Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Hoe vroeër jy wakker skrik, hoe beter

Te min Suid-Afrikaners begin vir aftrede beplan wanneer hulle jonk is. Die meeste van hulle is later spyt dat hulle te laat begin het.

Begin met jou eerste salaristjek al spaar vir jou aftrede, al voel dit ver inn die verskiet. Foto: Unsplash

Volgens 10X Investment se eerste aftreeverslag, wat onlangs uitgereik is, dink net 22% van respondente wat aan ’n peiling deelgeneem het aan die begin van hul loopbaan aan hul aftreeplan.

Maar meer as 50% van hulle sê as hulle oor kon begin, sou hulle dinge anders doen.

Die verslag, “Retirement Reality Report” (RRR), is die eerste omvattende verslag deur 10X oor hoe gereed Suid-Afrikaners vir aftrede is.

Die plan is om dit voortaan jaarliks te doen.

Die peiling, wat deur Brand Atlas gedoen is, het meer as ’n miljoen Suid-Afrikaners by aanlyn peilings betrek.

Die land het volgens Statistieke Suid-Afrika 11,9 miljoen ekonomies aktiewe Suid-Afrikaners wat meer as R7 600 per maand verdien.

Net 7% van mense van alle ouderdomme sê hulle het ’n behoorlike aftreeplan wat hulle uitvoer. 41% het géén plan nie.

“Dit onderstreep die omvang van die krisis,” sê Christopher Eddy, senior beleggingsontleder van 10X.

’n Ander groot opname oor aftreebeplanning, Sanlam se Benchmark-verslag, het verlede jaar bevind 17,37% van werkende Suid-Afrikaners reken dat hulle “in die moeilikheid” is wat aftreebeplanning betref.

“Dis meer as ’n bietjie kommerwekkend dat die situasie nie veel verander het die afgelope 20 jaar nie, ondanks die bestaan van ’n groot en finansieel sterk aftreespaarbedryf,” sê Eddy.

10X is een van die eerste firmas in die land wat uittree-annuïteite aangebied het wat op indeksvolgfondse gegrond is en wat boonop nie polistipe beleggings is nie.

Die firma, wat homself as ’n ontwrigter beskryf, sê nou al geruime tyd tradisionele batebestuurders die stryd aan. Die belangrikste strydpunt was tot dusver die koste van beleggings-produkte. As koste 3% beloop – die bedryfsgemiddelde – is die uiteindelike waarde van jou aftreegeld 40% minder as wanneer dit 1% beloop, die koste wat 10X vra.

Met die RRR hoop 10X om behoorlike data oor die aftreewerklikhede van Suid-Afrikaners te skep, in die hoop dat dit mense sal laat wakker skrik.

Volgens die navorsing begin sowat 46% van die respondente eers vir aftrede beplan wanneer hulle lewensmaats het of wanneer hulle kinders kry. Dit beteken juis hulle gee baie belangrike jare prys.

Vorige studies het ook al bewys dat die eerste tien jaar van jou aftreespaargeld eindelik die meeste tel danksy die voordeel van saamgestelde groei – selfs al dra jy relatief min by aan die begin van jou werkloopbaan.

Eddy sê konsekwente bydraes tot jou aftreespaargeld is die sleutel tot sukses.

“Die voordele van vroeg begin spaar kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit kan baie moeilik wees om vir aftrede te begin spaar wanneer jy begin werk, en aftrede lyk ligjare ver. Maar as jy vroeg begin en net ’n bietjie elke maand wegsit en dit los om oor die dekades te groei, is dit baie meer haalbaar as wanneer jy laat begin en probeer inhaal.”

Dis belangrik om te onthou dat, al is jy hóé arm met jou eerste salaris, dit nie makliker gaan word om vir aftrede te spaar wanneer jy begin dink aan huiskoop of doeke vir kinders moet koop nie.

Volgens 10X se berekeninge kan iemand wat op 25 jaar R1 000 per maand vir aftrede spaar en dit dan op 40 jaar staak – om watter rede ook al – meer geld op 65 jaar sal hê as iemand wat eers op 35 jaar begin spaar en dan aanhou spaar tot 65 jaar.

Vroeg begonne is half gewonne.

Dit beteken die 15 jaar wat jy aan die begin spaar, gaan meer beteken as geld wat jy dubbel so lank spaar, maar wat nie so lank saamgestelde opbrengs verdien nie.

Dié som wys ook waarom dit so ongelooflik belangrik is dat mense nié aftreespaargeld onttrek wanneer hulle van werk verander nie. Die argument is dikwels dat dit “mos” nog min geld is, maar dit kyk die uitwerking mis van saamgestelde opbrengs.

Die Benchmark-peiling het juis bevind 62% van mense onttrek hul aftreegeld wanneer hulle van werk verander of as hulle afgelê word. Dit word as een van die fatale foute in aftreebeplanning beskryf.

Die grafiek veronderstel werklike groei (dus ná inflasie) van 6,5% per jaar, wat weliswaar in die huidige laegroei-omgewing ietwat optimisties is.

As jy van jou eerste salaristjek af vir aftrede spaar, kan jy ’n kleiner persentasie van jou salaristjek daarvoor wegsit. As jy later begin, gaan jy ’n baie groter persentasie moet wegsit om te verseker dat jy ná aftrede jou leefstyl kan volhou.

10X se formule vir sukses is dat jy 15% van jou inkomste van die eerste dag tot met jou aftrede, dus sowat 40 jaar lank, wegsit. Jy moet dit belê in ’n goed gediversifiseerde fonds met hoë aandeleblootstelling en lae koste, sê Eddy.

Allan Gray se navorsing is effens meer konserwatief: Dié batebestuursfirma stel voor dat 25-jariges 17% van hul salaris vir aftrede spaar. As hulle egter tot 30 wag, moet hulle 22% spaar; tot 40 ’n hele 42% en tot 45 ’n baie onrealistiese 59%.

“Die goeie nuus is dat die basiese beginsels van spaar vir aftrede nie werklik ingewikkeld is nie. En tegnologie maak dit selfs makliker.”

Aftree-sakrekenaars is op verskeie webwerwe beskikbaar wat vir jou ’n goeie aanduiding sal gee waar jy tans staan.

Mense wat nié genoeg vir aftrede gespaar het nie, en nie realisties gesproke kan inhaal nie, sal moet aanvaar dat hulle langer sal moet werk en hul leefstyl dramaties sal moet inkort.

Meer oor:  Sanlam  |  10X Investments  |  Aftrede  |  Oos-Kaap Naweek  |  Aftreebeplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.