Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Nico van Gijsen: Vermy lewende annuïteite tensy...
Lees hier meer oor sogenaamde ou- teenoor nuwegenerasie-uittree-annuïteite. Foto: iStock

Kom ons kyk weer na lewende annuïteite. Daar is ’n slang in die gras wat misgekyk word. Jou inkomste uit die lewende annuïteit kan weens wetlike beperkinge afneem soos wat jy ouer word.

Net eers ’n paar algemene gedagtes oor lewende annuïteite.

Lewende annuïteite is persoonlike pensioenfondse. Jy besluit, binne wetlike perke, hoeveel pensioen jy in ’n jaar wil onttrek. Jy besluit (in samewerking, hopelik) met ’n kundige finansiële beplanner ook oor die onderliggende fondse.

Wat dit alles beteken, is dat jy die volle risiko dra. Daarom dat ek meen dat tensy jy regtig ’n groot bedrag as aftree-neseier het, jy nie in ’n lewende annuïteit moet wees nie, maar liewer in ’n gewaarborgde lewensannuïteit. (En al die aktuarisse wat ek ken, stem met my saam.)

Eintlik is die bedrag nie so belangrik nie. Dis die onttrekkingskoers wat belangrik is. As jy meer onttrek as wat jy aan groei kry, is jy op pad onder toe, of jy baie geld het of min. Die wetlike perk vir onttrekkings is tussen 2,5% en 17,5% per jaar. Skaflike groei vir ’n lewende annuïteit is so twee of drie persentasiepunte bo inflasie, wat tans sowat 4,6% is. Jy moet minder as dit onttrek as jy nie jou kapitaal wil verweer nie.

aftree

Ironies genoeg, as ek kyk na die gewaarborgde inkomste wat lewensannuïteite tans bied, dan is dit min of meer 2% tot 3% bo inflasie. Lewenslank. En jy het geen beleggingsrisiko-bekommernisse nie. Byvoorbeeld, ’n man van 60 kan nou R5 370 per maand per miljoen rand kry, wat jaarliks met inflasie styg, lewenslank gewaarborg, of R8 329 per maand gelykblywend.

Maar die slang in die gras waarna ek hierbo verwys het, het te doen met die manier waarop die berekeninge gedoen word, wat aandui of jy genoeg geld in jou lewende annuïteit het om jou te hou oor jou lewensverwagting. Dis ’n skewe som wat jou vals gemoedsrus gee.

Nico van Gijsen

Kom ons sê jou onttrekkingskoers in die eerste jaar is 7,5% (dis min of meer die algemene koers waarteen verantwoordelike mense onttrekkings maak). Dit is R75 000 op elke miljoen rand wat elke jaar styg met inflasie. Inflasie is 4,6% en jou beleggingsgroei is 6,6% per jaar.

Dan, sê die somme vir ons, is jou onttrekkings in jaar twee reeds 8%. In jaar 10 onttrek jy reeds 20% van jou geld en in jaar 14 onttrek jy al 83% waarna jou geld op is. Jy het dus geld vir 14 jaar.

Maar die som, wat almal maar maak, skep ’n vals beeld. In jaar 5 byvoorbeeld, onttrek jy al meer as 10% van jou kapitaal. En onthou jou groei is 6,6% per jaar. In jaar 11 tref jy die maksimum onttrekkingsbedrag van 17,5%. So, wat gebeur nou?

Kyk na die grafiek hierbo. Waar die algemene som aandui dat jy geld het vir 14 jaar ná aftrede en dan is dit op, kan dit nie so wees nie. Jy tref die wetlike beperking van 17,5% reeds in jaar 10 van jou aftrede. Dan is jou pensioen vir die jaar R101 879.

En hiervandaan boer jy afdraand al die pad. Net vyf jaar later het jou inkomste gedaal met bykans die helfte en is jou pensioen maar R54 123. En so halveer dit byna elke vyf jaar. Dit, terwyl inflasie ewe plesierig boontoe galop.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Geldsake  |  Pensioen  |  Aftrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.