Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Miljoene se aftreegeld vas oor saak teen ‘profeet’

Meer as R100 miljoen se pensioengeld van elektriese kontrakteurs landwyd is “vasgevang” weens die strafsaak teen die flambojante “profeet” Shepherd Bushiri.

Die “profeet” Shepherd Bushiri verlede jaar buite die Pretoriase handelshof. Foto: Mpumelelo Buthelezi

Nog vier pensioenfondse wag vir byna R100 miljoen wat ook by hom belê is.

Bushiri, oorspronklik van Malawi, is hoof van die Enlightened Christian Gathering-kerk. Hy en sy vrou, Mary, is verlede jaar in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog en geldwassery. eNCA het onlangs berig nog klagte word teen hom ondersoek.

Bushiri besit glo ’n rits luukse motors, wat insluit ’n Maserati wat hy in 2017 vir sy dogter gekoop het vir dié se sesde verjaardag. Daarby het hy glo ook ’n private vliegtuig, wat op die Lanseria-lughawe gehou is.

Die owerheid het as deel van die vervolging op sy bates beslag gelê en daarmee die pensioenfonds van die elektriese-kontrakteursbedryf in die pekel gedompel.

Luidens ’n brief van die trustees aan lede het hulle in 2017 R110 miljoen se pensioengeld via die fondsbestuurder, J.M. Busha, in Bushiri se Sparkling Waters-hotelontwikkeling belê.

Dit is juis by dié hotel in Magaliesburg waar Bushiri in hegtenis geneem is.

Dié belegging was aanvanklik vir ’n jaar en is later met nóg ’n jaar verleng. Toe die pensioenfonds se beleggingstrategie einde verlede jaar verander, wou die trustees die geld onttrek wat intussen tot sowat R140 miljoen gegroei het. Weens die beslaglegging is dié geld ontoeganklik.

Busha het tot dusver net sowat R37 miljoen terugbetaal.

“Profeet” Shepherd Bushiri

Die trustees beweer Busha het sy mandaat oorskry deur in Bushiri se ontwikkeling te belê en het hom by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) en die polisie verkla. Hulle is ook besig met regstappe om die geld van hom te verhaal.

Busha, ook president van die FreeZim Congress en vasberade om die volgende president van Zimbabwe te word, ontken hy het enigiets verkeerd gedoen.

Volgens hom het hy van die begin oop kaarte gespeel oor die belegging en selfs daagliks verslae daaroor aan die fonds gestuur. Hy was juis ekstra versigtig en het sekuriteit van R400 miljoen by Bushiri verkry om die belegging te waarborg.

Busha sê ook hy het reeds ’n hofbevel verkry om op Bushiri se bates beslag te lê en die pensioengeld só te verhaal.

Volgens hom was dit die eerste keer dat hy enigiets by Bushiri belê het. Hy het die “profeet” van geen kant geken nie. Dié het ’n beleggingsvoorlegging aan sy firma gedoen en hy het dit op meriete beoordeel.

Die belegging het so goed presteer dat die trustees dit ná ’n jaar verleng het.

Die probleem het volgens Bu-sha gekom toe Bushiri se bates deur die owerheid bevries is en die huidige dilemma is die onbedoelde gevolg van die owerheid se optrede.

Volgens die FSCA het sy ondersoek na Busha se sake getoon nog vier pensioenfondse wag ook vir geld wat hy by Bushiri belê het.

Die pensioenfonds van die ingenieursbedryf wag vir R27 miljoen, die pensioenfonds vir die metaalbedryf vir R21 miljoen en twee fondse van Samwu, die vakbond vir munisipale werkers, wag onderskeidelik vir R42 miljoen en R7 miljoen.

Busha het namens een van die Samwu-fondse R60 miljoen by die SME-bank van Namibië belê wat in likwidasie is. Volgens Busha probeer hy ook dáár kyk wat hy kan beredder. Dié fondse het volgens die FSCA nie klagte teen Busha ingedien nie.

Die owerheid het Busha se lisensie aanvanklik opgeskort, maar nadat hy ’n afdwingbare onderneming gegee het dat hy onder meer die geld sal kry én dit aan die fondse terugbetaal, is sy lisensie herstel, maar met bykomende toesig en verslagdoeningsverpligtinge.

Intussen sê die vakbond Solidariteit hy is besig om die kwessie namens sy lede in dié bedrywe te ondersoek.

“Dit is ’n skokkende voorbeeld van korrupsie en bedrog wat deel van ons alledaagse lewe word en weer is dit die hardwerkende belastingbetaler en werknemer wat met sy swaar verdiende geld, gespaar vir sy oudag, moet boet,” sê Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit.

“Dat die verskillende rolspelers in hierdie sage slegs ’n hou op die vingers kry is skrikwekkend, aangesien dit net die pensioenfondsbedryf oopmaak vir misbruik. Die fidusiêre verpligtinge van pensioenfondse en hul trustees teenoor pensioenfondsbydraers is heilig, en op die oog af lyk dit nie of daar aan hierdie verpligting voldoen is nie.

“Dit hou verreikende gevolge vir die trustees van die pensioenfondse in en sivielregtelike en strafregtelike stappe kan gedoen word,” sê Van der Bijl.

Meer oor:  Shepherd Bushiri  |  Aftreebeplanning  |  Pensioen  |  Bedrog  |  Aftrede  |  Pensioenfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.