Ek wonder deesdae nogal of ons nie maar moet vergeet van aftrede nie en liewer fokus op die lewe ná 60. Die lewe ná 60, nie hoeveel geld jy het of nie het nie.

Aftrede beteken nie die einde van jou lewe nie. Foto: Unsplash
unsplash
Ek meen daar word te veel klem gelê op aftrede. Negatiewe klem, so asof aftrede verpligte niksdoen beteken. En dan word daar begroot hoe om te gaan niksdoen.
Geld is belangrik in ’n mens se lewe. Maar sowaar, daar is dinge wat belangriker is as geld. Glo my, as jy al jou aandag gee aan die geldkant van die lewe, gaan jy baie mis.
Ek kies 60, want dan kry ’n mens eers werklik wysheid. Jy het ook niks meer te bewys nie. Jy besef die lewe is aan jou geleen, jy het nie ’n reg daarop nie. Dit kan weggeneem word.
Hoe beplan jy vir die lewe ná 60? Daar is twee fokuspunte: Jy moet jou geldsake regkry en jou kop regkry.
Eers die geldsake. Begin vroeg in jou lewe spaar. Belê jou geld oordeelkundig. Die doel moet die skep van rykdom wees, nie aftrede nie. Wat jy ook al in jou later jare gaan doen, glo my, dit is net soveel makliker en minder stresvol as jy ’n stewige neseier het.
Moenie in die slagyster trap dat alles nou verby is en jy sit en wag om dood te gaan nie.
En as jy nie vroeg begin het nie – dit geld seker die meeste onder ons – of jy jou aftreegeldjies op jou kinders se geleerdheid uitgegee het: Jy moet meer spaar, want jy het nie tyd aan jou kant nie. Raak van skuld ontslae en besef die nuwe kar elke tweede jaar en oorsese vakansies is nie vir jou nie.
Jy het hierdie skip verpas in die voorafgaande jare toe jy nie gespaar het nie. Dis nou tyd vir dissipline.

Nico van Gijsen
En dan is daar die kop-ding. Jou aftreeouderdom, of dit nou 60 of 65 of ’n ander syfer is, het niks met jou vermoëns en jou drome uit te waai nie. Moenie in die slagyster trap dat alles nou verby is en jy sit en wag om dood te gaan nie – en bid dat jy genoeg geld het om te hou tot dan.
Onder my kliënte is senior advokate, prokureurs, ’n paar dokters, ’n joernalis of ses, ’n paar skoolhoofde en onderwysers, sake-eienaars, ’n aantal ambagsmanne en andere. Ek noem dit spesifiek uit my ervaring, want om vir hierdie mense te kon help met hul beplanning vir ná aftrede is ’n plesier.
Nee, dit gaan nie daaroor dat hulle my praktyk ’n finansiële hupstoot gee nie. Dit gaan oor die positiewe ingesteldheid op die toekoms. Dis aansteeklik.
Aftrede is nie die einde van die pad nie. Dit is die eerste tree na ’n nuwe môre.
Die meeste van hulle kry kontrakwerk, wat uiteraard inkomste uit die pensioen aanvul. Maar dit hou ook negatiewe denke uit die kop. Een kliënt tree nou al ’n tweede keer af, nadat sy eerste kontrak verval het. Hy begin dadelik deeltyds in ’n ander praktyk uithelp. En hy werk tussendeur aan sy MBA.
’n Ander doen navorsing, nog een skryf ’n boek, die motorwerktuigkundige doen motorherstelwerk van sy huis af. En so meer.
Aftree is nie die einde nie. Kry dit uit jou kop uit. Dis net ’n nuwigheid.
- Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen