Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
OBK-‘plaas’: Klag ingedien oor viersyfer-wins

Die waarde van die grond wat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) verlede jaar buite Klerksdorp gekoop het, het binne drie jaar met meer as 3 700% gestyg as die munisipale waardasie van dié grond as riglyn gebruik word.

Syfers wat die landbou-organisasie Saai verskaf het, wys die twee stukke grond tussen Klerksdorp en Stilfontein, waarin die OBK in Junie verlede jaar ’n 60%-belang teen R586,5 miljoen gekoop het, is in onderskeidelik 2016 en 2018 deur munisipale waardeerders teen R25,5 miljoen gewaardeer.

’n Lid van Saai, wat die belange van familieboere beskerm, het Donderdag ’n klag oor die transaksie by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria ingedien. Die saaknommer is ook aan die Valke se eenheid vir ernstige misdaad deurgegee.

k

Boonop is dieselfde grond in 2007 vir nagenoeg R18,75 miljoen aan die eiendomsontwikkelaar Isago@N12 Development verkoop. Die een stuk grond is vir R10 miljoen verkoop en die ander een vir R18,75 miljoen.

Op die 2016-’17-waardasierol van die Matlosana-munisipaliteit (Klerksdorp) is die een eiendom op R16,55 miljoen gewaardeer, en die ander een is op die 2018-’19-waardasierol op R8,97 miljoen gewaardeer, volgens Saai se inligting.

Isago het dus ’n allemintige wins behaal op die verkoop van die grond aan die OBK wat dit namens die staatspensioenfonds (GEPF) as deel van sy mandaat vir ongenoteerde eiendomsbeleggings gekoop het.

Die OBK regverdig die bedrag op grond van ’n onafhanklike waardasie en ’n stadsbeplanningsverslag.

LEES OOK: Peperduur plaas: OBK sê hy wil dorp bou

Hoewel die grond nog as landbougrond gesoneer is, is dit strategies geleë tussen Klerksdorp en Stilfontein, en word ’n groot gemengde stedelike ontwikkeling daarop beplan. Voorstanders van die projek voer aan dat ’n paar nuwe mynontwikkelings vir die omgewing beplan word, wat tot ’n sterk vraag na behuising asook kantoorruimte en nywerheidseiendom sal lei.

’n Ou advertensiebord van die eiendomsontwikkelaar Isago@N12 Development langs die N12 in Klerksdorp. Isago het verlede jaar ’n 60%-belang in grond wat hy in 2007 vir minder as R20 miljoen gekoop het, vir R586,5 miljoen aan die staatspensioenfonds verkoop. Foto: DA

Die langtermynbeplanning van die Matlosana-munisipaliteit voorsien dat Klerksdorp en Stilfontein mettertyd een groot stedelike gebied sal word. Planne hiervoor is al sedert 2008 aan die gang, volgens ’n voorlegging aan internasionale beleggers wat Netwerk24 te siene gekry het.

Hiervolgens was Isago toe al deur die Matlosana-munisipaliteit as voorkeurdiensverskaffer ingevolge sy verkrygingsprosedures aangestel om die ontwikkeling te behartig.

Ná die OBK se onlangse transaksie hou ’n hersaamgestelde Isago Holdings steeds ’n 40%-belang in die grond.

Jaco Engelbrecht, ’n deeltydse boer en onderwyser van Koffiefontein, wat maandeliks tot sy pensioen in die GEPF bydra, het die klag oor die jongste transaksie ingedien.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, het gesê daar is ’n 2 198%-verskil tussen die waardasiepryse en die prys waarteen die GEPF die grond gekoop het.

“Die GEPF is ’n entiteit wat staatsamptenare se aftreegeld eerlik en verantwoordelik moet bestuur. Om so ’n reuse-eskalasie vir die transaksie te betaal, kan vir seker nie as eerlik óf verantwoordelik beskou word nie,” het Rossouw in ’n verklaring gesê.

Isago Holdings het volgens die titelakte van die transaksie die 40%-belang in die grond teen nul rand ontvang. Op grond van die OBK-transaksie is sy belang dus nou R340 miljoen werd, het Rossouw gesê.

Dr. Martin Khunou, direkteur van Isago, het nog nie geantwoord op navrae wat vroeër die week al oor die transaksie aan hom gestuur is nie.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, het intussen ook tot die protes oor die transaksie toegetree en gesê die DA het vrae aan Tito Mboweni, minister van finansies, gestuur om die transaksie te ondersoek en te verklaar. Selfs as toekomstige ontwikkeling op die grond beplan word, waaroor daar twyfel is volgens Hill-Lewis, is dit moeilik om die prys te regverdig, het hy gesê.

Boonop het die twee beleggingsmaatskappye waaruit Isago Holdings bestaan elkeen net een direkteur. Die firmas is Anglo Saxon Developments en Moedi Bosele Investors.

Hill-Lewis wou ook weet hoe die Suid-Afrikaanse Nasionale Militêreveteranevereniging betrek is. Dié vereniging het via Isago Holdings ’n 1%-belang in die grond gekry.

Hill-Lewis het gesê hy gaan ook ’n brief skryf aan Vuyo Hako, waarnemende hoof van die OBK, vir meer duidelikheid oor die transaksie, die waardasie en die grondslag waarop die begunstigdes gekies is.

Meer oor:  Klerksdorp  |  Plaas  |  Gepf  |  Pensioenfondse  |  Obk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.