Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Nuwe reëls oor aftreegeld is goeie nuus vir jou

Drie nuwe regulasies van die Wysigingswet op Pensioenfondse het op 1 Maart vanjaar in werking getree. Hier is alles wat jy daaroor moet weet.

aftrede
Die koste van annuïteite word verlaag deur die nuwe regulasies wat dit moontlik maak om jou geld binne jou pensioenfonds te hou.

Heelwat aftreefondse voldoen reeds jare lank aan minstens die eerste van die drie regulasies, wat beteken dit sal nie vreemd voel vir die meeste werknemers nie.

Wat nuut is, is dat jy nou jou geld binne jou aftreefonds kan hou wanneer jy van werk verander en selfs wanneer jy aftree. Dié besluit kan jou heelwat aan koste bespaar, wat uiteindelik baie meer geld in jou eie sak los vir jou aftrede.

Johan Gouws, hoof van institusionele advies by Sasfin Wealth, sê die nuwe regulasies is die uitvloeisel van ’n jare lange proses van aftreehervorming waarvan die doel is om Suid-Afrikaners finansieel in ’n beter posisie ná aftrede te plaas.

Die hervormings is ook daarop gemik om alle soorte aftreefondse – pensioenfondse, voorsorgfondse en uittreeannuïteite (AU’s) – uiteindelik onder dieselfde wetgewende sambreel te bring.

  

Wat is die 3 nuwe regulasies?

  

  • Regulasie 37: Alle aftreefondse moet nou ’n weldeurdagte verstek-beleggingstrategie hê wat toepaslik is vir elke ouderdomsgroep. Dit beteken jou geld word outomaties in ’n sekere portefeulje belê, tensy jy aktief iets anders kies. Baie groot fondse het twee of drie opsies, wat wissel van ’n aggressiewe portefeulje vir jonger mense wat tyd aan hul kant het en dus wisselvalligheid kan verduur ter wille van beter langtermyngroei, tot ’n baie konserwatiewe portefeulje vir mense wat aftrede nader en hul kapitaal wil beskerm. Kleiner fondse wat net een opsie het, word nie hierdeur geraak nie.
  • Regulasie 38: Alle pensioenfondse moet nou ’n verstek-bewaringstrategie hê, dus ’n fonds waarin jy jou aftreegeld kan bewaar as jy van werk verander. Let wel, jy mág steeds jou geld onttrek of oordra na ’n ander bewaringsfonds. As jy geen keuse uitoefen nie, bly dit in jou pen­sioenfonds se bewaringsfonds.
  • Regulasie 39: Alle pensioenfondse moet nou ’n verstekopsie hê waardeur daar ná aftrede vir jou ’n pensioen gekoop kan word – dus ’n lewende óf lewensannuïteit. Dié verstekopsie is nié – soos die ander verstekopsies – outomaties tensy jy ’n keuse uitoefen nie. Jy móét aktief kies om dit te benut.

    

Advies nou verpligtend

  

Wat belangrik is van al drie nuwe regulasies, is dat alle gelde en heffings “maklik verstaanbaar, billik, deursigtig en mededingend” moet wees, in ag genome die aard van die portefeuljes, sê Gouws.

Jou aftreefonds moet nou ’n voorligtingsdiens instel waardeur jy ingelig word oor die opsies wat jy met jou aftreegeld het sodat jy ’n meer ingeligte besluit daaroor kan neem. Die diens moet beskikbaar wees wanneer jy bedank en wanneer jy aftree, maar ook deurgaans sodat jy aktief kies waarin jy belê terwyl jy werk.

Katherine Barker, hoof van FundsAtWork van Momentum, glo die nuwe regulasies is ’n tree in die regte rigting.

“Ons navorsing wys baie lede van aftreefondse wat ons administreer, het nie ’n persoonlike finansiële adviseur nie. Hul enigste toegang tot finansiële advies is dus deur hul aftreeskema se finansiële adviseur. Vir dié lede sal die voorligtingsdiens van ontsaglike waarde wees,” sê Barker.

   

Regulasie 37: Verstek-beleggingsopsies terwyl jy werk

   

Andrew Davison, hoof van advies by Old Mutual Corporate Consultants, sê die verstek-beleggingsopsie is niks nuuts nie. Baie min fondse het nié so ’n strategie nie. Die regulasie maak dit net duideliker wat die vereistes is waaraan verstekopsies moet voldoen. Een van die belangrikste aspekte van die regulasies is dat die opsies se koste en administrasiegelde goeie waarde vir geld moet wees.

“Die beleggingsportefeulje moet ook aktiewe en passiewe beleggingstrategieë in ag neem. Die verstekportefeuljes moet op ’n deurlopende grondslag deur aftreefondse hersien en gemonitor word,” sê Gouws.

  

Regulasie 38: Verstek-bewaring as jy van werk verander

  

Dié opsie is nuut. Jy kan voortaan van werkgewer verander, maar die geld in jou huidige aftreefonds bewaar, sê Davison.

Dit beteken nie jy móét dit daar hou nie – jy kan dit steeds, soos voorheen, oordra na jou nuwe werkgewer se aftreefonds (indien jou nuwe werkgewer een het) of na ’n bewaringsfonds by ’n ander batebestuursfirma oordra.

“Dis belangrik dat jy jou huiswerk oor die opsies doen,” sê Davison. “Gee veral aandag aan koste.”

