Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Nico van Gijsen: Aftree of bedank uit GEPF?

Moet ek aftree uit die staat se pen­sioenfonds (GEPF), of moet ek bedank en liewer my geld self belê?

Dié vraag kry ek gereeld. Die steun ten gunste van bedanking eerder as aftree draai vir my om twee argumente:

  • Onsekerheid oor wat “hulle” met jou pensioengeld gaan doen (aangeblaas deur sekere makelaartipes); en
  • As jy doodgaan en jy het afgetree uit die fonds, is jou geld weg, terwyl jy anders dit vir kinders kon nalaat (aangeblaas deur sekere makelaartipes).
Nico van Gijsen

Die eerste argument berus myns insiens op rasgegronde politiekery van mense wat van finansies min weet en van pensioenfondse niks. Die tweede is op eie (kommissiegedrewe) wins ingestel deur sekere makelaartipes wat skaamteloos die reeds emosionele ervaring rondom aftrede verder vertroebel.

Goed, dit gesê, besef ek pas, weet almal nou hoe ek hieroor voel.

Maar kom ons kyk na die finansiële werklikhede. Jy tree af. Jou vermoë om geld te verdien is verby. Wat jy het, is wat jy het.

Wat is nou die belangrikste faktor vir jou lewe vorentoe, finansieel gesproke? Gemoedsrus. Dis nou tyd om seker te maak dat dit wat jy het, vir jou gaan hou totdat jy die dag saliger omgewings gaan verken.

Die pensioen uit die GEPF is gewaarborg, ongeag hoe lank jy leef en ná jou dood ook (50% of 75% daarvan) vir ’n oorlewende gade. Die staat waarborg dit, nie een of ander hierjy-belegging­smous nie. En as dinge regtig met die staat so sleg gaan? Wel, hy kan, as dit regtig erg gaan, belastings verhoog, maar jou pensioen sal jy kry.

Vat jy jou geld en belê dit self, is jy verantwoordelik dat dit moet hou totdat jy en jou gade dood is. Vir die meeste mense is dit net nie moontlik nie. Vergeet eers van geld vir kinders wil nalaat. Baie mense moet later selfs by kinders intrek omdat hul geld op is.

Die redes? Onoordeelkundige beleggingsbesluite, te hoë onttrekkingskoerse, veral aan die begin, en die oorplaas van geld van een produk na ’n ander, eintlik maar net sodat die makelaar sy eie inkomstestroom aan die gang kan hou. Dis nie hoorsê nie, ek sien dit.

Hoe lyk die somme?

Iemand met 37 jaar diens het ’n aktuariële pensioenwaarde van R3 774 041 beskikbaar. Sy gratifikasie by aftrede (kontantbedrag) is R1 017 700 (in dié geval alles belastingvry) en sy maandelikse begin-pen­sioen is R23 000.

Staatsamptenare moenie summier bedank oor vrese wat by die GEPF aangaan nie. Foto: Unsplash

As hy bedank, sal hy ná belasting R3 412 955 hê om te belê.

Teen ’n groeikoers van 9% per jaar en ’n pensioen gelyk aan wat hy uit die GEPF sou ontvang, wat jaarliks styg met 6%, sal sy geld binne jaar 16 op wees. As hy op 60 aftree, beteken dit hy is dan ’n skamele 76 jaar oud.

Dit teenoor die opsie van ’n lewenslange pensioen en daarbenewens die kontantbedrag van R1 017 700 wat hy kan belê vir kapitaalgroei.

Teen dieselfde 9%-groeikoers wat nodig is vir die bedanker vir inkomste, sal hy in jaar 16, wanneer die bedanker se geldkoffer leeg is, R4 040 580 in sy vet spaarvarkie hê.

As dit regtig net gaan om geld vir die kinders na te laat, doen dan minstens eers die somme.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Obk  |  Nico Van Gijsen  |  Aftreebeplanning  |  Pensioen  |  Aftrede  |  Gepf  |  Pensioenfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.