Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
IRR: Is jy séker jou pensioen word teen staat beskerm?

Skryf aan jou pensioenfonds en vra wat hulle doen om jou aftreegeld te beskerm.

Dís die pleidooi van die Instituut van Rasseverhoudinge (IRR) aan gewone Suid-Afrikaners wat bekommerd is oor moontlike regeringsinmenging in hul aftreespaargeld.

oud, bejaarde, pensioen
Die Instituut van Rasseverhoudinge is bekommerd oor wat die invloed van moontlike regeringsinmenging in aftreespaargeld gaan wees. Foto: Pixabay

Die IRR sê versoekskrifte van pensioenfondslede is die eerste fase van sy veldtog teen dreigende veranderinge aan wetgewing oor voorgeskrewe bates. Dit kom na aanleiding van die ANC-verkiesingsmanifes, waarin die party sê hy wil pensioenfondse verplig om in infrastruktuurprojekte te belê ten einde die ekonomie te laat groei.

Die IRR beskou dit as ’n “werklike bedreiging” vir Suid-Afrika se aftreespaargeld, wat nagenoeg R4 000 miljard beloop. Bykans die helfte daarvan is die spaargeld van staatsamptenare.

In die veldtog Help us protect your savings op die IRR se webwerf skryf die IRR hy het voorheen gewys hoe die Onteieningswetsontnwerp gebruik kan word om nie net op grond nie, maar ook op alle private eiendom – insluitende beleggings – beslag te lê. “Die IRR het ook aangetoon dat die regering en die ANC voorrade van staatsgeld uitgeput het en nou private geld teiken ten einde patronaat-netwerke te onderhou.”

Isaah Mhlanga, uitvoerende hoofekonoom van Alexander Forbes Investments, het onlangs aan Rapport gesê voorgeskrewe bates word nog net op partypolitieke vlak bespreek, “maar die ANC is tog die regerende party”.

Die IRR het Woensdag ’n memorandum aan die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa), die bedryfsliggaam wat batebestuursfirmas en versekeraars verteenwoordig, oorhandig by Asisa se kantoor in Rosebank, Johannesburg.

Tot dusver was die bedryf se reaksie op voorgeskrewe bates betreklik gedemp en die IRR sê Asisa weier om met hom in gesprek te tree oor sy veldtog. ’n Woordvoerder van Asisa het aanvanklik aan Netwerk24 gesê hulle gaan nie kommentaar lewer op ’n ander organisasie se veldtog nie. (Asisa het later wel kommentaar gelewer op dié vraag, wat in ’n opvolgberig uiteengesit sal word.)

Die IRR wys daarop dat Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, in Junie – dus ná die verkiesing – opnuut hierna verwys het.

Die IRR sê hy gaan die groot fondsbestuurders in die land nader “om te bevestig dat hulle bewus is van dié baie werklike bedreiging van Suid-Afrikaners se spaargeld” en om uit te vind wat hulle doen om dit te beskerm.

“Ons is bekommerd dat die spaar- en beleggingsbedryf onbewus is van die bedreiging van pensioene – ’n versoek met ’n groot bedryfsorganisasie is reeds geweier.”

Die IRR gaan as ’n derde stap ook ondersoek instel of regstappe om pensioene te beskerm, “haalbaar” is.

Om gedwing te word om in voorgeskrewe staatsbates te belê, beteken dat die pensioene van Suid-Afrikaners minder werd gaan wees as hulle aftree.
Instituut van Rasseverhoudinge

Die IRR het ook in Februarie voor Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede ’n Twitter-veldtog begin onder die hutsteken #TellTito, waardeur mense gevra is om by hom te pleit om hul pensioenfondsgeld uit te los.

“Die instelling van ’n beleid van voorgeskrewe bates om pensioenfondse en ander batebestuurders te dwing om in sekere maatskappye en sektore te belê, gaan net onteiening sonder vergoeding onder ’n ander naam wees.

