Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Nico van Gijsen: Pensioen ingesluit by aanwas
Huwelik
Die wetlike beskerming van jou lewende annuïteit (pensioen) teen ’n eis ingevolge die huweliksaanwasbedeling is onder druk ná ’n beslissing deur die appèlhof verlede week.

Die wetlike beskerming van jou lewende annuïteit (pensioen) teen ’n eis ingevolge die huweliksaanwasbedeling is onder druk ná ’n beslissing deur die appèlhof verlede week.

Lesers sal onthou dat ek vroeër vanjaar hier geskryf het dat ’n lewende annuïteit nie in jou boedel val nie en dus nie in aanmerking kom vir die berekening van ’n aanwas-eis by egskeiding (of dood) nie. Ek het onder meer verwys na die saak M vs. M in die hooggeregshof in Johannesburg as stawing van my standpunt.

Die saak is intussen op appèl geneem en verlede week het die appèlhof anders beslis. Die waarde van die toekomstige inkomstestroom uit ’n lewende annuïteit val in ’n persoon se boedel en kan daarom in aanmerking geneem word vir die berekening van die aanwas.

Die saak is hierna terugverwys na die oorspronklike hof vir die aanhoor van getuienis oor hoe om die waarde te bereken.

Vanuit ’n boedelbeplanningsoogpunt krap dit dinge ietwat deurmekaar, hoewel ek met die beginsel self baie gemaklik is, met respek gesê.

Die vraag is, wat nou vir mense wat ingevolge die aanwasbedeling getroud is, of op troue staan?

Kortliks eers die wet. Art. 37A van die Pensioenfondswet (24 van 1956) sê onder meer dat ’n lid se pensioenvoordele (ingesluit ’n annuïteit wat by ’n versekeraar aangekoop is) nie mag verminder, oorgedra of andersins gesedeer, verpand of met ’n verband beswaar word of op beslag gelê word en so meer nie. Daar is uitsonderings ten opsigte van eise ingevolge die Inkomstebelastingwet (58 van 1962) en die Wet op Onderhoud (99 van 1998).

As ek die appèlhof-uitspraak reg lees, verander niks hieraan nie. Wat die hof sê, na my oordeel, is dat daar ’n som gemaak moet word om by ’n huidige waarde uit te kom van die toekomstige inkomstestroom. Die bedrag só verkry word dan geag in die persoon (annuïtant) se boedel te val vir die berekening van die aanwas-eis.

Nico van Gijsen

Lesers sal onthou dat die aanwas-eis bereken word deur die verskil in die netto groei tussen die twee boedels by huweliksbeëindiging, hetsy deur egskeiding of dood, gelykop te deel. Wat nou bygevoeg kan word, is die huidige waarde van die toekomstige inkomste uit ’n lewende annuïteit. En natuurlik sal dit albei partye geld.

Die eis self hoef nie vergoed te word uit die lewende annuïteit nie; dit kan op ander maniere gedoen word ook. Dit gaan oor die waarde van die eis, nie die kontant nie. As hy byvoorbeeld sy strandhuis gee, is dit reg so.

Hoe presies die berekening gedoen gaan word, kan ek my nie voorstel nie. Daar sal aannames gemaak moet word by gebrek aan wetlike rigtingwysers, soos wat die geval is met byvoorbeeld vruggebruik-berekeninge aan ’n gade.

Die probleem met lewende annuïteite is dat jy tussen 2,5% en 17,5% pensioen per jaar kan trek. Op watter een grond jy jou berekeninge? Lewende annuïteite is ook gekoppel aan groei in die mark – een jaar kan jy goed vaar en die ander vrot.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur by Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsende, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Geldsake  |  Pensioen  |  Pensioenfonds  |  Aftrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.