Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Goeie beleggings in infrastruktuur ‘is nié geld mors’

Om in infrastruktuur te belê, is nie dieselfde as om geld in sukkelende staatsondernemings te pomp nie, sê die liggaam wat batebestuursfirmas verteenwoordig.

Batebestuursfirmas verwelkom die klem op infrastruktuur in die regering se ekonomiese herstelplan, maar sê dit sal slegs beleggings lok as dit ’n goeie opbrengs kan belowe.

Leon Campher, uitvoerende hoof van die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa), sê ook die aftreebedryf het nie sy kop in die sand oor die risiko’s van voorgeskrewe bates nie, maar maan teen mense wat paniek daaroor saai.

Campher sê daar blyk ’n “doelbewuste poging” deur die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) te wees om paniek onder Suid-Afrikaanse beleggers oor die onderwerp te saai.

Asisa is die bedryfsliggaam wat al Suid-Afrika se batebestuursfirmas en lewensversekeraars verteenwoordig, onder meer Sanlam, Old Mutual, Alexander Forbes, Allan Gray, Coronation, Discovery, Liberty en PSG.

Die IRR, ’n liberale organisasie wat regeringsinmenging in die ekonomie en alledaagse lewe wil beperk, het van dié firmas die afgelope jaar daarvan beskuldig dat hulle die vraagstuk van voorgeskrewe bates gering skat.

Die organisasie het ’n versoekskrif op sy webwerf waardeur hy lede van pensioenfondse aanmoedig om druk op hul batebestuursfirma te plaas ten einde uit te vind wat hulle doen om te voorkom dat die regering sy hande op private beleggings kan lê. Die IRR glo dit sal moontlik gemaak word deur die wetsontwerp oor onteiening.

Campher sê die afgelope maande het die vennote in die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) – dus die regering, vakbonde, sakesektor en gemeenskapsorganisasies – almal hul planne vir ekonomiese herstel voorgelê. “Nie ’n enkele een het die voorskrywing van bates as ’n moontlike oplossing genoem nie.”

Campher gaan voort: “Let daarop dat nie eens die ANC-besprekingsdokument oor ekonomiese herstel die voorskrywing van bates as ’n opsie noem wat oorweeg moet word nie.”

Campher wys daarop dat voorstelle dat regulasie 28 van die Pensioenfondswet aangepas word om ’n afsonderlike kategorie vir infrastruktuurbeleggings in te sluit, nie dieselfde is as voorskrywing nie.

Asisa is wel gekant daarteen dat pensioenfondse gedwing word om in enige bate te belê.

“Alle aftreefondse het ’n raad van trustees (waarvan 50% deur lede verkies word). Die trustees se taak is om besluite oor batetoewysing te neem wat in die beste belang van die lede is.

“Asisa en sy lede het konsekwent volgehou dat voorskrywing die fidusiêre plig van aftreefondse se trustees in gevaar sal stel.”

Dit wil wel voorkom asof Asisa se interaksie met die ANC-regering vrugte afgewerp het. Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand in ’n nuuskonferensie ná die lekgotla van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gesê beleggings in infrastruktuur moet “sekerder en aanlokliker” gemaak word vir die trustees van pensioenfondse.

Dié verwysing na trustees, sover bekend die eerste sodanige klem, kan beskou word as ’n besef dat daar konflik kan ontstaan tussen die wetlike verantwoordelikhede van trustees en enige poging om hulle te dwing om in sekere bates te belê om staatsprojekte te finansier.

Campher beklemtoon egter dat alle pensioenfondse wêreldwyd in “werklike bates” belê. Hulle speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van enige land.

“Asisa het nog altyd volgehou die probleem in Suid-Afrika is nie die gebrek aan gewilligheid van kapitaalmarkte om te belê nie, maar eerder die afwesigheid van lewensvatbare infrastruktuurprojekte.

“Waar daar lewensvatbare projekte was, is finansiering deur die private sektor beskikbaar gemaak. ’n Goeie voorbeeld is die projek vir onafhanklike kragprodusente (IPP’s), wat meer as R200 miljard se finansiering van die private sektor gelok het.”

