Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Nico van Gijsen: Dink mooi oor hulp uit annuïteit

Die nasionale tesourie het goedkeuring gegee dat mense wat ’n pensioeninkomste uit ’n lewende annuïteit verdien hul onttrekkingspersentasie kan wysig. Dit is ’n tydelike toegewing en geld tot einde September vanjaar.

Nico van Gijsen

Ek hoor baie opgewondenheid hieroor van sommiges, so laat ek maar die ou wees wat die partytjie bederf. Dink mooi voor jy dit doen.

Die doel is om finansiële verligting te bring vir mense wat swaar kry tydens hierdie moeilike dae met die stryd teen Covid-19. En daarby gesê, danksy ook die ANC-regering se onverskillige beleid van verskroeide aarde in die hantering daarvan.

Jy kan nou buiten die toegelate eenmalige, jaarlikse wysiging van jou onttrekkingspersentasie jou onttrekkingskoers verander na tussen 0,5% en 20% per jaar teenoor die normale 2,5% en 17,5% per jaar.

Dis enersyds om mense wat finansieel geknou is deur die opsluit-oplossing van die ANC te help met ’n groter onttrekking uit hul pensioengeld – en andersyds om dié wat nie die geld nodig het nie, te help om groei op hul kapitaal te kry deurdat hulle nou minder (net 0,5%) kan onttrek.

As jou kapitaal minder is as R125 000 (voorheen R75 000) kan jy alles onttrek. As jy ’n kontantbedrag by aftrede geneem het, is hierdie toegelate bedrag R50 000.

Ons kyk na die nuwe maksimum onttrekkingskoers. Die nare waarheid hiervan is dat enigeen wat daaraan dink om nou 20% van sy aftreekapitaal vir inkomste te begin onttrek, klaar in die moeilikheid is en waarskynlik reeds die maksimum van 17,5% onttrek. Wat beteken hulle onttrek reeds hul kapitaal, want geen beleggingsgroei kan hierby kers vashou nie.

Verder meen ek dit is ook nie so ’n wafferse verbetering op besteebare inkomste nie.

Jy betaal inkomstebelasting volgens dieselfde belastingskaal as iemand wat ’n salaris verdien. En die bykomende inkomste wat jy onttrek gaan jou in ’n nuwe marginale koers laat beland. Byvoorbeeld, as jy minder as R195 850 per jaar onttrek, betaal jy belasting teen 18% op belasbare inkomste.

Op alles meer as dit betaal jy R35 253 plus 26% (dis die marginale koers) op die gedeelte bo R195 850. Die volgende marginale koers is 31% en dan styg dit in belastingkategorieë tot by 45%.

Die punt hier is, pasop dat jy nie jou aftreekapitaal uitput net om vir Jan Taks meer geld te gee nie. Laat hy liewer vir min. Nkosazana Dlamini-Zuma vra wat van sy belasting uit sigaretverkope geword het.

En vir die wat in ’n gelukkiger posisie is en nie werklik daardie 2,5% per jaar onttrekking nodig het nie? Maak dit sin om vir vier maande jou inkomste te verlaag na 0,5% om jou kapitaal te beskerm?

Ons kan redeneer dat, ja, dit bied groei – belastingvrye groei – op ’n bykomende 2 persentasiepunte op jou kapitaal. Maar dit is nie. Die toegewing geld net vir vier maande, so ons kyk na bykomende groei op net sowat 0,68% van jou kapitaal. En dalk ’n raps minder belasting.

Nie te versmaai nie? Wat van jy gaan maar voort om jou minimum van 2,5% per jaar te onttrek (dit val weliswaar in vir belasting) en belê dit dan in ’n uittreeannuïteit (UA)? Die spaar in ’n UA is belastingaftrekbaar teen jou marginale koers. En die groei in die UA is belastingvry.

Dis ’n goeie idee om op dié manier te spaar om ná aftrede jou mediesefondsbydraes hieruit te finansier.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.