Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Nico van Gijsen: Pensioen oorsee belê is ondeurdag
Retirement savings golden nest egg in a businessma
Baie afgetredenes onttrek ’n onvolhoubare pensioen. Foto: iStock

Ná my rubriek twee weke gelede onder die opskrif “Dink só oor aftreegeld in dié tye” het ek sowat 300 e-posbriewe van lesers gekry.

Ek probeer sover moontlik vrae van lesers óf persoonlik óf in die rubriek te beantwoord. Wat ek weer besef het, is hoe beangs mense tans is oor hul geldsake, veral aftreegeld, waarin negatiwiteit oor alles seëvier.

Daar is ongelukkig ook diegene wat die situasie uitbuit vir eie gewin. Soos die “raad” om jou werk te bedank sodat jy jou aftreegeld kan onttrek om dit alles in die buiteland te belê. Dit is ’n ondeurdagte, onsinnige spul snert.

Kom ons neem as voorbeeld aftreegeld van R3 000 000 (dis gewoonlik die syfer vir diegene wat darem aftreegeld het). Inkomste as pensioen begin met 6% per jaar, groei met 5% inflasie en die opbrengs is 9% per jaar. Ek ignoreer beleggingskoste.

Kom ons kyk eers na die belastinggevolge. As jy bedank en jou aftreegeld onttrek, is jou belasting R927 000. Dit is wat jy vir Jan Taks gee. Dit is 31% van jou geld. Pasella.

Die meegaande grafieke maak die gevolge daarvan baie duidelik. Om dit eenvoudig te hou, werk ons met die reële inkomste, met ander woorde, dit is aangepas vir inflasie.

Die persoon wat hier sy geld in ’n lewende annuïteit belê, is gebonde aan die maksimum onttrekkingskoers van 17,5% per jaar, die ander een nié.

aftree

Grafiek 1 wys dat die persoon wat hier aftree sy ideale inkomste kan onttrek vir 20 jaar, lank voordat hy die maksimum van 17,5% bereik.

Daarna raak sy inkomste jaarliks minder, maar dit raak nooit werklik klaar nie. Die persoon wat sy geld onttrek en buiteland toe geneem het, sal ná net 15 jaar sonder geld sit.

Goed, nou is die argument dalk dat jy beter groei in die buiteland kry (wat snert is; dit is net soms beter) en dat die rand so gaan tuimel dat jy móét voordeel trek (ook twak). Maar kom ons speel saam met die argument. Wat is dan nodig?

Wel, dan sê die syfers, net om by te bly by die persoon wat plaaslik uitgetree en ’n lewende annuïteit met al sy geld aangekoop het, moet die buitelandse belegger 42,5% meer groei per jaar bewerkstellig.

Met ander woorde, 12,4% teenoor die 9% plaaslik.

aftree

Grafiek 2 wys selfs met groei van 12,4% per jaar (teenoor die 9% vir die plaaslike pensioentrekker) sal die buitelandse belegger ná sowat 21 jaar geen geld meer hê nie, teenoor die plaaslike pensioentrekker, wie se inkomste dan begin daal (weens die 17,5%-perk op sy onttrekking), maar wat nooit opraak nie.

’n Verdere punt. Die argument ten gunste van al jou geld in die buiteland is uitsluitlik gegrond op ’n veronderstelling dat die rand in waarde gaan bly val. Net daarvolgens moet die rand dus bly val teen sowat 30% per jaar. Wel, soos ons oor die jare gesien het en pas weer, die rand het ’n manier om soms sterker te staan as wat ons dink.

Boonop, om groei in die buiteland te kry moet jy in aandele belê, wat jou risiko verder verhoog. Rente is nie vergelykbaar met wat jy hier kan kry in selfs die geldmark of in effekte nie.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com. Vind hom op Twitter by @Nicovangijsen.
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Pensioengeld  |  Aftreegeld  |  Aftrede  |  Finansies  |  Spaargeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.