Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Kommer dat verslag oor GEPF geheim is

Die staatsdienspensioenfonds (GEPF) het al verlede jaar ’n aktuariële verslag oor die gesondheid van die fonds gekry, maar weier steeds om dit bekend te maak.

Abel Sithole, uitvoerende hoof van die GEPF.

Die GEPF moet kragtens wet gereeld ’n aktuariële waardasie van die fonds doen om te bepaal tot hoe ’n mate die fonds in staat is om sy toekomstige verpligtinge teenoor afgetrede staatsamptenare na te kom.

Die GEPF is ’n vastevoordeel-fonds, wat beteken amptenare se toekomstige inkomste word gewaarborg. Die GEPF – en by gebrek daaraan belastingbetalers – sal dus ’n manier vind om elke maand hul pensioene te betaal.

Die laaste waardasie beoordeel die stand van die fonds soos op 31 Maart 2018. Die raad van trustees het dit in Desember onder oë gehad, maar die GEPF het by navraag gesê dié waardasie is by die minister van finansies vir insae en hulle gaan nie verklap wat daarin staan nie.

Luidens die GEPF se jongste jaarverslag sou dié waardasie al einde verlede jaar bekend gewees het.

Die laaste amptelike aanduiding van die GEPF se gesondheid is van 31 Maart 2016. Dié waardasie het aangedui die GEPF kon toe sy verpligtinge nakom.

Baie water het egter intussen in die see geloop.

Christo van Dyk, ’n afgetrede ouditeur wat ’n staatspensioen ontvang, sê die GEPF se langtermyn-finansieringsvlak was in 2006 laas op 100%, die teikenvlak wat die trustees self gestel het.

Luidens die 2016-waardasie was die finansieringsvlak op 73,3%. Op 31 Maart 2014 was dit op 83,1%.

’n Vlak van onder 100% beteken nie noodwendig die fonds sal nie sy verpligtinge kan nakom nie, maar dat sekere verstellings gedoen moet word om die trustees se teiken van ’n veilige 100%-vlak te haal.

Van Dyk sê dit is kommerwekkend dat die fonds geen aanduiding gee van wat hy gaan doen om die vlak van 100% weer te haal nie.

Hy sê volgens sy berekeninge was die tekort tussen 2018 se bates van R1 800 miljard en die langtermyn-finansieringsvereistes van 2016 minstens R200 miljard.

Gegrond op die neiging wat ons sedert 2010 sien, kan die tekort volgens my ruwe skatting nader aan R469 miljard wees.
Christo van Dyk

“Gegrond op die neiging wat ons sedert 2010 sien, kan die tekort volgens my ruwe skatting nader aan R469 miljard wees.”

Intussen sê die Vereniging vir die Monitering en Voorspraak van Staatspen­sioene (AMAGP) op grond van Van Dyk se ontledings is die groep bekommerd oor die “ooglopend swak volhoubaarheidsituasie” van die GEPF “wat toenemend jaar ná jaar versleg”.

Adamus Stemmet, AMAGP-woordvoerder, sê die jongste aktuariële verslag sal wys wat die werklike situasie nou is, maar omdat dit “om die een of ander rede teruggehou word, skep dit onnodige agterdog dat alles nie pluis is nie en dat die GEPF nie in die gesonde situasie is soos aan ons voorgehou word nie”.

Die GEPF het by navraag net gesê die trustees het dit in Desember onder oë gehad, en kragtens die Wet op die Staatsdienspensioenfonds is dit aan die minister gestuur, en dit sal eers later bekend gemaak word.

’n Bron in die GEPF het aan Rapport gesê die syfers kan nie bekend gemaak word voordat dit in die bedingingsraad bespreek is nie.

Die bron sê egter hulle is “tevrede dat die fonds gesond is”.

Die GEPF haal die laaste paar jaar die minimum finansieringsvlak. Luidens die 2018-jaarverslag was die vlak op 31 Maart 2014 op 121,5% en op 31 Maart 2016 op 115,8%. Van Dyk sê daar is min rede om te glo dat die situasie verbeter het.

Reeds in die 2016-waardasie is swakker as verwagte beleggingsopbrengste uitgewys as ’n faktor wat druk op die fonds plaas, sê Van Dyk.

Meer oor:  Obk  |  Adamus Stemmet  |  Obk-Ondersoek  |  Gepf  |  Pensioenfondse  |  Staatsamptenare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2085,82 (-20024)
  • Top 40 51145,55 (37671)
  • All Share 57123,78 (34185)
  • Resource 10 44133,06 (45362)
  • Financial and Industrial 30 78010,93 (42741)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.