Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Nico van Gijsen: Moet UA liewer in vrou se naam?

Die week vra ’n leser of dit nie wys sou wees om liewer sy bydraes tot ’n uittree-annuïteit (UA) in sy vrou se naam te doen, eerder as in sy eie naam nie. Die rede is die hoër belastingkategorie waarin dit hom plaas noudat hy afgetree het.

Nico van Gijsen

Die vraag het meer tegniese heen-en-weertjies as waaraan ek in ’n enkele rubriek kan aandag gee, maar kom ons probeer. My kort antwoord is, ja. En daarmee saam ’n kwalifiserende “maar” . . .

Ja, want ek reken vroue moet finansieel onafhanklik wees. Die ding dat vroue heeldag en aldag in manlief se oë moet kyk vir geld en onderhoud, is Middeleeuse snert. En ’n eie UA, al is sy ’n sogenaamde tuisteskepper, is ’n goeie begin – al moet sy spaar uit haar man se inkomste. Sy is immers besig om (ook vir hom) “tuisteskeppingsdienste” te lewer, is sy nie?

Dit, my algemene punt oor vroue en finansiële onafhanklikheid. ’n Tweede “ja” sou wees omdat die man (ons leser), ná aftrede inkomstebelasting moet betaal op sy normale pensioen-inkomste, asook op sy inkomste uit die pensioen wat hy moes aankoop met die geld uit sy UA.

En dit kan hom in ’n hoër marginale belastingkategorie plaas. Byvoorbeeld, kom ons sê sy belasbare inkomste uit sy normale pensioen is R500 000 per jaar. Sy belasting hierop is R127 875.

Sy pensioen gekoop uit die UA bring ’n addisionele belasbare inkomste van R300 000 per jaar, altesame dus R800 000. En hierop moet hy vir Jan Taks R245 041 oorbetaal.

As die UA in sy vrou se naam was, sou sy daarop R63 332 belasting betaal. Dit kom neer op ’n belastingbesparing vir die egpaar van R110 835. Elke jaar. As dit nie vir daardie beheer-behepte mans ’n boodskap stuur nie, sal niks seker nie.

Maar daar is nog. Die man (ons leser) sou ’n belastingaftrekking (binne die wetlike perke) op sy bydraes tot die UA kon kry terwyl hy gespaar het. As die vrou nie gewerk het nie, sou sy (die belastingaftrekking) nie kon kry nie. Moenie dit gering skat nie.

Had sy ’n eie inkomste, sou dit natuurlik sin maak dat sy self spaar in ’n UA en vir haarself (of vir hulle) ’n groter aftree-neseier bou.

Nog is dit het einde niet. As hulle tog die UA in haar naam gekoop het en sy nie die belastingaftrekking op haar premies kon kry nie, sou sy ná aftrede geregtig wees op ’n belastingvrye inkomste tot die waarde van die premies waarop sy nie ’n aftrekking kon eis nie.

Die R63 332 belasting waarna ek hierbo verwys, geld net as sy wel die aftrekkings benut het toe sy gespaar het.

So, hier is my voorstel: Manlief, as jy die broodwinner is, kan jy in jou eie UA spaar – dit is geldslim. Maar bereken dan ook die bedrag wat jy maandeliks aan belasting bespaar (danksy die belastingaftrekking) en spaar vir vroutjie, wat ’n tuisteskepper is, ’n bedrag gelyk hieraan in haar eie UA.

Dit sal jul gesamentlike aftrede-voorsiening ’n yslike hupstoot gee. By aftrede kan sy dan (as julle die man se pensioen-inkomste moet aanvul) uit haar UA tree en voordeel trek uit die belastingvrye pensioen terwyl jou eie UA kan bly groei vir later.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.