Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Nico van Gijsen: Kies jou pensioen-inkomste só
oud, bejaarde, pensioen
Dink mooi oor watter pensioenproduk jy kies.

By aftrede, tensy jy tot ’n vastevoordeel-tipe fonds behoort, moet jy ’n keuse maak oor die pensioeninkomste wat jy wil kry.

As jy besluit op ’n lewenslange, gewaarborgde inkomste, gaan jy voor die keuse staan van ’n gelykblywende pensioen of een wat jaarliks met inflasie groei.

Op die oog af klink die tweede opsie, die pensioen wat jaarliks met inflasie groei, vir die meeste mense seker na die logiese opsie. Maar is dit altyd?

Voordat ek by die bespreking kom, laat ek net weer ’n punt maak. Baie mense trap in die strik van ’n beleggingsgekoppelde lewende annuïteit in die waan dat as jy jou geld vir ’n versekeraar gee om ’n gewaarborgde lewensannuïteit aan te koop, is jou geld “weg”. Dis ’n drogredenasie.

’n Lewende annuïteit is net ’n beter produk as jy meer as genoeg (let wel, meer as genoeg) geld het om jou verlangde pensioen te kan trek sonder om veel beleggingsrisiko aan te neem. Dit werk soos ’n bankrekening. Jy onttrek jou kapitaal en as jy minder groei kry as wat jy onttrek, gaan jou geld opraak.

Die gewaarborgde lewensannuïteit is ’n pensioen wat jy aankoop by ’n versekeraar. Jy gee jou geld, hy gee vir jou ’n pensioen vir die res van jou lewe. Gewaarborg. As jy nie te veel geld het om mee te begin nie, is dié die enigste opsie wat sin maak.

pensioen

Neem jy so ’n pensioen en jy kies die een wat gelyk bly bó die een wat met inflasie groei, begin jy met heelwat meer inkomste. Dis waar die dinkwerk inkom.

Ek meen veral vir alleenlopers en veral as hulle nie te veel het om mee af te skop nie, kan die gelykblywende pensioen die voordeligste wees. Kom ons kyk na ’n voorbeeld.

Vir ’n man van 65 met R2 miljoen om te belê kon ek die week ’n kwotasie kry van R217 776 per jaar wat gelyk bly vir die res van sy lewe. As sy pensioen met inflasie (4,5% per jaar) groei, begin hy met R155 208 per jaar, dus heelwat minder.

Nico van Gijsen
Nico van Gijsen

Ons weet inflasie gaan hom inhaal, maar wanneer? My vraag, wat ewe belangrik is, is watter waarde koop hy? Wat is al sy pensioeninkomstes oor tyd vandag werd? Kom ons kyk.

Die grafiek wys die kumulatiewe, huidige waarde van inkomste oor tyd vergeleke met die koopsom. Oor ’n tydperk van tien jaar is die huidige waarde van die gelykblywende pensioen ongeveer R1 800 744 teenoor R1 522 080.

Die een wat besluit het op die gelykblywende pensioen, het beter waarde gekry vir sy geld. In jaar 11 het hy die volle waarde van sy R2 miljoen aan inkomste gekry – dit wat hy inbetaal het. Die een wat die inflasiegekoppelde pensioen gekoop het, kry eers die volle waarde van sy R2 miljoen teen jaar 13. Dit is eers hier by jaar 18 dat die inflasiegekoppelde pensioen die gelykblywende pensioen verbygaan.

Onthou, ons praat van die huidige waarde van jou pensioen oor tyd – dit wat jy nou koop met jou geld, nie wanneer jy inkomstegewys begin gelyk trek met die inflasiegekoppelde pensioen nie (dit neem so nege jaar) maar met wat dit vandag vir jou werd is. En dit blyk ’n beter opsie te wees binne die normale lewensverwagting van die man (14 jaar) in ons voorbeeld.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur by Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Geldsake  |  Pensioen  |  Aftrede  |  Pensioenfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.