Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Pensioen vir Eskom: Cyril sê moenie bang wees nie

Pres. Cyril Ramaphosa het pas die sterkste aanduiding tot nog toe gegee dat pensioenfondse wel ingespan gaan word om reddingsboeie aan onder meer Eskom te verskaf.

Ramaphosa het Dinsdag met die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) in Kaapstad gepraat. Volgens Ramaphosa is Suid-Afrikaners “nie so goed” met spaar nie en pensioenfondse is die hoofbron van beskikbare geld om Eskom te help.

Eskom se skuldlas dobber bo R450 miljard.

Pres. Cyril Ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Felix Dlangamandla

“Jy moet gaan na die bron van beleggings. Waar kan ons finansiering bekom? Ons het nie meer die vermoë om nog geld (vir Eskom) te leen nie,” het Ramaphosa in antwoord op ’n vraag gesê.

Die vakverbond Cosatu het onlangs voorgestel dat die staatspensioenfonds (GEPF) deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) sowat R250 miljard van Eskom se skuld moet oorneem.

Verskeie ander vakbonde het sedertdien gesê hulle ondersteun nie die plan nie.

Ramaphosa het gesê hy verstaan hoekom baie mense bekommerd is oor die idee dat hul pensioen gebruik word om te belê in ’n staatsonderneming wat ’n verlies ly. Maar hy sê Eskom is midde-in ’n omkeerplan en dat die geld in ’n “hernude, hervormde, nie-korrupte” Eskom belê sal word.

Ramaphosa het verwys na die voorgeskrewe bates van die apartheidsera toe maatskappye gedwing is om 10% van hul geld in regeringsprojekte te belê. Dié plan is in 1958 van stapel gestuur.

“Daardie geld het regstreeks Eskom, Sasol en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) gebou. Dit het eers in 1989 gestop.”

Ná 1994 het private maatskappye aangehou belê in sogenaamde “alternatiewe beleggings”, wat as ontwikkelingsprojekte gesien kon word, soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), maar dit was nooit meer as 2% van die volle waarde van hul portefeulje nie.

“Waar is die geld in ons land?” het Ramaphosa gevra. “In ons pensioenfondse. Die Reserwebank beraam dat meer as R8 000 miljard in pensioenfondse belê is. Kan jy jou indink as 10% daarvan na ander beleggings gegaan het – dis R800 miljard vir Eskom en waterprojekte.”

Volgens Ramaphosa sal ’n hernude Eskom wat in drie dele verdeel is, die moeite werd wees om in te belê.

“Pensioenfondse moenie te bang wees nie, ons het ’n Eskom-pad vorentoe. Ons wil ook die private sektor kry om hul geld in Eskom te sit, want ons moet vertroue herbou.” Fin24

Meer oor:  Eskom  |  Cyril Rama­Phosa  |  Staatsondernemings  |  Gepf  |  Pensioenfondse  |  Voorgeskrewe Bates  |  Obk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.