Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
GEPF wil glo sy 16%-belang in Naspers snoei

Naspers se grootste aandeelhouer, die staatspensioenfonds (GEPF), oorweeg dit om sy belegging van R245 miljard, oftewel 16,3% van die maatskappy, te verminder weens kommer oor sy blootstelling aan ’n enkele aandeel, volgens vier mense met kennis van die saak.

GEPF
Die embleem van die staatspensioenfonds (GEPF).

Die GEPF se belang word deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) bestuur en dis volgens drie mense met wie Bloomberg gepraat het die OBK wat die GEPF aanmoedig om sy belang te verminder.

Enige besluit is uiteindelik dié van die GEPF se raad van trustees.

Naspers se waarde het sedert 2004 met 72 keer gegroei danksy die groep se vroeë belegging in die Chinese speletjie- en e-handelreus Tencent. Dit was die jaar toe Tencent in Hongkong genoteer het.

Dié belegging was die begin van ’n omwenteling wat Naspers van ’n koerantuitgewer in ’n wêreldwye tegnologiebelegger omskep het wat nou ’n markwaarde van nagenoeg R1 530 miljard het.

Dit het die maatskappy ook lank afhanklik van China, ’n land met sy eie uitdagings, gemaak.

Die groep het die afgelope paar jaar aansienlike beleggings in onder meer geklassifiseerde advertensies, e-handel en kosaflewering gedoen wat stuk-stuk winsgewend word. Die groep reik op Vrydag 21 Junie sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart uit.

Dit sal die eerste stel resultate wees sonder sy afdeling vir videovermaak, wat in Februarie ontknoop en afsonderlik op die JSE genoteer is. MultiChoice, wat ook Showmax insluit, maak Dinsdagmiddag sy resultate bekend.

“Naspers se sukses hang van die Chinese regering af,” meen Tahir Maepa, adjunkhoofbestuurder vir ledesake van die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA), met 240 000 lede die grootste vakbond wat staatsamptenare verteenwoordig en tot die GEPF bydra. “Dis ’n enorme risiko, nie net vir die OBK nie; dis ’n risiko vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en die JSE.”

Die vakbond is ’n voorstander daarvan dat die GEPF sy belang in Naspers verminder.

Weens die snelle groei van die groep verteenwoordig Naspers nou byna 25% van die aandeelhouersgeweegde indeks van alle aandele op die JSE (die Swix).

Hoe dit gedoen kan word

Die debat oor die GEPF se belang in Naspers duur al maande. Een moontlike antwoord is as die GEPF eerder in die beperkte Swix, waarin enige aandeel slegs 10% van die gewig van die indeks beloop, belê. Enige verkoop van Naspers-aandele sal in fases gedoen word, volgens een van die ingeligtes met wie Bloomberg gepraat het.

Die Werkloosheidsversekeringsfonds, nog een van die OBK se kliënte, het in Oktober verlede jaar sy belang van ’n volle Swix-posisie na ’n beperkte Swix verander. Voor dit is afgeleide instrumente gebruik om die risiko te verskans, maar dit is as te duur beskou.

Dié gewig gaan weliswaar verminder word indien aandeelhouers die plan goedkeur om Naspers se oorsese internetbelange – waaronder Tencent – op die Euronext Amsterdam te noteer. Aandeelhouers stem op 28 Junie in Kaapstad oor dié plan. Indien dit goedgekeur word, sal die nuwe maatskappy, vir eers net as NewCo bekend, op 17 Julie oorsee noteer.

Die stap sal Naspers se gewig in die Swix verminder en volgens Naspers self meebring dat die aandeelprys met nagenoeg 25% daal. Aandeelhouers moet kies of hulle aandele in NewCo wil ontvang (op die grondslag van een vir een) en of hulle nog Naspers-aandele wil hê (in die verhouding 0,36986 vir elke N-aandeel wat hulle reeds besit).

LEES OOK: Naspers: Só moet aandeelhouers nou stem

Naspers self sal steeds minstens 73% van NewCo besit, wat beteken die maatskappy sal steeds steun op sy belegging van nagenoeg 31% in Tencent.

Tencent en ander maatskappye wat mobiele speletjies vervaardig, word die afgelope jaar of wat gekniehalter deur Chinese reguleerders wat traag is om nuwe speletjies goed te keur. Die land probeer die verslawing aan rekenaarspeletjies hokslaan.

Naspers verteenwoordig op die oomblik byna 21% van die GEPF se genoteerde beleggings. Die groep hersien gereeld sy maatstawwe vir beleggings, “hoewel nie alle hersienings tot aanpassings lei nie”, het die groep aan Bloomberg gesê.

Media24 se hoofkantoor in Kaapstad. Dié mediafirma bly deel van die Suid-Afrikaanse Naspers. Foto: Getty Images

Die pensioenfonds het nie die vraag geantwoord of hy al met die OBK oor die Naspers-belang in gesprek getree het nie.

Naspers wou nie vrae oor die GEPF-belang beantwoord nie. “Die oprigting en notering van NewCo is in reaksie op aandeelhouers se versoeke,” het Shamiela Letsoalo, Naspers se kommunikasiehoof, geantwoord. Die stap sal beleggers in staat stel om “van hul gewig van die JSE na Amsterdam te verskuif, terwyl hulle terselfdertyd by voortgesette hoë opbrengste ingesluit bly”.

Letsoalo sê dit sal waarskynlik help dat aandeelhouers se gewigte meer gebalanseerd raak.

NewCo is grootliks ’n kloon van Naspers, met die belangrike verskil dat dit die groep se Suid-Afrikaanse belange uitsluit. Dit sluit Media24, moedermaatskappy van Netwerk24, en Naspers se belang in die Takealot-groep in.

Meer oor NewCo
Benewens Tencent sluit ander belange in NewCo in die Russiese sosialemedia-platform Mail.ru, OLX en kosafleweraars soos Swiggy in Indië, Delivery Hero in Europa en die Midde-Ooste en iFood in Brasilië en ander Latyns-Amerikaanse lande.

Naspers het ook herhaaldelik sedert die aankondiging van die stap beklemtoon dat hy sal voortgaan om in Suid-Afrika se e-handel- en tegnologiesektor te belê.

“Dié verskille sal veroorsaak dat baie beleggers die maatskappye afsonderlik in hul portefeulje sal beskou.”

Wat dan met die GEPF se Naspers-belang gedoen gaan word, sal in die hande van die fonds se trustees wees. Pierre Snyman, voorsitter van die VSA en lid van die raad van trustees, wou nie kommentaar lewer nie.

Sommige senior lede van die GEPF is glo daarteen dat die Naspers-belang verminder word.

Deon Botha, die OBK se hoof van korporatiewe sake, sê die OBK bespreek nie die strategie met belange in spesifieke maatskappye in die openbaar nie. – Bloomberg, bygewerk

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

Meer oor:  Takealot  |  Naspers  |  Media24  |  Amsterdam  |  Internet  |  E-Handel  |  Media  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2108,36 (4736)
  • Top 40 52107,18 (37382)
  • All Share 58248,73 (37621)
  • Resource 10 46948,1 (58001)
  • Financial and Industrial 30 77928,13 (37579)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.