Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Meer swart bestuurders vir SA se pensioene

Pensioenfondse in Suid-Afrika sal binnekort gedwing word om ’n groter persentasie van hul geld by swart batebestuurders te belê wanneer ’n nuwe telkaart met kodes vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB-kodes) ingestel word.

David Masondo, adjunkminister van finansies.

David Masondo, adjunkminister van finansies, het onlangs gesê die regering werk saam met rolspelers aan streng SEB-kodes.

Swart batebestuurders eis dat ’n groter deel van die poel van beleggings aan swart fondsbestuurders toegewys word.

Daar is al sedert 2012 ’n SEB-telkaart vir die batebestuursbedryf met elemente soos eienaarskap, gelyke indiensneming en teikens vir opleiding waaraan voldoen moet word. Dit was tot nou vrywillig vir pensioenfondse om ook daaraan te voldoen en net ’n fraksie van die totale bates word deur swart batebestuurders bestuur.

Leon Campher, uitvoerende hoof van die vereniging vir spaar en beleggings (Asisa), die liggaam wat alle batebestuurs- en langtermynversekeringsmaatskappye in die land verteenwoordig, het aan Rapport gesê dit is hoog tyd dat pensioenfondse ook ’n SEB-telkaart kry.

“Asisa is ten gunste van ’n verpligte en nie ’n vrywillige telkaart nie.”

Asisa, die bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) en die vereniging vir swart beleggingslui (Absip) is saam met die Transformasieraad vir die Finansiële Sektor besig met onderhandelings.

Daar sal konsensus uit alle geledere moet wees voordat ’n SEB-telkaart vir pensioenfondse amptelik in werking gestel word, sê Campher. Die uitdaging is groot: Die keuse oor waar geld belê word, berus uiteindelik by die pensioenfonds se trustees, wat ’n fidusiêre plig het om toe te sien dat pensioenfondslede die beste moontlike opbrengste kry. Daar kan dus weerstand wees by die trustees om pensioenfondslede se geld aan kleiner en onbekender swart batebestuurders toe te wys.

’n Rolspeler in die bedryf wat op voorwaarde van anonimiteit met Rapport gepraat het, sê dit ís so dat die “groot geld” steeds in die hande van die groot spelers in die bedryf soos Allan Gray, Coronation en Investec is.

“Maar dit gaan problematies word as die regering kwotas afdwing, soos oor by watter batebestuurders geld belê moet word. Dit kan daartoe lei dat mense hul geld uit pensioenfondse onttrek as hulle so ’n stap in ’n negatiewe lig sien.”

Hy beklemtoon dat batebestuurders internasionaal erkende kwalifikasies moet hê.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het by navraag sê swart ekonomiese bemagtiging is besig om ’n “gevaarlike nuwe fase binne te gaan”.

“Daar is politieke voorskrifte aan private persone en instansies oor wie hulle as professionele diensverskaffers mag gebruik.

“Uiteindelik word die belange van mense ondergeskik gestel aan dié van politiek verbonde diensverskaffers.”

Le Roux sê dit sal uiteindelik lei tot voorgeskrewe beleggings waarin die bates van die publiek sonder hul toestemming na staatsprojekte gekanaliseer word.

“Daar is ook rasgebaseerde voorskrifte – soos wie aan jou finansiële dienste mag verskaf.”

In wese keer dit finansiëlediensteverskaffers om hul fidusiêre plig na te kom, naamlik om kliënte ten beste te adviseer, sonder eksterne oorwegings soos politieke invloed, sê Le Roux.

Khaya Sithole, tesourier van Absip, het aan Rapport gesê Suid-Afrikaners sal hulself afvra: Wat is die verskil tussen voorgeskrewe bates en ’n voorskrif oor by wie ek my geld moet belê?

“Trustees moet die bes moontlike opbrengste verseker en as ’n voorgeskrewe batebestuurder jou opbrengste afbring, sal dit mos tot ontevredenheid lei.”

Anthony Govender, uitvoerende hoof van ASI Financial Services, ’n batebestuursmaatskappy in Johannesburg, sê die groot batebestuurders is nie verbind tot die plaaslike ekonomie nie. Volgens hom het batebestuurders ’n morele plig om in die plaaslike ekonomie te belê. “Dit beteken nié roekelose beleggings nie, maar daar is hoog aangeskrewe swart sakeondernemings met uitstekende opbrengste.”

Meer oor:  Aftreegeld  |  Aftrede  |  Seb  |  Swart Ekonomiese Bemagtiging  |  Pensioenfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.