere gevalle,” sê Mabesa.

Die getal pensioentrekkers het met 3,1% gestyg, terwyl aktiewe lede met 0,3% gestyg het. Die GEPF sê dit moenie as ’n negatiewe tendens beskou word nie omdat die doel van die fonds is om aftreevoordele aan sy lede te verskaf. Die fonds is meer as 100% gefinansier en kan al sy verpligtinge nakom. Die betaling van voordele kom uit lede se bydraes én beleggingsopbrengste.

gepf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.