Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Kloue uit vir staatswerkers se aftreegeld

Die oorskot in die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), die geld van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), en selfs ’n betalingsvakansie aan die Staatspensioenfonds (GEPF) kan miljarde rande ontsluit om die regering te finansier.

Dr. Nelia Orlandi van die parlementêre begrotingskantoor.

Dít is van die drastiese stappe wat die parlementêre begrotingskantoor (PBO) verlede week voorgestel het in reaksie op die aanvullende begroting.

Dié alternatiewe siening oor staatsfinansies wat effens onder die radar verbygeskuif het, kan deur kenners beskou word as van die aggressiefste teenkanting tot nog toe vanuit regeringskringe self teen Tito Mboweni, minister van finansies, en die nasionale tesourie se pogings tot besparing.

Dié skerp nuwe klem vanuit staatskringe op omstrede beleid soos voorgeskrewe bates en om staatsamptenare se aftreegeld vir die finansiering van die begroting te gebruik, het Vrydag ’n relatief skerp reaksie van die gewoonlik terughoudende Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, ontlok toe die tesourie amptelik in die parlement moes reageer op openbare voorleggings oor die aanvullende begroting.

Hiervoor is Mogajane se kop op sy beurt behoorlik gewas deur die ANC-beheerde voorsitters van die staande en gekose komitees vir finansies.

Gee betalingsvakansie  

Die hele balansstaat van die regering behoort gebruik te word om op die Covid-19-krisis te reageer, is van die voorstelle van die PBO.

’n Betalingsvakansie aan die GEPF beteken die staat hoef dan ook nie by te dra tot die pensioenfonds nie, wat R75 miljard per jaar aan die staatskas kan ontsluit.

Dit kan insluit ’n betalingsvakansie aan die GEPF, wat R75 miljard per jaar aan die staatskas kan ontsluit, terwyl die OBK steeds voldoende reserwes handhaaf.

Dit is van die drastiese voorstelle wat dr. Nelia Orlandi van die PBO verlede week aan die parlement se finanskomitees gedoen het.

Orlandi het nie uitgebrei oor wat presies so ’n betaalvakansie behels nie, maar dit is moontlik dat dit iets soortgelyk kan wees waar private pensioenfondse tydens die Covid-19-inperking aan hul lede gebied het om bydraes vir ’n tydperk te staak.

Orlandi het verwys na ’n dokument wat Michael Sachs, ’n voormalige adjunk-direkteur-generaal van die tesourie wat aan die hoof van die tesourie se begrotingskantoor was, waarin hy aanvoer dat die regering sy volledige balansstaat moet gebruik om die ekonomie te red.

Gebruik WVF se oorskot

Volgens Sachs sluit die staat se balansstaat bykans R2 000 miljard van die OBK en die WVF in. Die WVF se oorskot kan tot nul afgebring word, en met al die kontant beskikbaar kan die nasionale tesourie die regering vir sowat agt maande finansier sonder dat hy op die kapitaalmark hoef te gaan geld leen.

Sachs, tans ’n besoekende professor in ekonomie aan Wits, was die leier van ’n groep kommentators wat vroeër vanjaar voorgestel het dat die regering ’n eenmalige welvaartbelasting op rykes hef om vir die stryd teen Covid-19 te betaal. Hy is ook in Junie aangestel in pres. Cyril Ramaphosa se adviesraad oor staatsondernemings.

Die PBO stel benewens Sachs se voorstelle voor dat die regering geld van die Suid-Afrikaanse Reserwebank leen. Hulle meen die bankwaarborgskema van R200 miljard as deel van Ramaphosa se R500 miljard Covid-19-plan is grootliks ondoeltreffend en kan eerder aangewend word vir die regering se gesondheid- en ekonomiese stimulusreaksie.

Die PBO meen die tesourie se fiskale beleid is uitgedien en verkeerd omdat dit gegrond is op ’n ekonomiese siening dat die regering nie fiskale beleid moet gebruik om die ekonomie te stimuleer nie, en dat ’n begrotingsoorskot die ideaal is waarna gemik moet word.

Die PBO meen dit is foutief en uitgedien om te dink dat groter staatskuld tot laer private investering lei.

Die PBO voer aan die meeste hoofstroom-ekonome steun deesdae ’n uitbreidende fiskale beleid te midde van ekonomiese insinkings. Dié ekonome erken deesdae dat staatsbesteding die medium- tot langtermyngroei van die ekonomie kan aanspoor, al beteken dit ’n begrotingstekort.

Ander siening van ekonome

Orlandi het aangevoer ’n primêre begrotingsoorskot beteken die regering se uitgawes, behalwe rentebetalings is minder as sy inkomste. Dit impliseer die regering vat meer geld weg van die private sektor as wat hy in die private sektor insit. Dit beteken volgens haar dat die regering minder bestee om infrastruktuur en noodsaaklike dienste te voorsien en in stand te hou, wat meebring dat huishoudings en sakelui meer moet uitgee om vir die gebrek aan staatsvoorsiening te vergoed. Dit lei tot hoër koste, kleiner inkomste en laer winste vir sakelui, en minder werkskepping.

Adamus Stemmet, woordvoerder van die Vereniging vir die Monitering van Staatspensioene (AMAGP), het vroeër daarop gewys dat regulasie 28 van die Pensioenfondswet wat vir voorgeskrewe bates voorsiening kan maak, nie op die GEPF van toepassing is nie omdat die GEPF nie onder die Pensioenfondswet val nie. Hy sê wel die trustees van die GEPF het die riglyne van regulasie 28 enkele jare gelede reeds vrywillig aanvaar, wat die deur wel oopmaak vir die “onwettige misbruik” van die GEPF.

Stemmet meen dit lyk asof kommentators en die publiek vergeet dat die geld wat lede van die GEPF oor hul werksjare tot die fonds bygedra het, slegs belê en gebruik mag word om aftreevoordele vir dié lede te voorsien. Enige ander gebruik van die geld sal neerkom op die misbruik van die fonds en is onwettig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.