Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
GEPF wil méér in ongenoteerde bates belê

Die staatspensioenfonds (GEPF) vaar baie goed. Maar dit is nie perfek nie, en behoort sy ongenoteerde beleggings uit te brei om meer regstreeks in die ekonomie te belê en te diversifiseer.

GEPF
Abel Sithole, hoof van die staatspensioenfonds.

Só sê Abel Sithole, hoof van die GEPF, wat Donderdag aan die media verslag gedoen het oor die jongste aktuariële waardasie wat Alexander Forbes vir die fonds gedoen het.

Die GEPF is die pensioenfonds vir sowat 1,2 miljoen staatsdienswerkers en het meer as R1 800 miljard se bates wat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) namens hom bestuur.

Sithole gee toe daar is besorgdheid dat die GEPF se langtermynfinansieringsvlak volgens die jongste aktuariële waardasie van 79,3% teen Maart 2016 tot 75,5% teen Maart 2018 gedaal het. Dit spruit uit swakker beleggingsopbrengste, verbeterings aan voordele, pensioenverhogings, salarisverhogings en die staat wat as werkgewer te min bydra tot die fonds.

Die huidige minimum finansieringsvlak staan op 108,3% teenoor 115,8% in 2016. Dit beteken as die fonds vandag gelikwideer moes word, sal daar R1,08 wees vir elke R1 se voordele wat uitbetaal moet word, wat beteken die fonds is in werklikheid gesond, sê Sithole.

Maar om die langtermynsituasie te verbeter sal die staat as werkgewer, die GEPF se trustees, die nasionale tesourie en vakbonde moet saamwerk om werkgewerbydraes tot die fonds te verhoog, salaris- en pensioenverhogings verstandig te bestuur en om strategiese batetoewysing aan te pas.

Vroeë aftrede

Sithole glo nie die vroeë-aftredepakkette wat in die begroting in Februarie vir die staatsdiens voorgestel is sal die GEPF noemenswaardig raak nie. Dit kan wel die langtermynfinansieringsvlak verbeter, want daar is dan proporsioneel meer jonger lede in die fonds wat vir ’n langer tydperk bydraes kan lewer.

Ongenoteerde beleggings

Die ongenoteerde beleggings van die fonds bedra maar net 5% van die fonds se totale bates, maar die meeste vrae wat tans by die Mpati-kommissie oor die OBK gevra word, gaan oor hierdie beleggings. Sithole meen selfs as dié beleggings afgeskryf sou word, sal die GEPF nog in ’n goeie toestand wees. Maar hy beklemtoon wel elke sent tel, en as daar in totaliteit na die ongenoteerde beleggings gekyk word, vaar dié deel van die portefeulje baie goed. Dit het in die 2018-boekjaar inderdaad met 37% gegroei tot R50,6 miljard.

Diversifiseer

Sithole glo die fonds behoort meer te doen om te diversifiseer, want hy is meer bekommerd oor die oorheersende blootstelling wat die GEPF aan die plaaslike aandelemark en effektemark het. “Dit is belangrik vir die ekonomie dat ons meer moet doen in ongenoteerde beleggings, solank ons dit reg doen.”

Met ongenoteerde beleggings wat tans sowat 5% van die GEPF se totale bates bedra, wou Sithole hom nie uitlaat oor ’n ideale grootte vir dié deel van die portefeulje nie.

Maar die GEPF is ’n wesenlike rolspeler in die plaaslike aandelemark, met tussen 11% en 13% van die JSE wat deur beleggings van die GEPF verteenwoordig word. Wat ook al die fonds doen, sy opbrengs sal deur die wel en weë van die JSE geraak word, het Sithole verduidelik.

Dit is ek, die OBK, die GEPF se raad van trustees en die minister van finansies wat ons moet bekommer oor Steinhoff.
Abel Sithole, hoof van die staatspensioenfonds

OBK

Oor kritiek dat die GEPF nie net die OBK as batebestuurder moet gebruik nie, sê Sithole dit sal nie enige voordeel vir die GEPF bring om sy beleggings aan verskillende batebestuurders in die private sektor toe te vertrou nie. “Al wat sal gebeur is dat ons meer tariewe sal betaal, sonder dat opbrengste noodwendig beter sal wees.”

Volgens hom word tot 70% van die fonds se portefeulje passief bestuur, wat goedkoper is.

Steinhoff

Volgens Sithole hoef GEPF-lede hul nie te bekommer oor die fonds se belegging in die genoteerde meubelhandelaar Steinhoff wie se aandeelprys teen Desember 2017 ineengestort het nie. Die GEPF is ’n vastevoordeelfonds. Lede se pensioen is gewaarborg en word bepaal deur hul diensjare, hul gemiddelde salaris van die afgelope 24 maande en die aangroeikoers van 1/55. As iemand ná 40 jaar met ’n maandelikse salaris van R20 000 aftree, is sy pensioen 40 X R20 000 gedeel deur 55, oftewel R14 545.

“Dit is ek, die OBK, die GEPF se raad van trustees en die minister van finansies wat ons moet bekommer oor Steinhoff.”

Sithole spog dat die GEPF die afgelope tien tot 20 jaar meestal inflasieverwante pensioenverhogings kon betaal of selfs meer as dit, hoewel wetgewing hom verplig om by minstens 75% van inflasie te hou.

Meer oor:  Steinhoff  |  Gepf  |  Obk  |  Abel Sithole  |  Ongenoteerde Beleggings  |  Staatspensioenfonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1398,36 (3102)
  • Top 40 49193,89 (-29239)
  • All Share 55231,05 (-29290)
  • Resource 10 42928,67 (-105989)
  • Financial and Industrial 30 74191,21 (7305)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.