Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
OBK oor Eskom-idee: ‘Ons sal eers met GEPF praat’
Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies en voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK). Foto: Deon Raath

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) verseker hy sal nie Eskom-effekte oorskakel in aandele sonder om met sy kliënte – dus grootliks die staatspensioenfonds (GEPF) – te konsulteer nie.

Deon Botha, hoof van korporatiewe sake by die OBK, het op navrae gereageer nadat Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies, Woensdag op ’n nuuskonferensie gesê het die tesourie onderhandel met die OBK om die R10 miljard se Eskom-effekte waarin die OBK belê het, in aandele om te skakel.

Dit sal die OBK namens sy kliënte ’n aandeelhouer in Eskom maak, maar beteken die opbrengs op die effekte wat die OBK tans verdien, sal wegval. Indien Eskom ooit weer winsgewend word, sal die OBK dividende kan verdien.

Botha sê die OBK het in pas met “die mandaat van sy kliënte” in Eskom-effekte belê.

“As die OBK genader word oor sy Eskom-belegging, sal die verskillende opsies intern bespreek word, waarna dit verder met sy kliënte bespreek sal word.

“Ons moet daarop wys dat ’n besluit oor ’n volhoubare opsie in konsultasie met kliënte geneem sal word en in pas sal wees met kliënte se beleggingsmandate en die OBK se beleggingsprosesse, met die oog op die volhoubare behoud van en groei in waarde vir kliënte op lang termyn.”

Botha se reaksie impliseer dat die OBK nog nie amptelik deur die tesourie genader is met die voorstel nie. Dis in teenstelling met wat Gungubele, wat ook voorsitter van die OBK-direksie is, gesê het oor gesprekke wat reeds begin het.

Botha het nog nie gereageer op ’n navraag om uitsluitsel hieroor te gee nie.

Enige sinspeling dat voorstelle of versoeke oor beleggings gedoen word sonder dat aan die formele prosesse van die OBK voldoen word, sal die oë laat rek.

Staatsamptenare en afgetrede staatsamptenare vrees nou al jare lank dat die OBK – wat meer as R2 000 miljard se bates bestuur – as ’n spaarvarkie vir individuele en politieke belange gebruik word.

Die Mpati-kommissie van ondersoek plaas tans die soeklig op die OBK se beleggingsprosesse ná verskeie omstrede beleggings in private maatskappye, soos Ayo Technology Solutions en selfs Steinhoff.

Lees ook: Gebeure by OBK weer Maandag onder die loep

Die OBK het vantevore geweier om in die Suid-Afrikaanse Lugdiens te belê toe dié die batebestuurder genader het.

Adamus Stemmet van die Vereniging vir die Monitering en Voorspraak van Staatspensioene (AMAGP) sê die vereniging is sterk gekant teen die Eskom-voorstel omdat dit neerkom op die OBK en die regering se “misbruik van geld wat aan werkers en pensioenarisse behoort”.

“Watter opbrengs kan aandele in ’n bankrot Eskom met sy skuld van meer as R420 miljard hê?”

Die energiekenner Ted Blom waarsku dat Eskom vir die volgende drie jaar en langer steeds yslike verliese verwag. Hy is nie oortuig die Eskom-direksie het ’n werkbare omdraaiplan nie.

Lees ook: OBK kry dalk Eskom-aandele: Winskopie of verlies?

Benewens die GEPF is die Werkloosheidsversekeringsfonds en die Vergoedingsfonds kliënte van die OBK.

Gungubele het op 1 Februarie saam met die res van die OBK se direksie bedank nadat ’n fluitjieblaser bewerings gemaak het dat hulle by korrupte transaksies betrokke was. Hulle ontken die bewerings, maar het Tito Mboweni, minister van finansies, gevra om hulle te laat gaan omdat die verdagmaking sleg is vir die OBK.

Volgens die begrotingsoorsig gaan ’n nuwe direksie binne die volgende weke aangewys word, maar die huidige direksie bly tot dan aan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.