Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Pensioen-bydraes: Hulp vir werkgewers in nood

Werkgewers wat in finansiële nood verkeer weens die Covid-19-pandemie en dus nie hul volle bydrae tot pensioenfondse vir werknemers kan betaal nie, kan tydelike verligting kry.

Werkgewers kan ’n vergunning kry met die betaling van pensioenbydraes, maar om net op te hou betaal, is ’n ernstige oortreding van die wet. Foto: iStock

Deirdre Phillips, vennoot van die regsfirma Bowmans, verwys in ’n verklaring na die kommunikasie wat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) Donderdag hieroor aan aftreefondse uitgereik het.

Die FSCA sê die finansiële nood wat die pandemie vir sekere werkgewers en hul werknemers meebring, is onder sy aandag gebring deur aftreefondsbedryfsinstellings en -administrateurs.

Luidens sy kommunikasie moet die raad en trustees van aftreefondse hul bestaande aftreefondsreëls vir sulke situasies toepas. Aftreefondse wie se reëls nie voorsiening maak vir sulke situasies nie, moet dit met die betrokke werkgewers bespreek en dringend by die FSCA aansoek doen vir ’n wysiging aan die reëls.

Phillips sê dit kan werkgewers in finansiële moeilikheid help om tydelike verligting te kry.

“Mits hierdie werkgewers dringend met die betrokke aftreefondse ooreenkom oor reëls om betalings tydelik op te skort of uit te stel en dit by die FSCA indien, sal hulle nie deur vervolging in die gesig gestaar word weens die nienakoming van die Wet op Pensioenfondse nie.”

Sy sê wel dit is belangrik dat aftreefondse seker maak werkgewers betaal steeds premies vir lewensversekering en ongeskiktheid ten volle sodat dié voordele nog ontvang kan word.

Art. 13A van die Pensioenfondswet vereis dat die volle bydrae tot die aftreefonds van werkgewers binne sewe dae ná maandeinde ontvang word.

Phillips sê nienakoming is ’n strafregtelike oortreding en elke direkteur van ’n maatskappy wat betrokke is by die finansiële bestuur, kan persoonlik aanspreeklik gehou word vir die betaling van die bydraes.

Die wet maak voorsiening vir ’n boete van tot R10 miljoen of tronkstraf van tien jaar of albei vir so ’n oortreding.

Werkgewers en aftreefondse moet dus onmiddellik op die riglyne van die FSCA reageer.

Aftreefondse moet lede binne 30 dae nadat so ’n versoek van ’n werkgewer ontvang is, daarvan in kennis stel. Die voorgestelde wysiging aan reëls sal ook aan werknemers gekommunikeer moet word.

“Gegewe die ernstige gevolge van nienakoming van art. 13A, sal die kommunikasie van die FSCA ongetwyfeld verwelkom word deur werkgewers in finansiële nood, veral onder omstandighede waar maatskappye dit oorweeg om salarisse of poste te sny.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Fsca  |  Pensioenfondse  |  Covid-19  |  Aftreebeplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.