Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Nico van Gijsen: Wat van jou UA in dié moeilike dae?
Sit jy met jou hande in hierdie moeilike tye wat deur die koronavirus veroorsaak word? Foto: Shutterstock

Kan ek my uittreeannuïteit (UA) laat uitbetaal? Dié vraag kry ek die afgelope week en dit het te doen met die finansiële gevolg wat die koronavirus vir ons gebring het. Mense verloor inkomste weens afdankings of kleinsake wat nie meer kan voortbestaan nie.

Laat ek net eers ’n bietjie perspektief bring in hierdie neerdrukkende dae met markdalings, afgraderings en “huisarres”. Ons sit midde-in ’n tydelike probleem. Dit is nie die einde van die wêreld nie. Dit is nie die einde van Suid-Afrika nie. Dit is nie jou einde nie. Dit is net ’n terugslag.

Om nou jou aftreegeld (pensioenfonds of UA) te wil laat uitbetaal (as jy sou kon), gaan jy net ’n tydelike probleem permanent maak. En jy skep ’n veel groter finansiële probleem vir jouself en die land se ekonomie vorentoe. Hoekom?

Hier is drie redes. Die wêreldwye markinsinking het ook jou aftreegeld geraak. Die waarde in jou fonds is nou veel minder as wat dit was voor korona. As jy dit nou neem, mis jy die groei vorentoe.

Jy gaan belasting betaal op die onttrekking en wel teen ’n hoër koers (tot 36% op alles bo R990 000) as vir die kontantgedeelte by aftrede.

Net R25 000 is belastingvry en nie R500 000 soos by aftrede nie. Kom ons sê jou gemiddelde belasting vir die bedrag wat jy onttrek is 25% en jou markverlies op die belegging is 20%. Dit is altesame 40% van jou aftreegeld wat jy net in die water gooi.

Dit is ook 40% minder se spaargeld waarop jy in die volgende jare beleggingsgroei – belastingvrye beleggingsgroei! – sou kon kry.

Die derde punt? Jy krimp jou aftree-neseier. Daardie neseier moet voorsien in ’n tyd van jou lewe waarin jy nou al weet jy kan nie verdien nie.

Jy sou jou geld uit ’n pensioenfonds kon onttrek as jy afgelê word, maar dink tog mooi voordat jy dit doen.

Dit sal op lang termyn beter wees om die geld in ’n bewaringsfonds te hou sodat dit beskikbaar is vir aftrede. Wat tog die doel daarvan is, is dit nie? Dit was nooit bedoel as ’n instaangeldjie in ’n tyd van finansiële krisisse nie.

Jou UA sal nie kan uitbetaal nie. Wetgewing sal eers moet verander. Die premies was aftrekbaar vir belasting, so al word wetgewing geskep om dit uitbetaalbaar te maak, sal jy dan belasting moet betaal op die onttrekking, wat presies dieselfde gevolg gaan hê as wat ek hierbo verduidelik.

Nico van Gijsen

Maar die geldnood druk, wat kán jy doen?

Jy kan die betaling van jou premies minder maak, of heeltemal ophou daarmee tot dinge beter gaan. Ten minste help dit jou nou oorleef, terwyl dit wat jy reeds gespaar het kan bly groei vir daardie eendag, wat ons weet gaan kom. En dit kos jou niks.

Ongelukkig vir diegene wat in polis­tipe-UA’s is – waarteen ek oor jare gereeld in hierdie rubriek waarsku – kan jy dieselfde doen, maar teen ’n bykomende verlies in die waarde van jou belegging. Die rede? Jy het koste en kommissie vooruit betaal, wat uit die poliswaarde gehaal sal word. En as jy dom genoeg is om dan weer met so ’n UA voort te gaan, sal jy weer vooruit kommissie en koste moet betaal.

Ons is in ’n tyd van nood. Dit verg koel koppe om nie toe te laat dat emosie ons geldbesluite dryf nie.

¦ Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingprak­tisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.

Ek wil vandag enkele riglyne aan die hand doen oor hoe jy kan keer dat die gevreesde koronavirus jou spaargeld doodmaak.

Die Covid-19-virus slaan ons en die ganse wêreld aan twee fronte: gesondheid en ekonomie. Aan die gesondheidsfront is meer as 200 000 mense oor die wêreld heen reeds besmet. Alles moontlik word gedoen om die verdere verspreiding daarvan te beperk en om te keer dat dié wat reeds besmet is, daarvan sterf.

Maar aan die ekonomiese front is almal van ons se geld op belegging reeds besmet. Die paniekverkope van bates wêreldwyd het nie een van ons met geld in ’n gediversifiseerde beleggingsportefeulje onaangetas gelaat nie. Die FTSE/JSE is reeds sowat 30% laer in randwaarde sedert die begin van die jaar. Saam met die daling in die olieprys, ook koronaverwant, is ons basies waar ons was in 2013. Kortom, ons is finansieel gesproke baie, baie siek.

Maar net soos wat die mediese wetenskap en dokters en regerings almal saamstaan en deur kennis van die virus oplossings bring om verdere verspreiding te keer en teenmiddels sal kry wat keer dat dit meer mense doodmaak, net so kan ek en jy deur kennis en deur koelkop te bly, keer dat ons beleggings ’n sekere dood sterf.

Jou beleggingsgeld is siek, maar dit is nog lank nie dood nie. Kom ons kyk na die feite en enkele riglyne vir die pad vorentoe.

Loop wyd om die twakpraatjies van diegene wat nou probeer om beleggingsvoorstelle aan jou af te smeer met beloftes, soos ek dié week gesien het, van 3% bó inflasie.

Dié fondse het nog heeltyd bestaan en as jy nie daarin is nie, is dit waarskynlik omdat jou finansiële raadgewer gemeen het die fondsbestuurder is sy of haar sout nie werd nie. Of omdat dit nie voldoen het aan jou spaardoelwit nie. In elk geval is die 3% nie ’n belofte nie, dis op sy beste maar ’n “ons probeer”.

Paniek lei tot emosionele besluite. En dit is dodelik as jy met geld werk. As jy goeie finansiële raad gekry het (jouself nie deur ’n smous op sleeptou laat neem het nie) en jou beleggingsportefeulje is saamgestel vir lang termyn en goed gediversifiseer, moenie krap daaraan nie.

Vermy “herposisionering” in hierdie stadium. Jy gaan net ’n tydelike papiersiekte terminaal maak. Ervaring oor baie jare wys dat geld, net soos gras in die Kalahari, wíl groei. Dit kort net water.

Jou spaargeld se water kom in die vorm van entrepreneurs. Entrepreneurs is mense wat hulle nie laat onderkry deur krisisse en probleme nie, wat met vindingrykheid en deursettingsvermoë ondernemings laat werk. En die beleggers wat bereid is om hulle geldelik te ondersteun, om só te help om die onderneming te ontwikkel, sodat hulle in die sukses kan deel. Ons noem dit aandelebeleggings.

Jou spaargeld se water kom ook in die vorm van batebestuurders wat soek na waarde-aandele om jou geld in te belê. Daar is ongetwyfeld geleenthede wat nou benut kan word. Weens die paniek het die pryse gedaal en is daar nou groot winskopies vir dié wat weet.

Geld groei oor tyd, nie oornag nie. Dis nou tyd om te belê. Nie om jou geld te gaan begrawe nie. Dit is nie dood nie, net siek.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico @finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen@Nicovangijsen.
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Covid-19  |  Geldsake  |  Koronavirus  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.