Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Nico van Gijsen: Bereken só bydrae tot annuïteit

Ek het die laaste tyd ’n paar navrae gekry van lesers wat wil weet oor bydraes tot ’n uittreeannuïteit (UA) om die beste belastingvoordeel te kry.

Nico van Gijsen

Dit is nog net drie maande voor die einde van die belastingjaar en dit is te verstane dat mense nou al begin om die somme te maak. Dit is ook ’n goeie ding, want die belastingbesparing nou kan nogal aansienlik wees en die aftreegeld vorentoe deurslaggewend vir jou persoonlike welvaart ná aftrede.

Die Inkomstebelastingwet laat toe dat jy 27,5% (met ’n maksimum van R350 000) van jou salaris of belasbare inkomste per jaar tot ’n pensioenfonds (ingesluit ’n UA) kan bydra, wat dan aftrekbaar is vir die berekening van jou inkomstebelasting in daardie jaar.

Wat beteken dit? Kyk na jou inkomstebelasting wat jy betaal en let op jou marginale koers. Dit is die koers waarteen jy belasting bespaar deur geld in ’n UA te belê. As dit 40% is, kos die bydrae tot die UA jou in werklikheid net R60 vir elke R100 wat jy spaar. En die groei in die UA-fonds is boonop ook belastingvry.

As jy net ’n salaris ontvang, is die som maklik. Neem 27% van jou salaris (solank as wat dit onder R350 000 is) en trek daarvan af die bydrae wat jou werkgewer maak tot jou pensioenfonds en dit wat oorbly is die bedrag wat jy kan spaar en ten volle kan aftrek vir inkomstebelasting.

As jy ’n salaris ontvang en ook ekstra inkomste het, byvoorbeeld beleggingsgroei, huurinkomste of uit ’n tweede werk, kan jy jou totale belasbare inkomste bereken en dan is die 27%-aftrekking van toepassing op die hoogste van jou salaris, of belasbare inkomste. Belasbare inkomste is jou bruto inkomste minus vrystellings (byvoorbeeld die jaarlikse rentevrystelling op beleggings), minus toegelate aftrekkings.

Wat nou van kapitaalwins (KWB), dis tog deel van jou belasbare inkomste? Hier raak dinge ’n bietjie ingewikkeld. Jou belasbare kapitaalwins word by jou belasbare inkomste gevoeg, wat dan jou uiteindelike belasbare inkomste gee waarop jou inkomstebelasting bereken word.

Die Inkomstebelastingwet laat toe dat jy 27,5% (met ’n maksimum van R350 000) van jou salaris of belasbare inkomste per jaar tot ’n pensioenfonds (ingesluit ’n UA) kan bydra, wat dan aftrekbaar is vir die berekening van jou inkomstebelasting in daardie jaar. Foto: iStock

Om nou die maksimum bydrae tot ’n UA te bereken, tel jy die kapitaalwins by jou belasbare inkomste en bereken dan 27,5% daarop. Dit is die maksimum bedrag wat jy kan aftrek. Maar, en hier moet jy kophou, dié bedrag kan net teen jou belasbare inkomste vóór die byvoeging van jou kapitaalwins afgetrek word. In jou inkomstebelastingberekening moet jy dus weer die kapitaalwins bytel by jou belasbare inkomste, waarop jy dan in geheel belas word.

Anders gestel, jou kapitaalwins help om die maksimum bedrag vir aftrekking van jou belasbare inkomste te verhoog, maar jou aftrekking is steeds beperk tot die belasbare inkomste vóór kapitaalwins. Jy kry dus die 27,5% op ’n groter bedrag belasbare inkomste, maar dis nie aftrekbaar teen jou kapitaalwins nie.

Wat as jy meer wil spaar as 27,5% (of R350 000)? Jy kan, maar dit wat meer is, is nie aftrekbaar vir inkomstebelasting in daardie jaar nie. Maar dit kan in daaropvolgende jare afgetrek word.

Anders kan dit ná aftrede vir jou ’n belastingvrye pensioen bied. Of dit kan die belastingvrye deel van jou een derde kontant by aftrede verhoog. En moenie vergeet van die belastingvrye groei in die tussentyd nie.

Dit is kortliks die riglyne. Lesers moet liefs hieroor besluit in samewerking met ’n finansiële beplanner.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2176,76 (1034)
  • Top 40 50134,22 (-73968)
  • All Share 56220,41 (-67482)
  • Resource 10 43812,73 (-19543)
  • Financial and Industrial 30 76180,46 (-139445)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.