“Om gedwing te word om in voorgeskrewe staatsbates te belê, beteken dat die pensioene van Suid-Afrikaners minder werd gaan wees as hulle aftree, of hulle sal langer moet werk om gemaklik te kan aftree.

“Die enigste rede hoekom die regering daarna kyk, is vanweë die groot en onvolhoubare regeringsbesteding, veral sedert 2009.”

Alexander Forbes raam dat ’n lid van ’n vastebydrae-pensioenfonds se pensioen tot 14% minder van sy salaris voor aftrede kan wees as die fonds gedwing word om in voorgeskrewe bates soos effekte van munisipaliteite en staatsbeheerde ondernemings te belê, het Rapport berig.

Om vir dié verlore inkomste te vergoed, sal ’n werknemer jaarliks ’n bykomende 3,5% van sy salaris tot die fonds moet bydra, reken hulle.

Janina Slawski, hoofbeleggingskonsultant by Alexander Forbes Investments, het aan Rapport gesê as lede van vastebydraefondse net altesaam 1% minder per jaar op hul bates verdien, sal hulle veel minder geld by aftrede hê weens die potensiële swakker prestasie van voorgeskrewe bates vergeleke met ’n gediversifiseerde portefeulje met groot blootstelling aan aandele volgens keuse.

LEES OOK: ‘Pensioen tot 14% minder’ weens dié plan

Vastevoordeelfondse (soos die staatsdienspensioenfonds) se uitbetalings word gewaarborg, maar met laer opbrengste kan dié fondse se vermoë om verhogings te betaal, in gedrang kom.

Leon Campher, uitvoerende hoof van Asisa, het in reaksie in ’n verklaring gesê hulle beskou voorgeskrewe bates as dwang om in staatseffekte en die effekte van staatsondernemings te belê.

“Die konsep is die eerste keer deur die vorige apartheidsregering bekend gestel en is oor die jare heen periodiek deur verskeie politieke partye geopper.

“Die konsep van voorgeskrewe bates sal die spaar- en beleggingsbedryf dwing om die spaargeld van gewone Suid-Afrikaners te ontplooi na entiteite wat in die onlangse verlede betrek is by staatskaping en ’n gebrek aan dienslewering. As bewakers van dié spaargeld moet ons dit teenstaan.”

Hy sê ook: “Dit het nie gewerk toe die apartheidsregering dit ingestel nie en Asisa en sy lede hou vol dit sal ’n negatiewe uitwerking op die land hê as dit nou in werking gestel word.”

Hy sê Asisa het “uitgebreid in gesprek getree” met ministers, sowel regstreeks as deur middel van Business Unity South Africa en die CEO Initiative. Hy sê die regering van pres. Cyril Ramaphosa het goed saamgewerk en hy glo indien voorgeskrewe bates ook ter tafel gelê word vir bespreking deur die regering, sal “gesprekvoering met ons bedryf ewe konstruktief wees”.

Campher sê ook as pensioenfondse se trustees gedwing word om bateklastoewysings te doen wat nie in lede se beste belang is nie, sal hulle hul fidusiêre plig versaak.

Asisa glo wel baie van die land se uitdagings kan met doeltreffende openbare-private vennootskappe te bowe gekom word.

“Asisa is aktief betrokke om met die regering saam te werk oor die finansiering van infrastruktuur vir water, energie en studenteverblyf... Die probleem is nie die gebrek aan gewilligheid van kapitaalmarkte om te investeer nie, maar ons moet lewensvatbare projekte hê.” 

Campher sê Asisa-lede het reeds sowat R1 300 miljard ontplooi ter ondersteuning van die regering, plaaslike owerhede en staatsondernemings. (Dis uit R7 800 miljard se totale beleggings by batebestuursfirmas en versekeraars, nie net pensioenfondsgeld nie.)

Meer oor:  Staatspensioenfonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2381,58 (472)
  • Top 40 48158,37 (4141)
  • All Share 53874,52 (3359)
  • Resource 10 42374,38 (-13158)
  • Financial and Industrial 30 72821,17 (16551)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.