Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Pensioen moet SA mense só kan help, sê DA-LP

Diegene wat mense nie wil toelaat om hul pensioenfondse te gebruik om uit hul finansiële verknorsing te kom nie, beskerm net hul eie belange, sê die DA-LP dr. Dion George.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za. Foto: Wikus de Wet

Hy stel voor dat die Wet op Pensioenfondse gewysig word sodat pensioenfondse waarborge aan lede kan verskaf vir lenings om hulle deur die finansiële gevolge van Covid-19 te kry, tot ’n maksimum van 75% van waarde van die betrokke lid se belang in die fonds.

Met so ’n waarborg in die hand sal lede ook langer periodes of selfs uitstel vir die terugbetaling van die lenings kan beding. Tans word sulke waarborge net toegelaat vir die koop van vaste eiendom, maar George wil hê dié beperking moet opgehef word.

Die parlement se staande komitee oor finansies sal na verwagting dié week voorleggings van belanghebbendes aanhoor, waarna ’n verslag daaroor na die Nasionale Vergadering sal gaan vir ’n debat.

George sê byna 500 belanghebbende partye het reeds vir hom kommentaar daaroor gestuur. “Die meeste gewone mense hou daarvan, maar die nasionale tesourie en die pensioenfondsbedryf nie.”

Die kwessie is ook tans op die sakelys van die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac), maar daar is sover weinig vordering.

Volgens George is kritici min begaan oor die lot van gewone mense en beskerm hulle net hul eie belange. “Die pensioenfondsbedryf wil net die bates beskerm sodat hulle dit kan belê en geld daaruit verdien. Hulle sien nie gewone mense nie en neem eenvoudig aan dat mense nie hul eie geld kan bestuur nie.

“Die regering wil pensioenfondse gebruik vir infrastruktuurontwikkeling, waarteen ek nie as sodanig gekant is nie, maar wil die bates dus beskerm sodat die regering dit as hefboom kan gebruik daarvoor.”

Mike Schüssler, hoofekonoom van economists.co.za, meen dit maak sin om pensioenfondswaarborge vir vaste eiendom te gebruik, want dit help die lid om bykomende bates te bekom. Hy is egter skepties oor die uitbreiding daarvan vir ander doeleindes.

“Pensioenfondsbeleggings is gemik op die lang termyn. As die voorstel aanvaar word, sal baie mense lenings aangaan, want hulle is in die moeilikheid.”

Schüssler sê dít kan tot ’n groot uitvloei van geld lei as lede vasbrand met die terugbetaling.

“Dit stel net die krisis uit tot wanneer mense oud is en hul pensioen te min is. Hulle het nou nog die vermoë om te woeker om uit die moeilikheid te kom, maar wanneer hulle oud is, is die moontlikhede beperk.”

Schüssler sê toegewings kan wel oorweeg word vir mense wat afgelê is of hul ondernemings weens die impak van Covid-19 moes sluit, maar nie vir diegene wat steeds ’n werk het “en ’n groter kar wil hê nie”. Hy meen dit is in belang van die land en sy mense om pensioenfondse te beskerm.

Volgens Schüssler is tot 40% van die regering se skuld aan pensioenfondse. ’n Skielike, groot uitvloei van geld kan selfs die land se geldmarkte ontwrig.

Hy meen dit sou beter wees om beperkte onttrekkings toe te laat met vrystelling van belasting.

George sê egter die hele idee is dat lede wat gewaarborgde lenings kry dit terugbetaal. Om te aanvaar dat die oorgrote meerderheid dit nie sal doen nie en die waarborge dus opgeroep sal word, is om net op een, onwaarskynlike en ekstreme moontlikheid te fokus.

Hy sê die trustees van elke pensioenfonds sal steeds moet besluit of die spesifieke fonds sulke waarborge kan uitreik en tot op watter persentasie. Daarbenewens sal lenings net toegestaan kan word as dit aan die Nasionale Kredietwet voldoen. “Dis eers as ’n lid dié hekkies kan oorsteek, dat hy vir die lening en dus die waarborg kwalifiseer.”

Die pensioenwaghond Pensioenbeskermer meen egter ’n wetswysiging is onnodig om pensioenfondslede te help. Die uitvoerende hoof, adv. Ig Bredenkamp, het in ’n brief aan die Registrateur van Pensioenfondse gevra vir ’n tydelike vrystelling vir pensioenfondse van wetsbeperkings, sodat hulle self lenings vir meer as net vaste eiendom aan lede kan toestaan.

“Ons stel voor dat dié lenings nie sekuriteit benodig nie en dat dit nie meer as drie keer die lid se netto maandelikse inkomste moet wees nie, onderhewig aan ’n maksimum van 50% van sy beskikbare pensioenvoordeel.”

Die voorstel is egter verwerp en Pensioenbeskermer oorweeg dit volgens sy voorsitter, adv. Anton Alberts, om die kwessie in die hof op hersiening te neem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.