Campher beklemtoon ook dat beleggings in infrastruktuur nié gelykgestel moet word aan “geld pomp in staatsondernemings” nie.

Wat is regulasie 28?

Regulasie 28 is die regulasie wat die maksimum voorskryf wat ’n pensioenfonds in enige bate of bateklas mag belê, teoreties ten einde risiko te versprei.

Die regulasie bevat egter bepaalde teenstrydighede, soos dat ’n pensioenfonds 100% van sy bates in kontant mag hou (maar nie meer as 25% in een bank- of geldmarkrekening nie).

Hulle mag ook reeds 100% van hul geld in staatseffekte belê.

Wat infrastruktuurbeleggings van die staat betref, is die regulasie met betrekking tot ongenoteerde produkte van belang. Aftreefondse mag tot 35% van hul geld in ongenoteerde bates belê, maar ook onderhewig aan die volgende perke:

  • Tot 10% in ongenoteerde aandele;
  • Tot 25% in genoteerde skuldinstrumente van ’n ongenoteerde maatskappy of tot 15% as die skuldinstrument nie genoteer is nie;
  • Tot 10% in private ekwiteit; en
  • Tot 2,5% in “ander” bates.

Campher sê dis Asisa se siening dat die perke nie keer dat aftreefondse méér in infrastruktuur belê nie. Die liggaam het reeds met die tesourie in gesprek getree oor die volgende:

  • Infrastruktuurprojekte moet ’n mededingende risiko-aangepaste opbrengs oplewer.
  • Skuldbriewe wat vir spesifieke projekte uitgereik word, sal dit vir fondse makliker maak om in infrastruktuur belê. Ramaphosa het juis Maandagaand na “projekskuldbriewe” verwys.
  • ’n Lys lewensvatbare infrastruktuurprojekte met kontraktueel betroubare inkomstebronne moet beskikbaar wees, wat nie tans die geval is nie.

Asisa voel ook dat regstreekse infrastruktuurinvestering, dus in ongenoteerde projekte, meer geskik is vir groot aftreefondse met vaste voordele. Die land se grootste vastevoordelefondse – die staatsdienspensioenfonds (GEPF), Transnet se pensioen- en voorsorgfonds en Telkom se pensioenfonds – word nie deur die Pensioenfondswet gereguleer nie en is daarom nie aan regulasie 28 onderhewig nie. Enige verandering aan regulasie 28 sal hulle dus nie raak nie.

Vordering gemaak

Campher sê aftreefondse is ook nie die enigste potensiële beleggers in infrastruktuurprojekte nie. Banke en ontwikkelingsinstellings soos die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika leen gewoonlik die aanvangskapitaal vir projekte en onttrek dan sodra die projek aan die gang is. Lewensversekeraars en batebestuursfirmas koop dan aandele en verskaf bykomende kapitaal.

Asisa is reeds agt jaar met die regering in gesprek daaroor om ’n “instaatstellende omgewing” te skep waarin die private sektor die regering kan bystaan om infrastruktuur te finansier.

Campher beskryf die lys strategiese infrastruktuurprojekte wat onlangs in die Staatskoerant gepubliseer is, as ’n belangrike teken dat daar tasbare vordering gemaak word. Hy loof ook die oprigting van die beleggings- en infrastruktoorkantoor in die presidensie, wat eersdaags Infrastruktuur Suid-Afrika onder leiding van dr. Kgosientsho Ramokgopa gaan word.

LEES OOK: Konstruksie skepties oor al Cyril se projekte

Die feit dat infrastruktuurprojekte nou vir die eerste keer sentraal gekoördineer word, maak die proses vinniger en doeltreffender, volgens hom. Asisa en die land se banke help om die kantoor met vaardighede toe te rus.

Meer oor:  Irr  |  Asisa  |  Aftrede  |  Infrastruktuur  |  Pensioenfondse  |  Staatseffekte  |  Voorgeskrewe Bates  |  Aftreebeplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.