Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Hoop flikker op oor Transnet-pensioen
'n Lid van Transnet se pensioenfonds. Foto: Deon Raath

Die einde van Transnet-pensioentrekkers se dispuut met die staatsvervoergroep en sy pensioenfondse is in sig, sê die prokureursfirma Geyser en Coetzee wat die pensioentrekkers in hul groepseis teen Transnet verteenwoordig.

Die skikkingsamesprekings tussen die partye is in ’n baie gevorderde stadium, het Wynanda Coetzee, prokureur van Geyser & Coetzee, Woensdag op die firma se webruimte aangekondig.

Die pensioentrekkers eis meer as R80 miljard van Transnet en die Transnet-tweedevastevoordeelfonds, asook die Transnet-subfonds van die Vervoerpensioenfonds vir wat hulle beskou as agterstallige en uitstaande pensioenbetalings en verhogings wat van hulle weerhou is weens swak beleggingsbesluite van Transnet en die pensioenfondse van jare gelede.

’n Krimpende aantal pensioentrekkers – in die vroeë 2000’s was daar meer as sowat 80 000 pensioentrekkers en begunstigdes teenoor die huidige sowat 50 000 – het sedert die vroeë 2000’s ’n statutêre jaarlikse pensioenfondsverhoging van slegs 2% ontvang, terwyl jaarlikse inflasie in dié tydperk veel hoër was en hul mediesefonds-paaiemente teen veel hoër as inflasie gestyg het.

Dit is ondanks beloftes van Transnet in die laat 1990’s dat die pensioentrekkers inflasieverwante verhogings sou ontvang.

Die pensioentrekkers se voortslepende groepseis is egter die afgelope jare telkemale deur Transnet se regsverteenwoordigers op regstegniese en ander punte vertraag. Te midde van skikkingsonderhandelings ná verskeie pogings van politici en ander om tussenbeide te tree, is ’n hofdatum vir die groepseis uiteindelik vir 7 Oktober vanjaar vasgestel.

Coetzee sê hulle is egter vol vertroue dat ’n ooreenkoms binnekort beklink kan word, en dit sal ’n ooreenkoms wees wat “tot voordeel van die pensioentrekkers sal wees inaggenome die besondere omstandighede van elke pensioentrekker”.

Vroeëre pogings om te skik het verlede jaar vasgeval nadat die pensioentrekkers nie Transnet se aanbod wou aanvaar nie.

Tom Dunn, ’n oud-Transnet-werknemer en lid van die Transnet-pensioentrekkeraksiegroep (TPAG), het op Facebook pensioentrekkers gewaarsku om nie te val vir enigiemand wat aan hulle vorms gee om in te vul met hul persoonlike besonderhede om kwansuis vir die skikkingsgeld aansoek te doen nie.

“Jy hoef niemand geld te betaal nie en jy hoef aan niemand jou pensioennommer te gee om die geld te ontvang nie. Jou besonderhede is op rekord by die pensioenfonds en dit is al wat nodig is. Wees asseblief baie versigtig.”

Dit is omdat daar bedrieërs rondloop om met skelmstreke van die bejaardes uit hul geld te bedrieg.

Die TPAG het onlangs gewaarsku teen mense wat blykbaar die pensioentrekkers se regspan en vir adv. Anton Alberts, ’n politikus van die VF Plus, beswadder. Dit blyk mense verstaan nie die rol van die regspan in die hofproses en Alberts se rol in die sage nie. Hulle het die regspan beledig, van onbevoegdheid beskuldig en hulle selfs vir hul klein pensioene geblameer.

Die TPAG het daarop gewys die regspan tree pro bono op, met ander woorde hulle vra nie geld vir hul dienste nie.

Transnet het tot dusver nog altyd in sy jaarverslag gemeld die pensioentrekkers se eis sal nie slaag nie. Transnet hou vol hy en sy pensioenfondse het niks verkeerd gedoen wat tot die pensioentrekkers se geldknyp gelei het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.