Dis belangrik dat jy jou huiswerk oor die opsies doen. Gee veral aandag aan koste.
Andrew Davison van Old Mutual

Een van die vereistes van die verstek-bewaringsopsie is juis dat dit lae koste moet dra. Aanvangsgelde mag ook nie gehef word wanneer jy verander van ’n bydraende lid van die aftreefonds in ’n opbetaalde lid wie se geld net in die fonds bewaar word nie.

Wanneer jy van werk verander, mag jy steeds jou volle pensioenfondsbedrag onttrek, maar dit word alom as ’n baie slegte idee beskou. Onttrekking is die enkele grootste rede waarom mense wat hul hele lewe lank werk, nie gemaklik kan aftree nie, volgens verskeie studies wat oor die jare heen gedoen is, onder meer Sanlam se Benchmark-peiling.

Nog ’n faktor om in ag te neem, is dat jy net R25 000 belastingvry kan onttrek indien jy van werk verander – op die res word jy belas teen ’n koers van tot 36%, na gelang van die bedrag.

Hoewel jy jou geld in die aftreefonds mag bewaar, mag jy nie meer tot die fonds bydra nie. Geen aftrekkings vir byvoorbeeld risikodekking mag gemaak word nie.

  

Regulasie 39: Verstek-opsies as jy aftree

  

Wanneer jy aftree, moet jy kragtens wet jou aftreefonds annuïtiseer, oftewel vir jou ’n pensioen koop. (Jy mag met aftrede of aflegging of as jy weens ongeskiktheid uit jou werk tree, tot R500 000 van jou pensioenfondsgeld belastingvry kontant onttrek, mits dit nie meer as ’n derde van jou fondswaarde is nie.)

Jy het die opsie om ’n beleggingsgekoppelde annuïteit te koop waaruit jy jaarliks tussen 2,5% en 17,5% van jou kapitaal mag onttrek, ook bekend as ’n lewende annuïteit.

Nog ’n opsie is om ’n gewaarborgde annuïteit te koop wat vir jou ’n voorafbepaalde, vasgestelde bedrag per maand betaal vir so lank jy leef.

Daar is ook enkele kombinasieprodukte op die mark.

“Dit is ’n kritieke besluit vir jou aftrede, so jy moet jou tyd vat om dit versigtig te oordink. Kry professionele advies as jy onseker is wat die beste opsie vir jou is,” sê Davison.

Gouws verwag dat die meeste fondse twee verstekopsies sal hê, naamlik ’n lewende en ’n lewensannuïteit. “Lede sal aktief die ‘in-opsie’ moet kies vir die fonds se verstek-annuïteitsopsie. Die verstek-annuïteitsopsie kan óf ‘binne’ of ‘buite’ die fonds wees, afhangend van die beleggingsplatform wat vir die fonds beskikbaar is en die verstekstrategie(ë) wat die fonds kies.”

Gouws verduidelik die lewende annuïteit moet beteken dat jy bly binne die verstek-beleggingsportefeulje. “Dit sal lede in staat stel om ’n gladde oorgang na hul aftrede te maak, want hulle hoef dan nie hul portefeuljes fundamenteel te verander of nuwe beleggingstrategieë te kies nie.”

Een van die grootste voordele volgens Gouws is juis dat mense waarskynlik minder aan koste sal betaal. “Lede sal ook die risiko van swak tydsberekening in die mark kan vryspring, want die fonds sal ’n eenheidsoordrag van die beleggingsportefeulje na die fonds se verstek- lewende annuïteit kan doen sonder om uit die mark te beweeg (deur te verkoop) en dan weer tot die beleggingsmark toe te tree.”

Vir die lewensannuïteitsopsie mag die aftreefonds ’n voorafgekose lys van lewensversekeraars beskikbaar stel. Kwotasies kan vir die lid ingewin word. Met lewensannuïteite is baie faktore ter sprake, onder meer of voorsiening gemaak word vir een lewe of vir ’n paartjie; of die inkomste vas bly of styg (gewoonlik met die inflasiekoers), en of voorsiening gemaak word vir ’n kapitaaluitbetaling wanneer die hooflid sterf.

“As ’n lid nie die fonds se verstekopsie kies nie, kan hulle hul aftreevoordele in enige derdeparty- lewende annuïteit en/of lewensannuïteit van hul keuse belê,” sê Gouws.

Die keuse is baie belangrik aangesien jy van ’n lewende annuïteit na ’n lewensannuïteit kan oorskakel, maar nie andersom nie. As jy egter met ’n lewende annuïteit begin en later die sekerheid van ’n lewensannuïteit wil probeer, begin jy met heelwat minder kapitaal en gaan jy ’n baie kleiner pensioen kan koop as wanneer jy van meet af aan ’n lewende annuïteit kies.

Navorsing wat die versekeraar Just verlede jaar gedoen het, wys dat baie mense te veel waarde daaraan heg om iets te kan nalaat, wat net moontlik is met ’n lewende annuïteit. Daarteenoor het die meerderheid mense eintlik te min aftreegeld om hul uitgawes gemaklik te kan dek.

Wessels sê die keuse wat mense by aftrede maak, sal bepaal of jou inkomste die res van jou lewe hou en of jy later op ’n staatstoelae of ondersteuning van jou familie – of albei – sal moet staatmaak.

Meer oor:  Pensioen  |  Lewensannuïteit  |  Aftrede  |  Pensioenfondse  |  Aftreebeplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2176,76 (1034)
  • Top 40 50134,22 (-73968)
  • All Share 56220,41 (-67482)
  • Resource 10 43812,73 (-19543)
  • Financial and Industrial 30 76180,46 (-139445)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.