Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Lewende annuïteite se glans verdof dalk só

Lewende annuïteite kan minder gewild word indien voorgestelde beperkinge op verstekopsies vir pensioenfondse in werking tree.

geldsake
As jy ná 1 Maart 2019 aftree en nie kies wat van jou aftreegeld word nie, sal dit in jou pensioenfonds se verstekopsie belê word. Foto: Pixabay

Alle pensioenfondse moet vanaf 1 Maart ’n verstekopsie by aftrede bied vir lede wat nie self ’n besluit wil of kan neem nie. Die trustees van die fonds besluit dus of ’n lewende annuïteit – waar die lid self kies hoeveel hy of sy wil onttrek – of ’n gewaarborgde annuïteit van ’n lewensversekeraar die mees geskikte opsie vir hul gemiddelde lid sal wees.

Pensioenfondslede sal steeds hul eie opsies kan uitoefen.

Die verstekopsies word ingestel omdat marknavorsing daarop dui dat die meeste mense eerder die verstekopsie sal kies as om self besluite oor hul geldsake te neem.

Sowat 80% van mense wat aftree, koop ’n lewende annuïteit wat buigsaamheid bied vir ’n aftree-inkomste. ’n Pensioentrekker kan tussen 2,5% en 17,5% per jaar hieruit onttrek, teenoor ’n annuïteit met ’n gewaarborgde inkomste tot afsterwe.

Maar dié voortgesette gewildheid is deels afhanklik van die insluiting van lewende annuïteite by die nuwe verstekopsies.

Kriteria vir lewende annuïteite

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het nou konsepkriteria gepubliseer waaraan lewende annuïteite sal moet voldoen om as ’n verstekopsie te kwalifiseer.

Die FSCA se voorgestelde maksimum onttrekkingsperk op 55 is 4,5% vir mans en 4% vir vroue. Daarna styg dit elke vyf jaar met 0,5 persentasiepunte om teen 75 jaar op 6% vir mans en 5,5% vir vroue te staan. Dit beteken dat ’n vrou wat op 60 aftree met aftreekapitaal van R1 miljoen net R3 750 pensioen per maand kan onttrek.

Dié koerse is laer as die werklike gemiddelde onttrekkingskoers van die afgelope sewe jaar, wys syfers van die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (Asisa).

In dié tyd was dit telkens bo 6%. Van 2015 tot 2017 was dit onderskeidelik 6,44%, 6,62% en 6,64%.

Ander kriteria

Die veranderende wetgewing gaan nie net oor die onttrekkingskoers nie. Katherine Barker, hoof van FundsAtWork by Momentum Corporate, sê verpligte leiding oor aftreevoordele wat van 1 Maart sal geld, is goed vir finansiële geletterdheid.

Hoewel die persoon nie as ’n finansiële beplanner geregistreer hoef te wees nie, vereis die FSCA bekwaamheid en ervaring. Daar moet ook inligting bygehou word van die berading. Die inligting moenie langer as ses maande voor aftrede gegee word nie, om te verseker dit is nog geldig.

Kenners twyfel of daar aptyt gaan wees om dié annuïteite by verstekopsies in te sluit, maar dis nie noodwendig ’n slegte ding nie.

David Gluckman, ’n aktuaris van Sanlam Employee Benefits en lid van die Aktuariële Vereniging van Suid-Afrika, sê hoewel dit edel is van die FSCA om afgetredenes se risiko te beperk, twyfel hy of veel in die mark sal verander.

Jaco van Tonder, direkteur van adviseursdienste by Investec Batebestuur, sê die FSCA se voorstelle is gegrond op aktuariële modelle van wat pensioenarisse behoort te onttrek.

“Dit is geskoei op tipiese Suid-Afrikaanse sterftekoerse en beleggingsopbrengste, en sluit ook ’n veiligheidsmarge in vir beleggers. Die feit dat Asisa se koerse sowat 1,5% persentasiepunte hoër is as die konsepkriteria wys duidelik pensioentrekkers wat nie genoeg vir aftrede gespaar het nie, kies riskante, hoë onttrekkingskoerse om hul maandelikse uitgawes te kan dek.”

Van Tonder sê Investec se navorsing wys dat wanneer die aanvangsinkomste groter as 5% is, is daar ’n kans van groter as een uit tien dat ’n pensioentrekker sy of haar aftreekapitaal kan oorleef.

Perke - of waarskuwings - nodig

Hy sê die moontlikheid van ’n onttrekkingsperk op alle lewende- annuïteit-produkte wat in die mark beskikbaar is, word al lank gedebatteer.

“Beperk jy pensioenarisse se onttrekkingskoerse en skep dan moontlike korttermyn- kontantvloeiprobleme vir baie – veral kort ná aftrede? Of laat jy hulle hoër onttrekkings toe, maar met gepaardgaande waarskuwings dat dit onvolhoubaar is?”

Tans volg die bedryf laasgenoemde benadering met duidelike kommunikasie oor watter inkomstekoerse onvolhoubaar is.

Johann Swanepoel van Just Group, wat gewaarborgde annuïteite verkoop, sê die voorgestelde onttrekkingsperke vir verstekopsies behoort op alle lewende annuïteite toegepas te word. Die probleem van afgetredenes in Suid-Afrika wat te veel geld te vroeg uit hul lewende annuïteite onttrek en dus die risiko loop dat hul geld opraak, is erger as wat mense dink.

Hy sê Asisa se gemiddelde onttrekkingskoerse versteek die werklike toedrag van sake omdat dit ’n geld-geweegde gemiddeld is. Dit beteken die groter geldpot weeg swaarder. Met dié groter fondse beweeg mense wat erg sukkel nader aan die 17,5% maksimum-perk.

Volgens Swanepoel is die onttrekkingskoers eintlik 8,5% as nuwe bates by die berekeninge uitgelaat word. Dít terwyl verskeie internasionale studies wys die gewenste onttrekkingskoers om ’n volhoubare inkomste vir jou leeftyd te verseker is nader aan 4% op 60-jarige ouderdom.

Meer oor:  Investec  |  Sanlam  |  Asisa  |  Momentum  |  Aftreebeplanning  |  Aftrede  |  Lewensannuïteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.