Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Lede van GEPF-stiefkind wag maande vir verhoging

Nie net lede van die staatspensioenfonds (GEPF) sukkel met swak administrasie nie.

Lede van ’n relatief onbekende staatspensioenfonds, die sogenaamde Geassosieerde Instellingspensioenfonds (AIPF), moes soos die lede van die GEPF in April hul verhoging van 5,2% ontvang het, maar moes tot Augustus wag voordat dit uiteindelik, en darem terugwerkend, betaal is.

Die minister van finansies vervul dié rol en moet jaarliks die AIPF se verhoging goedkeur. Foto: Pixabay

Attie Botha, ’n afgetredene van Centurion wat vir 40 jaar in die sorghumbierbedryf se bemarkingsraad gewerk het, sê hy het sedert April gesukkel om by die AIPF navraag te doen oor waarom die fonds sloer om die nuwe verhoging oor te betaal.

Die antwoord wat hy telkens telefonies ontvang het, is dat die “raad dit nog nie goedgekeur het nie”. Dít terwyl dit bekend is dat dié fonds nie eens ’n raad van trustees het nie.

Die verhoging is uiteindelik wel verlede week betaal.

Adamus Stemmet, woordvoerder van die Vereniging vir die Monitering en die Bevordering van Staatsdienspensioene (AMAGP), sê die AIPF is soos ’n stiefkind van die GEPF. Benewens mense soos Botha, behoort afgetrede akademici van universiteite en tegniese kolleges, afgetredenes van die WNNR en ander soortgelyke navorsingsrade aan die AIPF.

Die GEPF en die administratiewe agentskap van die staatspensioenfonds behartig ook die administrasie van dié fonds, maar volgens Stemmet het die AIPF nie sy eie raad van trustees nie. Die minister van finansies vervul dié rol en moet jaarliks die verhoging goedkeur.

“Dit is werklik net ’n handtekening wat benodig word, aangesien hulle jaarliks dieselfde verhoging as lede van die GEPF kry.”

Stemmet verduidelik hulle kry by AMAGP jaarliks klagtes oor die laat betaling van die AIPF se verhogings. Dit blyk die AIPF-lede kry nie dieselfde voordele as GEPF-lede nie. Hulle kry volgens hom nie die begrafnisvoordeel van R15 000 per lid of die kindervoordeel van R6 000 nie.

Die AIPF word gereguleer deur die Wet op die Geassosieerde Instellingspensioenfonds wat in 1963 van krag geword het.

Navrae aan die staatsagentskap wat die fonds se administrasie behartig en navrae aan die GEPF is nog nie beantwoord nie.

Teen 2013 het die nasionale tesourie in ’n parlementêre antwoord op ’n vraag van adv. Anton Alberts van die VF Plus gesê daar is 2 521 lede van die AIPF. Navrae wat in 2018 aan die tesourie gestuur is oor wat die jongste ledetal is, is nog onbeantwoord.

In ’n onbeantwoorde brief in 2018 wat prof. Ian Bunting en prof. David Welsh, afgetrede akademici van die Universiteit van Kaapstad, aan die nasionale tesourie geskryf het, sê hulle dat hulle onder die indruk gebring is dat die AIPF aan die GEPF gekoppel is, en hulle dus op dieselfde voordele geregtig is as wat GEPF-lede geniet.

Dié indruk is versterk deur die feit dat hulle lidmaatskapkaarte met die GEPF se naam daarop ontvang het toe hulle onderskeidelik in 1997 en 2004 afgetree het. Hulle het ook gereeld nuusbriewe van die GEPF ontvang. Dit het hulle laat glo dat die GEPF se raad van trustees dus ook vir AIPF-lede verantwoordelik is, dat AIPF-lede sou kon stem in trusteeverkiesings en dat veranderinge aan GEPF-voordele outomaties vir AIPF-lede sou geld.

Bunting en Welsh het verwys na ’n verslag oor ’n beslissing van die pensioenfondsberegter in 1998 waarin die nasionale tesourie as trustee van die AIPF genoem word. Die webblad van die staatspensioen-administrasieagentskap noem ook dat die AIPF die verantwoordelikheid van die nasionale tesourie is.

Die twee professore vra verder in die brief hoe die verhouding tussen die tesourie en die GEPF werk in die hantering van AIPF-lede, en wie werklik watter verantwoordelikhede jeens die AIPF het.

Hulle het tot vandag toe nog nie antwoorde op dié vrae van die tesourie ontvang nie.

Die AIPF se bates word ook deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) bestuur, hoewel dit teen Maart 2017 maar 0,77% van die OBK se bates onder bestuur bedra. Volgens die OBK se 2017-jaarverslag het hy ’n ander beleggingsmandaat van die AIPF as van die GEPF. Bunting en Welsh wou weet hoe dié mandaat bepaal en gemonitor word.

Hulle is besorg oor ’n regulasie wat in 1976 in die Staatskoerant gepubliseer is wat bepaal dat die eggenoot van ’n afgestorwe AIPF-lid geregtig is op ’n 50%-pensioen. Hulle kon nog nie uitvind of dié regulasie steeds geld en of dit gewysig kan word as soortgelyke GEPF-regulasies gewysig word nie.

Meer oor:  Staatsondernemings  |  Gepf  |  Pensioenfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.