Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Nico van Gijsen: Kom ons raak kalm oor jou pensioen

Ek is regtig verstom oor hoe mense op hol kan raak oor iets in die nuus, nog lank voordat daar enige feite op die tafel is.

Nico van Gijsen

Soos nou met die storie dat die ANC pensioenfondse wil verplig om in voorgeskrewe bateklasse te belê.

Ek sien al klaar een van die grootste bekke in die makelaarsbedryf, wat net mooi nooit iets goeds oor Suid-Afrika te sê het nie en net heeltyd op die negatiewe fokus, voorspel reeds dat mense hul aftreegeld kan verloor.

Regtig? Kom ons raak net kalm en kyk na ’n paar feite.

Net eers my eie mening. Ek is nie ten gunste van voorgeskrewe bates nie. Dit ruik vir my te veel na sosialisme. In elk geval, dit het nie onder die ou Nasionale Party gewerk nie, en ek glo ook die ANC-regering gaan nie werklik hond haaraf maak hiermee nie. Maar kom ons kyk.

Die belangrikste punt is dat, sou dit werklikheid word, dit net aftreefondse sal raak: pensioen-, voorsorg- en uittree­annuïteite.

Ek hoor al klaar van mense wat uit vrees hul spaargeld in die buiteland wil belê, omdat die ANC hul geld gaan vat. Dit is nie so nie. Die situasie tans is dat ons aftreefondse reeds te doen het met regulasie 28 onder art. 36 van die Pensioenfondswet (Wet 24 van 1956) wat beperkings plaas op die blootstelling aan sekere tipes, of kategorieë, bates. Die doel hiervan is om beleggers se aftreegeld te beskerm teen markrisiko, sodat hul aftreegeld ná aftrede ’n voldoende inkomste sal voorsien.

Retirement savings golden nest egg in a businessma
Voorgeskrewe bates is iets waarvan jy moet kennis neem - maar moenie histeries word nie. Foto: iStock

Ek herhaal, dit geld vir aftreefondse, nie vir jou diskresionêre geld, jou ander spaargeld en beleggings nie.

Goed, sou die voorstel aanvaar word, wat behels dit? Kortom, dat aftreefondse ’n groter deel van hul beleggings in effekte sal moet belê, eerder as in byvoorbeeld aandele of eiendom.

Is dit noodwendig ’n slegte ding?

Kom ons kyk na die afgelope drie jaar as voorbeeld vir beleggingsrisiko, want dis waaroor dit hier gaan, die beperking van risiko. ’n Goeie gebalanseerde fonds, wat in aandele en effekte belê (’n fonds wat ek gereeld vir my kliënte vir langertermynbeleggings gebruik), het die afgelope drie jaar net 3,9% gemiddeld per jaar groei gehad.

’n Inkomstefonds (bietjie aandele, maar meesal in effekte en kontant) het oor die tyd gemiddeld 6,8% per jaar opgelewer, terwyl ’n effektefonds (een wat 100% in effekte belê is) 10,88% per jaar oor die drie jaar opgelewer het.

Oor die afgelope jaar het die gebalanseerde fonds -1,6% gegroei, terwyl die inkomstefonds 9% en die effektefonds 12,8% opbrengs gelewer het. Die gebalanseerde fonds doen beter op lang termyn, maar die onsekerheid lê daarin: Wanneer begin jou termyn en vir hoe lank?

En ’n mens moet jouself afvra of die wisselvalligheid die kool die sous werd maak. Want die meer konserwatiewe fondse waarna ek hier verwys, skiet nooit die spreekwoordelike ligte uit nie. Hulle bly maar konstant op ’n “vervelige” opbrengs van 8% tot 12% per jaar.

En as dit oor jou aftreegeld gaan, veral as dit naby aan aftrede is, is “vervelig” dalk net wat jy soek.

Ek is nie ’n voorstander van voorgeskrewe bates nie, want mense se behoeftes en vermoëns verskil. Maar ek sien ook hoe baie mense hul geld verloor weens swak advies – en daarom sê ek dis nie noodwendig ’n slegte ding nie.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finan­siële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.