Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Nico van Gijsen: Só raak koronavirus jou pensioen
Hoe gaan die koronavirus jou geld vir aftrede raak?

’n Leser wil weet hoe die koronavirus – of liewer die finansiële gevolge van die virus – haar pensioen sal raak.

Dié vraag is baie wyd. Wat is, byvoorbeeld, jou pensioen? Daar is in die bedryf baie name vir die verskillende pensioen-tipe produkte, maar vir die meeste mense beteken “my pensioen” enigiets van die fonds waarin jy spaar vóór aftrede tot die fonds waaruit jy inkomste onttrek ná aftrede.

Dan is daar nog bewaringsfondse en uittreeannuïteitsfondse (UA’s). En ons moenie vergeet van diegene wat glad nie in pensioen- of UA-fondse spaar nie, maar die geld is ook bedoel vir aftrede, hul pensioen dus. Ek gaan dus enkele relevante punte uitlig wat ek meen oor al die produkte heen sny.

Die eerste punt is dat dit gaan afhang of jy lid is van ’n vastevoordeelfonds of ’n vastebydraefonds. In die eerste geval raak die korona-impak jou waarskynlik glad nie, want jou pensioen is ’n vaste voordeel wat aan jou moet uitbetaal.

’n Voorbeeld hiervan is die regeringspensioenfonds (GEPF), waar jou pensioen bereken word volgens ’n bepaalde formule, wat jou jare diens en salaris in ag neem. Dié mense is wat my betref in tye soos hierdie die beste daaraan toe.

As jou werkgewerfonds een van daardie is waar jy self die verantwoordelikheid van die beleggingsbesluite moet dra (vastebydraefondse en eie UA’s) het jy nou al die gevolge van die korona-impak ervaar. Jou fonds is nou minder werd.

Wat my bring by die tweede punt: Wat kan jy doen? As jy nog nie afgetree het nie en jy het tyd aan jou kant, doen niks. Ek het die afgelope weke hieroor geskryf. Die mark gaan draai, moenie nou onnosel goed aanvang nie. Dit is ’n tydelike terugslag, juis veroorsaak deur emosionele reaksies en paniek.

As jy reeds afgetree het en jy het nie ’n gewaarborgde lewensannuïteit nie, gaan jy die val in die mark aan jou bas voel, weet dit. As jy in ’n lewende annuïteit belê is, is jou poel geld waaruit jy ’n inkomste onttrek veel minder. Die groei wat kom, kan net werk op geld wat dan beskikbaar is. Dit wat jy getrek het, is weg.

Hopelik leer mense uit die korona­ervaring en vergeet van argumente soos “ek wil iets vir my kinders nalaat” of “as ek ’n lewensannuïteit koop, is my geld weg”. Die enigste besluit oor die tipe produk by aftrede, is: Wat is die beste om vir my lewenslank ’n inkomste te kan bied? As jy genoeg geld het wat markskommelinge kan deurstaan, kry ’n lewende annuïteit. Andersins koop ’n lewensannuïteit.

Die derde en laaste punt is, wat van mense wat nou moet aftree? Jou pensioengeld is nou min, al koop jy ’n gewaarborgde pensioen (lewensannuïteit), gaan jy nie soveel kan koop met die minder geld nie.

Afhangend van die bedrag ter sprake en faktore soos jou inkomstebehoeftes en lewensverwagting, sal ek voorstel, as jy dadelik inkomste moet begin trek hieruit, dat jy ’n lewende annuïteit aankoop.

En dan ’n bedrag geld binne die lewende annuïteit in ’n inkomstefonds belê vir inkomste vir ’n jaar en die res in groeibates.

Jy kan altyd as jy ’n bietjie groei gehad het en die rentekoerse is goed, vir jou ’n gewaarborgde pensioen aankoop. Maar, asseblief, neem die finale besluit hieroor in oorleg met ’n kundige finansiële beplanner – een plan werk nie vir almal nie.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingprak­tisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Covid-19  |  Geldsake  |  Pensioen  |  Pensioengeld  |  Koronavirus  |  Aftreegeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.