Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Nico van Gijsen: Yslike slaggat met pensioenfonds

Ons kyk vandag na art. 37C van die Pensioenfondswet (Wet 24 van 1956) en hoe dit jou beplanning vir naasbestaandes totaal in die wiele kan ry. Ons kyk ook na ’n onlangse hofbeslissing in dié verband deur die hooggeregshof waarin die hof die trustees van ’n fonds bietjie in die bek geruk het.

Nico van Gijsen

Vir die meeste mense is hul aftreefonds (pensioen- of voorsorgfonds) seker die grootste enkele bate wat ook voorsiening moet maak vir naasbestaandes by vroeë sterfte. Wat baie min mense egter weet, is dat jy nie die finale sê het oor wie jou aftreegeld gaan kry as jy die dag doodgaan nie. Dít sê die wet.

So, as jy een van daardie (baie) mense is wat in jou testament probeer aanwys hoe jou aftreefondsvoordele verdeel moet word by dood, kry vinnig vir jou iemand wat jou kan help met behoorlike finansiële beplanning.

Nie eens met die aanwys van ’n benoemde by jou fonds kan jy seker wees nie. Die trustees van die fonds het die finale sê.

Art. 37C(1)(a) sê uitdruklik indien ’n fonds binne 12 maande ná die dood van ’n lid bewus word van ’n afhanklike, of afhanklikes, moet die fonds die voordele (geld) aan so ’n afhanklike, of soos wat die fonds billik ag, proporsioneel aan al die afhanklikes, uitbetaal.

Ek sê weer, dit maak nie soseer saak wie jy as benoemde aangewys het nie.

’n Voorbeeld
Sorg dat jy beplan hoe jou geld verdeel word ná jou dood.

As voorbeeld, kom ons kyk na ’n hofsaak: Die oorledene, R, het ’n inter vivos-trust opgerig waarin twee van sy (volwasse) kinders, S en V, uit ’n vorige huwelik as begunstigdes aangewys is. Hulle was deels afhanklik van hom.

R is getroud met B in 2011 en in 2014 is hy dood. Hy was 53 en sy 39.

R was lid van die Fundsatwork-voorsorgfonds. Die fondswaarde by dood was ’n raps meer as R1,6 miljoen. Hy het onderskeidelik die trust en vir B benoem as begunstigdes met ’n 50%-verdeling aan elk. Die trustees van die fonds het egter teen sy benoeming besluit om ’n 100%-uitbetaling te maak aan B.

Net eers ’n opmerking van my kant.

Ek het geen twyfel as ek die besonderhede in die hofuitspraak lees, dat dit deel was van ’n finansiële plan waarin hy billikheid teenoor almal probeer nakom het nie.

Benewens die 50% van die voorsorgfondsvoordele wat hy aan die trust ten gunste van sy twee kinders begunstig het, was daar by dood ook ’n polis van R220 980 en elkeen sou 50% van die opbrengs van die trust kry.

Vir B het hy voorsiening gemaak met die 50% van sy voorsorgfonds (net so oor die R800 000), ’n sterftepolis van R3 920 000 en ’n verdere polis van R441 960. ’n Begrafnispolis van R10 000 is ook aan haar uitbetaal.

Die trustees van die fonds het nietemin besluit dat haar eis om onderhoud voorkeur sal geniet voor die eis van die trust (die twee kinders) en daarom is 100% van sy voorsorgfonds ook aan haar toegeken.

Die saak het voor die pensioenfondsberegter beland, wat beslis het die trustees van die fonds het nie behoorlik ondersoek ingestel nie en hul diskresie onnodig beperk. Dit is toe terugverwys na die fonds. Die fonds het egter weer tot dieselfde slotsom gekom.

Vandaar die hofsaak wat ingedien is ingevolge die Wet op Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Wet 3 van 2000).

Dit raak ’n te lang storie, daarom net kortliks die beslissing van die hof. Die hof het Fundsatwork se trustees gekritiseer dat hulle nie alle tersaaklike feite oorweeg het nie en dit toe boonop vererger het deur dieselfde besluit weer te neem nadat die beregter dit terugverwys het.

Die hof het dit oorweeg om self die besluit te neem, maar dit toe na Fundsatwork terugverwys met die opdrag om wel spesifieke feite en omstandighede in ag te neem.

Die les hierin?

Hopelik sal ’n paar fondstrustees nou regop sit en besef burokratiese arrogansie gaan nie meer geduld word nie.

Ek sê dit gereeld en ek sê dit weer: Kry ’n kundige finansiële beplanner om jou te help met jou finansiële beplanning.

Daar is ’n legio slaggate soos dié een.

Die trustees van jou aftreefonds het die finale sê oor wat met jou aftreegeld gaan gebeur as jy sterf voor aftrede. Dit maak nie saak hoe jy bemaak in jou testament nie. Of selfs wie jy as benoemde(s) aanwys nie.

Ons wil almal ons kinders of naasbestaandes regverdig laat voordeel trek uit ons bates ná dood. Verdeel daardie bates waaroor jy beheer het, dit wat deel van jou boedel vorm, tussen dié wat nie so afhanklik is van jou nie en begunstig jou aftreevoordele (dit vorm nie deel van jou boedel nie) aan werklike afhanklikes, veral minderjariges.

Ek sal dit ook ernstig oorweeg om dan ’n trust te gebruik.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.


Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Aftreebeplanning  |  Pensioen  |  Aftrede  |  Trust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.