Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Nuwe regulasie 28 mik net vir staat-infrastruktuur

Die infrastruktuurprojekte waarin pensioenfondse sal kan belê kragtens die konsepwysiging van regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse, blyk spesifiek staatsprojekte te wees.

Staatsinfrastruktuur is nou 'n prioriteit vir beleggings. Foto: Getty Images

Dit blyk uit die definisie van “infrastruktuur” kragtens die wysigings wat lui: “Infrastruktuur het die betekenis wat daaraan toegeken word in afdeling 1 van die Wet op Infrastruktuurontwikkeling (wet 23 van 2014).”

LEES OOK: 45% vir infrastruktuur: Só sien aftreebedryf dit

Die doel van dié wet is om voorsiening te maak vir die fasilitering en koördinering van openbare infrastruktuurontwikkeling wat van groot ekonomiese of maatskaplike belang vir die land is. Dit maak ook voorsiening vir die presidensiële kommissie vir infrastruktuur-koördinering en sy strukture wat die funksies moet verrig waarvoor in die wet voorsiening gemaak word. Die kommissie tree op deur middel van sy raad.

Die raad se funksies sluit in om die ontwikkeling, instandhouding, toepassing en monitering van die nasionale infrastruktuurplan te koördineer.

Openbare infrastruktuur word omskryf as infrastruktuur wat deur die staat besit word of infrastruktuur is waarvoor ’n openbare-private-vennootskap gesluit is of ’n konsessie-ooreenkoms bestaan.

Die doel van die wet is die identifisering en inwerkingstelling van strategiese, geïntegreerde projekte wat van beduidende ekonomiese of maatskaplike belang vir die land is of wat streekintegrasie in Afrika vergemaklik en sodoende uitvoering gee aan die nasionale infrastruktuurplan.

Afdeling 1 van die Wet op Infrastruktuurontwikkeling bevat die definisies vir die doeleindes van dié wet: installasies, strukture, geriewe, stelsels, dienste of prosesse met betrekking tot die aangeleenthede wat in bylae 1 gespesifiseer word en wat deel uitmaak van die nasionale infrastruktuurplan.

Bylae 1 van die wet handel oor openbare installasies, strukture, geriewe, stelsels, dienste of prosesse ten opsigte van projekte wat aangewys kan word as strategiese, geïntegreerde projekte.

’n Lang lys van die tipe openbare infrastruktuur wat bedoel word, word gegee:

  • Nasionale en internasionale lughawens;
  • Kommunikasie- en inligtingstegnologie-installasies;
  • Onderwysinstellings;
  • Oordrag en verspreiding van elektrisiteit;
  • Gesondheidsorggeriewe;
  • Menslike nedersettings en verwante infrastruktuur en geriewe;
  • Ekonomiese geriewe;
  • Myne;
  • Olie- of gaspypleidings, raffinaderye of ander installasies;
  • Hawens;
  • Kragstasies of installasies om enige energiebron in te span;
  • Produktiewe landelike en landbou-infrastruktuur;
  • Openbare paaie;
  • Openbare vervoer;
  • Spoorweë;
  • Rioolwerke en sanitasie;
  • Afval-infrastruktuur; en
  • Waterwerke en -infrastruktuur.

Die wet stippel uit hoe ’n projek of groep projekte kwalifiseer as ’n strategiese, geïntegreerde projek, byvoorbeeld projekte wat die kommissie insluit in die nasionale infrastruktuurplan.

Wanneer die kommissie iets as ’n strategiese, geïntegreerde projek aanwys, moet hy bepaal of die staat die vermoë het om die projek uit te voer en of ’n deel of die hele projek op tender geplaas moet word of deur ’n ander vorm van verkryging aangebied moet word kragtens die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies.

Meer oor:  Regulasie 28  |  Begroting2021  |  Infrastruktuur  |  Pensioenfondse  |  Beleggings  |  Pensioene
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.